[Deur PG Jonker]
Dis nou daai tyd van ons lewe. Die tyd wat jy ‘n tiener deur matriek probeer kry, en hy probeer om sy bestuurderslisensie te kry. Op hierdie stadium staan die Verkeersdepartement egter nog baie breed is sy pad. Met die laaste poging het hy die motor in tru-rat gesit waar my bakkie se tru-rat is. Ongelukkig was dit toe waar die Corsa se vierde rat sit. Die gevolg is dat hy toe in vierde weggetrek, in plaas van in tru-rat. Dit sou seker nog oraait gewees het, maar die feit dat hy toe vorentoe ipv agtertoe beweeg het die toetsbeampte sodanig ontstel dat hy sommer die toets net daar gestop het. En hy was nog nie eens op die plek waar hy sy voor-inspeksie moes hou soos per die K-53 voorskrifte nie! Groot ongelukkigheid natuurlik by almal tuis.
Nou worstel ek met hierdie vraag. Is dit nou moedswilligheid aan die kant van die toetsbeampte, of moet ek dit eerder sien as ‘n mate van Voorsienigheid wat dit goed ag om hom liewer nog nie op sy eie op die pad los te laat nie. Ek meen nou maar, selfs tieners wat goed kan bestuur is ‘n verhoogde risiko op die pad, bloot omdat hulle tieners is; ‘n toestand wat normaalweg voortduur tot in hul twintigs. Soms hou dit vir altyd aan.
As ‘n case in point herinner ek my aan ‘n rit 30 jaar gelede. Ek het pas skool klaargemaak, 17 jaar oud en gewapen met ‘n leerlinglisensie. Wel, dis eintlik ontersaaklik, want die storie gaan nie oor my bestuurdery nie.
Na ‘n vakansie in die ou Transvaal is ek toe weer op pad terug Kaap toe met ‘n geleentheid. Ek gaan vir ‘n maand by oom Enrico Smith op die vistreiler Hoëveld II werk voordat ek Stellenbosch Universiteit toe gaan.
Die bestuurder en sy meisie is op pad Kaap toe om ouers te vra. Sy 17 jaar oud, hy 21 – die outydse mondig. Buite Beaufort-Wes bestuur ek, en kry ek my eerste spoed-boete. Of was dit nou Laingsburg? Daar naby Club Lipstick. ‘n Allemintige R17 boete oor ek toe iets soos 75km/h in die 60 sone ry. Dit het mooi verduidelik gekos, want toe het ek ook nie my bewys van leerlinglisensie by my nie.
Ieder geval, die storie se inleiding raak nou bietjie lank. Van Worcester af bestuur die 21-jarige eienaar van die voertuig weer self. Die Hugenote tonnel het toe nog nie bestaan nie, en dit was ‘n nagmerrie om agter ‘n vragmotor op die bergpas te beland. Dus jaag almal om by soveel as moontlik trokke verby te kom voordat hulle by die pas kom. So ook die 21-jarige.
Hy misgis hom bietjie met die verbysteek van twee trokke. Ons is suksesvol verby trok nommer een, en die 120Y Datsun stoei teen 130km/h voort om die tweede trok ook verby te gaan. Wanneer ons langs die loskoplorrie is word dit ooglopend dat ‘n botsing met ‘n aankomende bakkie onvermydelik is. Die bestuurder haal bloot sy voet van die petrol af en haal die motor uit rat uit – hy besef self die futiliteit van die situasie. Ons staar versteen na die aankomende bakkie. Sy meisie (dertig jaar later is sy darem steeds sy vrou) laat sak haar kop. Niemand sê ‘n woord nie.
Dan skielik dreun die exhaust brake van die trok, en die trok se neus sak soos wat die drywer op sy remme spring. Terselfdertyd sak die aankomende bakkie se neus vir dieselfde rede. En, ongelooflik, is daar skielik ‘n gaping om voor die aankomende bakkie voor die trok se neus in te glip.
