Deel 3 – Rondom die Valle
[Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=183]
BOTSWANA & ZAMBIË TOER 2008
Deel 3
(deur PG Jonker)
Victoria Valle
The Smoke that Thunders. Inderdaad. Vandag besoek ons Victoria Valle toe. Die eintlike doel van ons hele toer.
Ons het 2 poncho’s by ons. Ons huur ‘n verdere 3 poncho’s een US$2 per kop. ‘n Wyse besluit blyk dit. Jy reën nat van alle kante af. Ons het vooraf die kameras in jiffy-sakkies gesit om teen die nat te beskerm. Die gevolg is natuurlik erg onindrukwekkende foto’s, maar dit vertel darem die storie. Of tot die mate wat mens hierdie skouspel op film kan vaslê.
Ses-jaar oud Chris-Jan word angsbevange vir die misreën en die gedonder rondom hom en ek moet hom op ‘n stadium gryp en terughardloop na stiller en droër grond toe om hom te kalmeer.
Die Valle is doodgewoon awesome. Amper heilig, groots. Mens sien baie foto’s van die plek, maar om self daar te staan en jou eie foto te neem en dit waar te neem is moeilik om te beskryf. Ek aanvaar manne soos Dana en Breyten het die vermoë om dit mooi te beskryf. Ek is bevrees ek sal moet volstaan deur te sê dis eenvoudig f….rek indrukwekkend.
Verkoopsvernuf
By die ingang na die valle is daar die gebruiklike stalletjies waar mens goed kan koop wat jy nie wil hê nie. Ek gaan kyk wat daar is met die idee om later die kinders te bring om te kom koop. Groot fout. Luister nou na goeie raad: moenie oogkontak maak met die vendors nie. Moenie naby kom nie. Moenie lyk of jy belangstel nie. Moenie in die man se hokkie ingaan nie. Moet onder geen omstandighede lyk of jy selfs eers later gaan belangstel nie. En bowenal, moenie lat daai man jou laat gaan sit nie!
Isaac verduidelik vir my mooi van al sy ware. Ek verduidelik ek wil net kyk. Hy verduidelik, “I’m from Zambia, you from South Africa, we’re from the same continent, I give you a good deal.” Ek verduidelik ek wil nie ‘n goeie of ‘n slegte deal hê nie, ek wil niks hê nie ek wil net kyk. Nee, dis reg verduidelik hy, hy verstaan, maar sien, hier het ons nou die koning en die koningin van een of ander tribe uit hout uit gekerf, verduidelik hy. Baie eksoties. Ja, ek sien, maar ek wil niks koop nie. Maar omdat ons mos nou van dieselfde kontinent is gaan hy my hierdie special deal gee van US$50 vir hierdie pikante stelletjie van twee. Ek verduidelik nou weer mooi ek wil net kyk, sal later terugkom. Hy stel my voor aan die koning en die koningin se seun en dogter, ook gekerf uit die spesiale hout wat jy net in Zambië kry.
Ek probeer my so half gehurk uit die hokkie uitkry, waarop Isaac ‘n stoeltjie onder my boude indruk en vir homself ook ‘n sitplek kry op ‘n soortgelyke stoeltjie. Daai is onse custom om so te onderhandel, verduidelik hy vir my en gaan voort om my aan die res van die koning en koninging se extended family voor te stel. Ek raak benoud. Daai koning en koningin is besig om aan te teel omtrent soos ek daar sit. Ek wil net wegkom.
Nou verduidelik Isaac vir my eers die reëls van die spel. Sy openingsaanbod is ‘n skamele US$50 vir hierdie stelletjie bestaande uit die koning en koningin, maar oorlat ons mos nou van dieselfde kontinent af kom (jy kan maar sê ons is bloed broers, man, so close is ek en Isaac met dié dat ons van dieselfde kontinent af kom) is hy oop vir onderhandeling. En, reken hy, as ‘n spesiale toegif sal hy die gesinnetjie mooi in ‘n pakkie koerantpapier vir my toedraai ook, oorlat ons mos nou van dieselfde kontinent af kom.
So al wat ek nou moet doen, is om ‘n teenaanbod te maak. Ek kan trade met geld, t-shirts, skoene, enige iets, verduidelik hy. “You just offer me anything, anything, then we negotiate.” Nou wil ek vir Isaac verduidelik dat hy heeltemal be….. die kluts kwyt is as hy dink ek gaan R400 betaal vir daai twee simpel beeldjies. Maar ek verduidelik nou mooi hoflik vir hom ek wil hom nie beledig nie, maar ek het nou meer gedink aan US$2 vir die beeldjies saam. Wel, eintlik het ek gedink ek wil niks hê nie, maar ek het opgegee om dit vir hom te verduidelik. Ek kan mos sien daai man verstaan nie daai nie. In elk geval, die feit dat hy bereid is om vir ou skoene en t-shirts ook besigheid te doen het my ook laat voel ek kan nie heeltemal niks koop by hom nie.
Anyway, die einde van die storie is dat ek hom US$10 en ‘n blikkie Coke betaal vir die koning en die koningin van houtspeelgoedland. En ek wou wraggies niks koop nie. Daai Isaac, hy is baie goed!
Later bied ek hierdie baie spesiale geskenke met liefde vir Marga aan. Sy beskuldig my dat ek my laat inloop het. Eisj! En ek het gedink ek het heel goed gevaar.
Die res van Livingstone
Marga gaan koop ‘n paar goedjies in die Spar. Met die betaalslag roep sy my nader. Die rekening beloop 133 090 Kwachas! Sproing!! Maar omgereken na Rande klink dit na ‘n meer verteerbare ongeveer R330.
Die aand eet ons by die Ocean Basket. Ons parkeer in ‘n omheinde area, met ‘n wag aan diens. Dié sit sommer reg langs die bakkie op ‘n stoel.
Vanweë ‘n gesamentlik ongesteldheid na die middag se ete gaan slaap almal behalwe ek en Hardus in die bakkie nadat hulle rooibostee en toebies bestel het. Later gaan kyk Hardus of hulle oraait is, en kom rapporteer dat almal by die bakkie rustig slaap.
Die wag ook.
Vervolg in Deel 4