pgjonker.co.za

S%^&t-stories

[Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=623]

Semper in excretum, sed alta variet

Deur PG Jonker

Frikkie huur ‘n huis op ‘n plaas.  Ons gaan kuier vir hulle.  Onder andere werk ons aan ‘n toer Richtersveld toe.  Ek het talle navrae gedoen, maar die advies is deurgaans dat mens ‘n viertrekvoertuig nodig het daarvoor.  Ná ons uitstappie Epupa valle toe met my Venture het ek gereken ek moet dalk maar vir my ‘n viertrek voertuig aanskaf as ek sulke tipe vakansies wil gaan hou.  Ek is te ‘n senuweeagtige reisiger om effens rowwe paaie te ry met ‘n gewone voertuig.  Die viertrek funksionaliteit moet opmaak vir my gebrek aan vernuf en selfvertroue.

Agter een van Frikkie se buite-geboue staan ‘n Mahindra stasiewa.  ‘n Oue.  Dit lyk meer soos iets wat in die Angola oorlog buitemaak is.  Dalk was dit, ek kan nie onthou nie.  Frikkie het aangebied dat ek met die Mahindra Richtersveld toe kan gaan.  Sy se voorstel dat hy my ‘n drie dae voorsprong sal gee laat my tog ‘n paar bedenkinge oor die voorstel hê.

‘n Probleem van ‘n heel ander aard verg egter hierdie naweek aandag.  Die sanitasie op ‘n plaas werk natuurlik anders as dié in die dorp met dié dat daar nie ‘n aansluiting met die plaaslike munisipaliteit se dreineringswerke is nie.  Dus moet jy jou eie put hê.  Ek meen nou nie soos in ‘n longdrop nie.  Daar is properse spoeltoilette, dis net, dit loop in ‘n mensgeboude put in en so aan. 

Ieder geval, Saterdagmiddag kom ons agter die drein is verstop.  Frikkie is ‘n handige ou met baie planne in sy mou.  Hy het ‘n klompie van hierdie planne geprobeer, maar ten spyte daarvan het die porseleintoestel verstop gebly. 

Frikkie reken toe al genade nou is om te gaan loer wat in daardie put aangaan.  Hy gaan loer toe daar.  En kom rapporteer dat hy nou weet hoe om die probleem op te los.  Dis baie eenvoudig.  Ons moet net die put leegmaak.  Dit klink vir my na ‘n heel logiese plan.  So hoe gaan jy dit doen, wonder ek toe.  Met ‘n kruiwa en ‘n graaf, is die antwoord. 

Eisj!  Of eintlik, Seisj!

Frikkie trek sy waterstewels aan en klim in die put.  Kniediep in die poef.  Letterlik.  Ek beman die kruiwa.  Frikkie skep.  Dit raak later uitputtend om my lippe so vreeslik styf toegepers te hou, so ek staan maar later ‘n entjie weg.  Wanneer die kruiwa vol is dan ry ek hom weg na die verste hoek van die erf toe waar ek die inhoud leegmaak en die kruiwa terugbring.  So op die manier het ons toe heeltemal ‘n prettige namiddag.  Voor sononder toe werk al die sanitêre toestelle op die werf weer soos dit moet. 

Ja-nee, jy kan maar sê en en Frikkie is al saam deur diep dinge.  My eetlus was net so bietjie gedemp van hierdie oefening.

PGJ

About

One Response to “S%^&t-stories”

  • Nee man, moer, die besigheid is darem seker nie bedoel om so te werk nie! Ek moes by ons vorige huis die rioolpype ‘n paar keer skoonmaak en die verstoppings verwyder. Dis ou kleipype en mettertyd dring boomwortels deur die pype.

    Nie ‘n aangename ervaring nie. Soms moes ek my hande met plastieksakke toebind want die tuinslang het die nare gewoonte om siwerskoon in die pyp in te gaan, maar dan onhanteerbaar vuil weer uit te kom.

    Cheers
    Leon