Ek kry nou weer hoendervleis as ek die prentjie onthou. En ek wonder maar net: miskien is dit maar goed dat my tiener nog onsuksesvol was met sy bestuurderslisensie …..
PGJ…
[Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=230]
[Gouritsmond, Desember 2002]
[Gepubliseer: Leisure Wheels, Augustus 2010]
Nadat vriende ons oortuig het om ‘n slag by Gouritsmond Karavaanpark te gaan kamp was ons so beïndruk met die plek dat dit nou ons gereelde Desember bestemming geword het. Toe ‘n kollega dus sonder ‘n huis sit omdat hy sy huis vir ‘n Desember vakansie verhuur kon ons ‘n goeie reëling aangaan: hy kom woon in my huis vir die vakansie, en ek gaan kamp in sy karavaan by Gourits. So gebeur ons eerste karavaan vakansie dus met ‘n 1979 (of daar rond) Sprite Sport karavaan.
Leon het die karavaan by my huis kom aflewer. Gevolglik is die oggend van ons vertrek die eerste geleentheid wat ek die karavaan hak. Hier gaat ons Gourits toe, vir my ‘n eerste karavaan sleep ondervinding. Dit lei natuurlik tot ‘n ietwat senuweeagtige vertrek een donker Desember oggend.
Die karavaan staan in die spasie tussen die huis en die heining, met baie min spasie beskikbaar weerskante. Maar nou ja, hoe moeilik kan dit tog nou wees. Ek stoot die bakke se agterkant daar in, hak die karavaan, en daar gaan ons.
Toe nie. Vanweë die hoek waarteen die karavaan geparkeer staan veroorsaak feitlik enige laterale beweging aan sy sleephaak dat sy agterkant teen die muur vasdruk. Nadat ek in alle rigtings probeer het sien ons dit gaan nie werk nie.
Terug na die begin. Ons hak nou weer die karavaan af en parkeer die bakkie voor in die straat. Maar nou staan die karavaan teen ‘n afdraande, en met swaartekrag wat sy ding doen verg dit ‘n vinnige reddingspoging om te keer dat die karavaan nie sonder ons vertrek nie. Voor die huis is daar heelwat spasie en kan ons die karavaan hak.
Uiteindelik, ietwat natgesweet en met ‘n asem wat jaag, glip ek agter die bakkie se stuurwiel in, maar nie enigsins ontspanne nie. Daar lê nog 360km se sleep voor.
[Foto: ‘n latere geleentheid met ‘n Gypsey]
In die begin gaan die maar voel-voel. Ek sit net so halflyf op die sitplek om die gewig bietjie af te hou, jy verstaan. Gelukkig is die N1 doodstil toe ons by Brackenfell op die pad kom. Dit gee my kans om darem die gevoel van die karavaan te kry sonder om nog vreeslik oor ander verkeer besorgd te wees nie. Maar dis ook omtrent net toe wat iemand van die agtersitplek af verneem hoe ver dit nog is. Ek lig die persoon hoflik in dat die opmerking nie waardeer word nie, en beter nie herhaal moet word binne die volgende 3 ure nie. Ons ry in ‘n ysige stilte verder. Teen die tyd wat ons by die Hugenote tonnel kom is ek al heelwat meer ontspanne, en die stemming in die voertuig is ook dienooreenkomstig warmer. Dinge loop eintlik heel lekkers, soveel so dat ek soms vergeet dat ek ‘n karavaan agter my het.
Dis natuurlik heel eenvoudig as jy reguit ry. Dinge gebeur dan min of meer vanself. Dit raak lastig as jy in beperkte ruimte probeer ry. By Riversdal gooi ek petrol in. Nadat ek volgemaak het besef ek dat ek nie nou kan vorentoe nie, tensy ek voornemens is om die petrolpomp saam met die karavaan weg te sleep. Ek aanvaar die eienaar gaan nie dink dis ‘n gawe plan nie, dus moet ek maar agteruit ry. Wel, probeer agteruit ry.
