Let op jou K’s en L’s
(soos in: “Mind your P’s and Q’s”)
[Deur Johnie Jonker]
Ek was op skool al baie geinteresseerd in elektronika en het allerhande stroombaantjies gebou. By geleentheid het ek tant Johanna Spamer se stoof ook reggemaak. Ek dink dit is met dié dat oom Koos Spamer my toe genoeg vertrou om my te vra om die ligte skakelaars in sy vleiswerk kamer te herbedraad. Daar was net een skakelaar wat 4 plekke se ligte tegelykertyd aanskakel, en dis mos nou darem ‘n vermorsing as jy net wil sien wat in die garage aangaan en die hoeder- en varkhokke se ligte kom ook aan.
Amper iets soos die prentjie hier onder.
”]”]
Ek is natuurlik heel geneë om die takie aan te pak, siende dat my sakgeld ook sodoende aangevul kon word. Met behulp van my pa kry ons een van die ou tipe gietyster stroombreker kaste met die porseleinsekerings in die hande, en oom Koos koop die 4 skakelaars wat benodig word. Die ligskakelaars is van die swart ronde bakeliet tipe wat jy op die oppervlak vasskroef. Die stroombreker is egter nogal iets spesiaal. Deesdae sien jy dit net in museums of in toekoms-flieks wat in verlate kragstasies geskiet word en waar die held dan die krag aanskakel met so ‘n oordrewe KLANGGG! eggo as hy die hefboom opdruk; ‘n aksie wat dan sommer ook die kas sluit. Nifty ontwerp vir daardie tyd.
Elke middag na skool is ek daar. Ek boor gate en skroef goed vas en bedraad na hartelus. Ná so twee weke is die projek voltooi, maar natuurlik is die werk nooit klaar voordat die papierwerk nie voltooi is nie. Vir die wat nie weet nie, of al vergeet het, voor jy Brother etiket-drukkers gekry, het jy mos die DYMO gekry wat fisies die letters van agter af deur ‘n dikkerige plastiekfilm met ‘n gom onderkant gedruk het. Sodoende “rek” die materiaal dan, wat die plastiek wit verkleur. Dus kon jy enige kleur agtergrond kry, maar die letters was altyd wit. Dan plak jy nou jou etiket vas waar jy hom wil hê. Die toestel het soos ‘n Scalectrix handgreep gelyk, met ‘n skyf wat jy roteer tot die regte letter in ‘n venstertjie verskyn. Dan druk jy die sneller, en daar sit die letter in die plastiek gevorm.
Ek was nogal trots op my bedrewenheid en spoed met die DYMO. So maak ek die etikette om elke lig se funksie aan te dui. Soos in: “Agterplaas”, “Garage”, “Rookkamer” en “Hoenderhok”.
Nadat my pa, wat ‘n elektriese ingenieur is, die installasie kom inspekteer en veilig verklaar het, roep ek vir oom Koos om te kom kyk hoe als werk.
Oom Koos doen nou eers navraag oor die koste. Nou ja, ek sukkel vandag nog steeds om ‘n prys te maak vir mense wat ek ken, maar ek maak my prys op R2. Dit het eintlik heel skaflik vergelyk met my 50c/per maand sakgeld van destyds – onthou nou, hierdie was laaaank terug gewees. Nee, reken oom Koos, dis darem te min, en gee my R5. Ek voel natuurlik so in my skik soos een wat die boerpot gewen het.
Nou inspekteer en toets oom Koos die installasie. Hy stuur sy seuns Kobie en Willie uit om te rapporteer of die regte skakelaar wel die regte lig aanskakel. Alles werk 100%. Die hoenderhok se skakelaar is laaste aan die beurt. Hier aarsel oom Koos. Hy druk met sy vinger op die etiket. Nee, hier is nie so ‘n plek op sy werf nie, reken hy met ‘n ondeunde glimlag.
“Hoe bedoel oom dan nou?” Ek is vinnig daar om te sien wat die fout is. Ek sien wat die fout is. Dis nogals bietjie van ‘n verleentheid – veral in die lig gesien van die feit dat my pa se bynaam boonop “Priester” was. Ek bied aan om gou die foutjie reg te maak, maar Oom Koos reken hy hou eintlik van die etikettering soos dit is; dit moet net so bly.
Jare na oom Koos se dood het Willie verdere verbouings aan die buitegeboue gedoen. Toe eers is my installasie vervang, met die een etiket wat toe nog steeds lees: HoenderHOL.
JJJ