pgjonker.co.za

Heads?

[Story also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=12]

Met hierdie seilery van my leer ek nogals interessante dinge.

Byvoorbeeld, het jy geweet dat die toilet op ‘n seiljag die “heads” is.  En dit is nie “downstairs” nie, maar “down below”.  Dis ook nie “down under” nie, want dis waar Australië is.  Dit beteken ook dat jy nie aankondig dat jy vir ‘n vinnige wieps na die toilet toe gaan nie.  Nee, heelwat meer eksoties as dit.  “I’d say, ol’ chap, just going down below to use the heads, I say”.

So reken ek toe ek moet seker leer hoe die toestel werk.  So vra ek dus toe gou instruksies by skipper Matthys oor hoe om die “heads” te spoel.  Die instruksies klink toe amper iets soos volg:

“Jy flip die levertjie na links, maak die seacocks oop en pomp.  Flip die levertjie na regs, pomp, en maak die seacocks toe.”

Maar nou is ek mos nie onnodig handig nie, en ook nie so vinnig van begrip wanneer dit by tegniese sake kom nie.  So nou moet ek eers weer stadig die proses probeer assimileer.

Raait, die levertjie na links, is dit nou links as jy vorentoe kyk, of as jy agtertoe kyk?  Nee, dis as jy vorentoe kyk.  Vergeet van vorentoe of agtertoe, dis aan die port side van die boot.  OK dit verstaan ek mooi.  Maar ehmm… soortvan, van watter levertjie praat ons nou eintlik in die eerste plek?

Goed, ons doen dit stap vir stap.  Ek weet nou al by watter levertjie ek moet begin.  Maar jy praat van seacocks?  Genugtig.  Ek het al gehoor van tennis-elmboë en seemansvoete, maar seacocks!?   Maar nee, dis toe nie ‘n mediese toestand nie, maar doodgewoon die twee swivel krane wat die inlaat- en die uitlaatpyp vir die plumbing moet oop- en toemaak.  En van groot belang:  as jy klaar is moet altwee seacocks toe wees.

Wel, noudat ek die basiese terminologie half onder beheer het gaan dat al makliker.  Levertjie na links, seacocks oop, pomp 15 keer, levertjie na regs, pomp weer 15 keer.  Dan is daar nog ‘n permutasie van inlaat seacock toe en die uitlaat seacock oop en pomp nog ‘n paar keer, maar ek dink dit is vir een of ander noodmaatreël wat nie in ‘n gesinspublikasie hoort nie.  

En al wat ek wou weet was hoe om die toilet te spoel!

So ter nagedagtenis maak die skipper die opmerking: in geval van twyfel, gaan terug en gaan maak seker!  Nou ja, nadat ek toe nou die toestel mooi baasgeraak het en weer my sit op die dek gekry het, toe begin ek wonder of daai seacocks nou toe of oop is.  Maar ek weet ek het dit toegemaak, so ek weier om my te laat beïnvloed deur hierdie lawwe gedagtes nie.  Maar hoe langer ek daar sit, hoe meer teister die visioene van ongepoetsde bruin bere wat skelmpies by die septic tenk uitkruip boontoe en daar sit en wag vir iemand om die heads se deur oop te maak dat hulle kan “whah!” skree.  Dus gaan check ek nou maar later ek het allester mooi toegemaak.

Ek kan nou verstaan waarom die transom van die boot die voorkeurposisie is, bo die heads.  Dis net soveel eenvoudiger.

Serenity

About

6 Responses to “Heads?”

  • My adjudant-offisier in die Vloot het ons ‘n storie vertel oor die herkoms van die benaming “heads”. Hy het beweer dat die seilskepe se toilette ook voor was – bestaande uit ‘n plank wat oor die boeg gehang het met gate in. Dus het jy jouself daar gemaklik gemaak, maar voor jy met die drukwerk begin het, moes jy baie hard “HEADS” skree, om die bemanning op die laer vlakke te waarsku om vir ‘n wyle NIE hulle koppe by die skietgate uit te steek nie – net ingeval die wind van voor af waai.

    Die Afrikaans vir “heads” is “galjoene”. Seker nie ‘n vars een nie …

  • Klink amper soos ‘n nuwe Anton Goosen liedjie: “Galjoene op die boeg….”

    PGJ

  • Ek moet eerlik wees en sê dat ek nooit gedink dat die woord “seacocks” ‘n ander betekenis kon hê nie en jy het my lekker onkant betrap dat ek gesit en lekker gelag.

    Ek wonder hoe veel van ons onsself in ‘n soortgelyke omstandighede gevind het en nadat ons iets gedoen het, later gevoel dat dit nie heeltemal reg was nie en dat iets nie heeltemal lekker was nie?

    ‘n Goeie lees vir ‘n Maandag oggend!

  • ROTFLOL!!

  • Hi PG

    Baie geluk met jou nuwe website. Jy het so ‘n lekker skryfstyl dat ek bly is dit word nou aan ‘n groter gehoor blootgestel.

    Ek hou ook van die Kinderboeke afdeling – lekker om bietjie meer te lees oor die skrywers.

    Ek het ‘n hele paar interessante stories hier gelees. Soos die hoenderhok skakelaar wat verkeerd gespel was!

    Ken jy die storie vd engelse vrou met met weskus omie gesels het oor haar probleme met haar man en hy sê filosofies ” ja, you must keep your kant clean”

    Ek dink dis ‘n genuine storie. Dalk moet jy hom bietjie skryf.

    Anyway, jou site lyk baie oulik en beste wense vir jou en Marga en julle skywery.

    Groete
    Leon

  • Ja, die storie waarna jy verwys is die een van Oom Driekus Loubser. Hy’t mos by Marga-hulle op die plaas gebly het. Dana Snyman het daai storie by geleentheid in Beeld geskryf. PGJ