Voor my vertrek het iemand vir my verduidelik dat die beste manier om met ‘n karavaan tru te stoot is om jou hande aan die onderkant van die stuurwiel te sit. Dan draai jy jou hande in die rigting waarin jy wil hê die karavaan se stert moet gaan. Die teorie is heel eenvoudig, maar soos dit maar gaan met meeste goed in die lewe is daar geen vervanger vir ondervinding nie. Ek dink dis Gandhi wat gesê het dertig jaar se ondervinding kom na dertig jaar.
In elk geval, om ‘n verleentheid kort te knip: met die hulp van twee petroljoggies en ten aanskouing van verskeie toeskouers (my familie het op ‘n afstand gaan staan en maak of hulle my nie ken nie) het ek darem uiteindelik die hele trein daar uit en is ek weer op pad. Ek en die eienaar van die garage, meen ek, was ewe verlig dat ek daar uit gekom het.
Na verskeie ure met die karavaan agter my op die pad is Gouritsmond Karavaanpark ‘n welkome gesig.
Ek het egter nog een maneuver oor: die karavaan moet in posisie gestoot word op my staanplek. Gelukkig verlig vriendelike bure my van die taak. Hulle haak sommer vinnig die karavaan af en stoot dit in posisie. Hulle het natuurlik ‘n belang daarin dat ek nie my tru-stoot vaardigheid naby hulle karavane moet oefen nie.
Tent opslaan
Nadat die bure ons karavaan in posisie gestoot het sit hulle af see toe vir ‘n swempie. Al wat ons nou moet doen is om die karavaan tent op te slaan.
Sedert ons troue 14 jaar vantevore sit my vrou aan my dat ons kampeerders moet word. Met sistematiese deursettingsvermoë het sy my weerstand oorkom, en teen die tyd wat ons met die karavaan hier opdaag is ons darem al redelike kampeerders. My weerstand was gebaseer op hierdie visioen van myself wat by ‘n kampeerplek opdaag met my tent en geen idee het hoe om dit op te slaan nie. Nou is ons al gesoute tent kampeerders. Maar om ‘n karavaan tent op te slaan is bietjie van ‘n ander storie.
Eerste dinge eerste: kry die tent uit. Dis heel eenvoudig. Ons kry dit selfs reg om te identifiseer watter kant van die tent is die binnekant, en watter is die buitekant. Ons voer die tent deur die gleufie waar dit moet deur gaan teen die kant van die karavaan. Neem nou kennis, alle nuweling karavaners: dis ‘n beter plan om eers al jou pale uit te sorteer voordat jy die seil begin inryg.
Dis 30°C. ‘n Lekker windjie waai wat jou heel goed kan afkoel, maar nie as jy onder die tent staan terwyl jy met jou een hand die tent probeer bo hou, en met die ander hand die pale probeer uitsorteer nie.
Sommige pale is gemerk: “links”, “regs”, en “middel.” “Middel” is heel eenvoudig. Maar die “regs” en “links” …
[Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=134]
[Gepubliseer in Leisure Wheels, Julie 2010]
Twaalf 4×4 voertuie met wanna-bee 4×4 fundi’s vertrek vanaf Worcester, na die Tierkloof 4×4 roete. Daar gekom maak ons ons tuis onder ‘n lapa en luister na Phil, die instrukteur, wie die basiese beginsels van 4×4 verduidelik. Een van die (verskeie) aspekte van die uurlange praatjie wat rekordering waardig is, is die opmerking dat “daar is nie ‘n slegte 4×4 nie”. Elkeen het sy sterk en swak punte waarvoor jy as bestuurder aanpassings maak, ja, maar ‘n slegte 4×4 is daar nie. Gedog ek sit maar net hierdie gedeelte in ter wille van die meewarige bestuurders van ‘n seker fabrikaat wat beweer dat alles altyd reg loop met daardie fabrikaat. Buiten vir my Mazda is daar ‘n Colt – verder is alles Toyota dubbel- of enkelkajuite, Prado’s en Land Cruisers. O ja, en ‘n Condor.
