Van kinders en al daai
Van kinders en al daai
Deur PG Jonker
Hierdie ding van kinders groot maak, Eisj!
My oudste is nou 18 jaar oud. Die law sê hy is nou ‘n grootmens, maar ek het gedink hy moet maar nog ‘n bietjie groei. Noudat hy ‘n bestuurderslisensie en toegang tot wiele het, het daar ‘n nuwe wêreld oopgegaan.
Toe hy jonger was het ons vreeslik mooi gekyk na wat hy op die TV kyk. Hom probeer beskerm teen al die goed wat vir ons vertel is sleg is vir jong bloedjies in hul vormingsjare. Na baie jare se indril van hierdie beginsels het ons ‘n mate van sukses bereik en het hy die beginsels mooi verstaan. Tot ek op ‘n dag toe ek by die TV-kamer instap en hy vir my sê ek moenie nou kyk nie, ek gaan nie daarvan hou nie. Intussen kyk hy rustig voort.
Ek dink dis min of meer toe wat ek begin opgee het op hierdie kinders grootmaak ding. Miskien raak mens ook maar mak oor tyd. Ek meen, as een van my kinders nou ‘n muntstuk sou insluk trek ek dit bloot net van sy sakgeld af ipv om hospitaal toe te jaag om sy maag te laat leegpomp.
‘n Groot mylpaal was natuurlik net om 18 jaar oud te raak. Die oomblik toe dit gebeur toe was die cool ding om na ‘n pub toe te kan gaan, gevra te word vir jou ID, en dan soos mr Cool jou ID te kan uithaal wat inderdaad bevestig dat jy 18 jaar oud is. Die feit dat jy moontlik binne vra vir Rooibos tee is ontersaaklik. Die magic is om toegelaat te word tot die pub.
Die nexte ding was om ‘n bestuurderslisensie te kry. Dit was bietjie lastig gewees. Die Verkeersdepartement en hy het bietjie van ‘n meningsverskil gehad oor sy bestuursvaardighede. Ons trek toe later by die vierde probeerslag. My senuwees was heeltemal op. ‘n Uur-en-‘n-half later het ek nog niks van hom gehoor nie, en moes ek toe aanvaar dit was weer so. Uiteindelik bel hy my met ‘n swaar stem en se: “Ek het nie ….. gedop nie.”
Met wiele en ‘n lisensie kom natuurlik mobiliteit. Nou een aand sê hy my hy gaan gou na ‘n pel toe.
“Dis kwart-oor-tien,” protesteer ek.
“Ja, pa-hulle moet seker al gaan slaap,” reken hy.
Volgende jaar moet hy gaan swot. Een moontlikheid was varsity & koshuisverblyf. My vrou was baie opgewonde oor die vooruitsig dat hy ‘n slaggie uit die huis uit kan kom. Net om ‘n maand later te wonder of ons nie maar Stellenbosch toe moet trek nie. ??! Intussen het my seun ons ingelig dat hy dit nie aan ons gaan doen nie. Hy bly sommer in die huis en swot uit die huis uit. Maar eers moet hy matriek deurkom EN toelating kry tot ‘n bekostigbare studie-plek. Nou verstaan ek daar is ‘n kwota stelsel van toepassing op toelating. Ons hoop maar vir die beste en hou die tantrums daaroor vir later – hopelik is dit nie nodig nie.
Intussen het ek nou op ‘n baie gesaghebbend bron afgekom oor tieners in die huis. Die strokieskarakter ZITS in Die Burger is waarskynlik die getrouste uitbeelding van ‘n tiener in die huis wat ek nog gesien het. Dankie tog vir goeie handleidings.
Maar daar is nog twee wat in sy voetspore moet volg. Die jongste van die drie is 8 jaar oud. Maar oor hy ‘n sussie van 15 jaar en ‘n boetjie van 18 jaar oud het dink hy al klaar hy is ‘n tiener. Ja, ja, ek weet, daar is nogals bietjie van ‘n groot gaping tussen my oudste en my jongste. My vrou sê ons het dit so beplan….
PGJ
Jy MOET ‘n boek uitgee. Ek het die storie nou so geniet.