pgjonker.co.za

Oom Gert

[Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=554]

Deur PG Jonker

Oom Gert Smit het altyd die lorrie gery by Suid-Oranje Vissery op St. Helenabaai.  Mooi stadig, geduldig, met ‘n lankmoedigheid wat hom hom uitgeknip gelaat het vir die werk.

In 1970 rond skaf die fabriek ‘n MAN loskop lorrie aan.   Hierdie lorrie het Oom Gert se baba geword.  Hy alleen het die lorrie gery.  Vir dekades.  Die lorrie is soos ‘n baba opgepas, het nooit vinnger as 80km/h gery nie, en was te alle tye in tip-top kondisie.  Oom Gert het mooi na sy goed gekyk.

Op ‘n dag is Oom Gert op ‘n trip Luderitz toe.  Maar dis ‘n lang pad, so hy moet ‘n hulpdrywer saamneem.  Oom Gert is nie lus vir ‘n hulpdrywer nie, hy kan self ry.  Maar hy neem nou maar sy hulpdrywer saam, want hy moet.  Dié is ewe bly om ‘n slaggie weg te kom van die fabriek af om iets anders te doen.  En om ‘n slag ‘n kans te kry om die MAN lorrie te bestuur.

Vroeg oggend vertrek hulle op St. Helenabaai.  Oom Gert bestuur.  Tagtig km per uur, soos altyd.  Teen 80km/h vat dit nogals ‘n tydjie om op enige plek uit te kom, maar dit vat in besonder lank om by Luderitz uit te kom.   Maar Oom Gert is nie haastig nie.   Oom Gert stop ook nie eintlik nie.  Die trok het groot dieseltenks, en dit is hoogstens blaaskapasiteit en miskien honger wat Oom Gert noop om te stop.  Oom Gert raak ook nie moeg nie.  Dus, teen die tyd wat hulle in Luderitz kom is Oom Gert se hulpdrywer al moeg gewag, maat hy het nog niks beurt gekry om te bestuur nie.

Maar nou ja, ten minste bied Luderitz ‘n mooi uitsig, en die vooruitsig om lekker in ‘n gastehuis te oornag, reken die hulpdrywer.

Die lorrie word afgelaai in Luderitz.   ‘n Uur later reken Oom Gert:   “Ek is haastig, kom ons ry.”

“Hoe bedoel oom dan nou?”

“Ons ry terug huis toe.”

En daar is die trok weer op pad terug op die langpad,  St Helenabaai toe, steeds met Oom Gert (heelpad) agter die wiel, 80km/h, tot op St Helenabaai.

Oom Gert het later afgetree.  Die tannie is later oorlede, en Oom Gert het alleen in hulle huisie aangebly.  Tot hier in Augustus 2010 toe inbrekers een nag gekom het.  Oom Gert het nie die aanval oorleef nie.  Hy was 88 jaar oud. 

Rus sag, Oom Gert.  Ons harte is seer dat dit só gebeur het.

PGJ

About

2 Responses to “Oom Gert”

  • Ek het hom net geken as die storie op die koerant se voorblad. Na jou storie, is sy dood vir my nog meer sinneloos as voorheen. Ns. Hoop jy kry die kommentaar. Ek raak wild op so ‘n Maandag. Jomane

  • PG

    Mooi storie, mooi geskryf. Met ‘n angel op die einde. Ek ken nie vir oom Gert of sy familie nie, maar ai… Wat sê mens?