Ná die praatjie word bande afgeblaas soos per die instrukteur se instruksie en vertrek die konvooi op die roete. Ek en Frikkie dek die agterhoede.
Die roete is klipperig. Dis ‘n mooi omgewing met ‘n uitkyk oor die Brandvlei dam. My passasier, Christo, neem foto’s met my kamera aangesien ek nie daarby sal uitkom met die ryery nie.
Sommer vroeg op die roete kry ons ons eerste moeilike trajek wat behels om ‘n steilte met klipperige terrein en gate in ‘n “S” uit te ry. Stof, klippe, stukkies rubber spat maar. Eers met die derde probeerslag, en met die ewenaargrendel gekoppel, kom ek bo uit.
Christo het intussen al ‘n paar wen-foto’s met my kamera geneem toe ek onthou dat die film nog in die kamera-sak is. Ek sit die film in. Die foto’s behoort nou beter te kom.
So driekwart deur die roete kom ek by ‘n vurk in die pad wat sê regs vir “ervare bestuurders”. Ek wil links mik vir die sissie-roete, maar dis duidelik dat al die spore voor my regs gegaan het. Soos ‘n lam ter slagting is ek maar gedweë agterna op die roete vir “ervare bestuurders”. Dit bring ons by Diepkloof.
Dis ‘n rivierloop met steil walle. Van hierdie kant af ondertoe is dit sand, soos in ‘n harderige sandduin, maar met diep gate dat die voertuie soms op hul onderstelle daar afsleep. Ek arriveer net toe dit die Condor voor my se beurt is. Die Condor vat sy lyn effens verkeerd. Sy linkervoorwiel gly in ‘n gat in wat sy maag laat skuur, en dan die regteragterwiel sowat ‘n meter in die lug laat. Dit lyk indrukwekkend. Jy weet, amper soos ‘n Great Dane-reun-teen-die-boom tipe van houding.
Aan die anderkant van die rivierloop moet jy weer dieselfde tipe steilte bult-op ry. Die voertuie voor my is anderkant uit met tollende bande en rasende enjins. Die Condor se lyn is verkeerd. Met die uitgaanslag bo spring die regtervoorwiel in die lug op en die voertuig gly na links amper in ‘n boom vas. Die instrukteur pak ‘n klip as merker om die daaropvolgende voertuie op ‘n veiliger lyn te sit. Hou links van die klip.
Toe dit my beurt raak klim ek in die bakkie. Ek ref die enjin net dat die ouens kan hoor hier kom krag. Ek spoeg by die venster uit en druk my camel agter my oor in. Dan draai ek die ruit af en spoeg weer, die keer deur die oop venster. Ek haal die camel agter my oor uit en druk hom dood. Sit hom nou weer terug agter die ander oor waar dit nog nie gebrand het nie. Dan knyp ek die bakkie onder my regter-arm vas terwyl ek nonchalant met my linkerhand op die rathefboom sit. Ek stuur met my knieë. Bult af, bult op wat maak dit saak. Geen probleem nie, ek ry rustig die bult anderkant uit. Hou stil. Klim uit. Spoeg op die grond en steek weer my camel aan ….. Nee, sorrie, ek lieg vreeslik. Dis eintlik nie hoe dit gebeur het nie.
