pgjonker.co.za

My Muisie se naam is Cha-Cha

Speelskooltanniedinge

Deur PG Jonker

By geleentheid is Chris-Jan se speelgroepie op ‘n uitstappie na ‘n plaas in Adderleystraat. Nee, nie die Adderleystraat in Kaapstad nie, die een aan die buitewyke van Durbanville. Ja, daar is wraggies so ‘n straat, maar daar staan nie ‘n standbeeld waar die duiwe op kan mis nie. Hulle moet hulle besigheid elders gaan doen. Die doel van die uitstappie was dat die kindertjies ‘n demonstrasie kry van hoe die boer nat koring droogmaak. Moet sê, dit was vir my ook nuus dat jy dit kan doen. Ek het geweet koring kan roes, maar ek het nie geweet jy kan dit droog kry nie. Ek wonder of dit dan die roes keer? In ieder geval, ná die boer se vertoning met die koringdroogmaakding toe is almal nou weer op pad terug huis toe. Maar nou is die spulletjie se fut al bietjie uit en hul lus vir stilsit min.

Marga is saam om te help toesig hou. Sy was self voorheen ‘n speelskooltannie gewees. So neem sy dit op haar om die spannetjie besig te hou sodat haar vriendin ongestoord die bussie kan bestuur. Elkeen kry ‘n muisie. ‘n Denkbeeldige muisie wat Marga onder haar trui uithaal, een vir een. Almal is vreeslik opgewonde oor hul muisies. Dis net een mannetjie (ek noem hom maar Jannie) wat bietjie ongeduldig is. Sien, soos die geluk dit wil hê sit Jannie en sy maatjie op die agterste sitplek. Dus kom hulle laaste aan die beurt om hul muise te kry. En net om seker te maak dat Marga nie dalk oorweeg om hom vir heel laaste te los nie, dring Jannie toe daarop aan om sy muis te kry voordat sy maatjie een kry. Ter wille van die vrede gee Marga in, en so kry Jannie sy maatjie se muisie. Maar Marga kon darem toe nie help om vir Jannie te verduidelik dat die laaste muis wat vir hom bedoel was eintlik ‘n baie spesiale muis was. Maar as hy dan nou so wil wees, dan het sy maatjie nou daardie spesiale muis gekry.

Maar Jannie laat hom nie vermaak van hierdie tipe sielkunde nie. Hy slaan sy maatjie totdat dié inskiklik is om muise te ruil. So, nou het Jannie in elk geval sy spesiale muis sonder dat hy hoef te gewag het tot heel laaste. En hy is baie tevrede met homself. Nou speel almal met hul muisies.

“My muisie is pienk, en sy naam is Cha-Cha”, sê die een dogtertjie. “My muis is groen”, sê die seuntjie langs haar. “My muis is ook groen, en sy naam is Groenie”. Verbeeldingryk, nogals, het ek nou maar gedink.

Maar nou vertel Marga my agterna dat sy, op pad plaas toe, ook die kindertjie besig gehou het. Tóé het sy vir elkeen ‘n skoenlapper onder haar trui uitgehaal. Alles het goed gegaan, totdat hulle by ‘n verkeerslig stilhou. Toe raak almal daai skoenlappers aan die vlieg. Dis toe groot pandemonium, amper moeilikheid met die verkeer, jy verstaan. Dis toe met dié dat sy besluit skoenlappers is dalk bietjies te gevaarlik vir kindertjies van hierdie ouderdom.

Dit is toe op dié manier dat Cha-Cha die pienk muis en haar maatjies in die prentjie kom.

PGJ

About

Your email is never shared.
Required fields are marked *