Eintlik was dit meer, soortvan, nadat ek vir ‘n benoude piepie agter ‘n bos teruggekom het, toe is dit my beurt. My mond is droog en my hande en my kuite bewe. Tewens, ek besluit om my bewende kuite tot die beste aan te wend deur my regtervoet maar op die rem te hou. Die man het mos gesê ons moet die remme pomp. My bewende kuit werk net so goed soos ABS remme. Die regte lyn blyk die antwoord te wees. Gelukkig kon ek uit die manne voor my se foute leer, en beduie die instrukteur my presies op die regte lyn. Ek maak nes hy sê. Die bakkie loop die bult aan die anderkant kaf sonder enige probleme. Ek voel baie tevrede, maar ek moet bieg, die verligting is groot. Ek bly klou maar aan my stuurwiel vas dat die ouens nie moet sien hoe my hande bewe nie.
Aan die einde kry ons elkeen ‘n sertifikaat. Eintlik is ek nou nogal erg tevrede met myself. Ek is nou die trotse eienaar van ‘n sertifikaat wat sê ek het al ‘n 4×4 bestuur.
PG JONKER
“Raad vir jou eerste 4×4 kursus “
1. Moenie stop en uitspring om jou nawe te sluit die oomblik as jy die teerpad verlaat nie. Buiten dat dit voortydig is lyk jy bietjie soos ‘n pop om agter jou voorwiel te hurk met almal wat by jou verbyry en wonder wat jy doen.
2. Moenie voor almal vir die instrukteur vra waarvoor daai kort kierie langs die rathefboom nou weer is nie. Lê diskresie aan die dag.
3. Draai jou vensters op voordat jy vinnig stop op ‘n sandpad.
4. Oorweeg om nie vier kindertjies onder die ouderdom van 4 jaar oud saam te neem nie. Dis vreeslik irriterend as jy eintlik nêrens heen op pad is nie, en iemand vra gedurig of ons al amper daar is.
5. Oorweeg ook om tieners tuis te los. Hulle het geen vrees dat jou goed skade kan kry nie. Jy wil ook nie daardie tipe teleurstelling in hul oë sien as hul oukêrel dalk nie kans sien vir ‘n moeilike, dog opwindende, trajek nie.
6. As die dame wat agter jou ry uitklim om vir jou te sê jy kan maar vinniger ry, moenie in woede reageer nie. Aanvaar dat sy ‘n voertuig met ‘n vaste …
[Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=118]
[Gepubliseer as ‘n brief in LW, April 2010]
Johnie Jonker skryf in sy artikel Softroading the Dunes (Leisure Wheels, Maart 2010) die volgende: “Predicting what other spares could be required would at best be a hit and miss affair, so forget about them and rather think on your feet when faced with a problem.”
Nou net mooi dáár lê die knoop vir ouens soos ek. I het moeite om my bakkie se wiele om te ruil, nevvermind om op my voete te dink as ‘n probleem opduik. Dus, vir my, is die eerste ding op my beplanningslys om daai meganies-geöriënteerde ou saam te vat wat die op sy voete-dink ding kan doen, ingeval iets verkeerd gaan.
‘n Paar jaar gelede was ons deel van ‘n groep van drie gesinne wat op ‘n toertjie Richtersveld toe is. Dit was my eerste 4×4 toer. Ek het selfs ‘n swaardiens grootte hoogligdomkrag wat iemand op ‘n dag daar by my gelos het. Teen die tyd was alles egter ingepak is en ons moet besluit wie van ons gaan die domkrag saamneem, het ons besluit dat (a) nie een van ons het meer plek vir die domkrag nie, en (b) ons gaan liewer uit die moeilikheid uit probeer bly. Dus bly die swaardiens hoogligdomkrag tuis. Miskien gee dit nou ook ‘n aanduiding hoe ernstig ons van plan was om rof te viertrek. Dit was gebiedend dat my vriend Frikkie op hierdie toer moes saamgaan. Die ou wat die op jou voete-dink ding moes doen.
Kort voor ons vertrek het my splinternuwe tweedehandse bakkie ‘n klep gebrand wat ek laat regmaak het. Op presies 1000km’s, is ek gesê, moet die enjin ge-retorque word. En teen die tyd wat ek die 1000km merk sou bereik sou ek net mooi by Port Nolloth wees, en ver van die werktuigkundige af wie die werk gedoen het. Maar Frikkie is daai ous. Ons huur dus ‘n huis met ‘n motorhuis by McDougal’s baai buite Port Nolloth sodat Frikkie die nodige kan doen die oggend voor ons vertrek vir Richtersveld.
Ek kyk die oggend in verwondering hoe Frikkie dit doen. Dis amper soos daai storie van “In die woud is daar ‘n huisie, in die huisie is ‘n kamer, in die kamer is ‘n kas….” en so aan, totdat jy uiteindelik by die deel van die enjin kom waar die werk gedoen moet word. Nou en dan gee ek vir Frikkie ‘n moersleutel of iets aan wat ek darem met die derde probeerslag (dalk) korrek identifiseer. Nadat ons tuis gekom het, het ek besef dat die die syfers in voet-ponde vir Frikkie gegee het, in plaas van in Newton meter, met die gevolg dat die re-torque teen die verkeerde spanning geskied het (te lae wringkrag) en moes die werk oorgedoen word by die werktuigkundige wie aan die enjin gewerk het.
Later op die toer, iewers in die middel van die Richtersveld Nasionale Park, hou my bakkie se afstandbeheer op met werk. Pieter het gelukkig ‘n vergete spaar stelletjie batterye wat amper pas, maar goed genoeg is om weer die bakkie aan die gang te kry.
Terwyl ek staan en sweet, egter, het Frikkie klaar uitgewerk waar hy ‘n kortsluting met ‘n skroewedraaier gaan maak om die immobiliseerder te systap. Plaas hy my sê hy het ‘n alternatiewe oplossing!
[Op foto: Frikkie, Pieter, PG]
Na ‘n baie lekker kuier in die Richtersveld verlaat ons ‘n paar dae later die Park deur die Helskloof hek. By die hek kom Frikkie agter dat daar remolie uitlek by sy regteragterwiel. Frikkie is nie te bekommerd nie. Min dinge van ‘n meganiese aard maak hom bekommerd.
Ons doen aan by Khubus. Die dorp laat my baie aan Paternoster dink, dis net heelwat verder weg van die see af. Voor Lekkersing draai ons af na Eksteensfontein.
Ons doen aan by Eksteensfontein se sakekern. Die dorpie is bietjie groter as Khubus. Die kerk staan prominent netjies wit uit. Daar is selfs ‘n video-winkel. Geen brandstof nie. Hier kom Frikkie agter sy lekkende remolie is eintlik ewenaar-olie. Nou vra ek jou, hoe het hy dit geweet? Die kultivar getoets of iets? Maar Frikkie is nie te bekommerd nie.
Hiervandaan ry Frikkie voor. Die pad versleg algaande. Dit is die tipe sinkplaat wat jy of glad nie moet ry nie, of 65km/h moet ry om ten minste net so elke 3de hobbel van die sinkplaat te vang, in plaas van elke sinkplaat. Dit skuld verwoed. Iets tok-e-tok erg onder Frikkie se bakkie. Hy inspekteer en kom agter dit is sy uitlaatpyp wat losgekom het van die rubber wat dit vashou. Hy sit dit terug. Hy is nie te bekommerd nie. Ons gaan deur die Helskloofpas. Net voor ons die Helskloofpas verlaat hou Frikkie weer stil om te inspekteer, aangesien die tok-e-tok steeds daar is. Hy wikkel bietjie aan sy wiele, maar niks is fout nie. Hy is nie te bekommerd nie.
Ons is net deur die Helskloofpas, gelukkig op ‘n reguit en gelyk stuk pad, sien Frikkie in sy spieël sy regter agterwiel is besig om met die half-as en al uit te skuif. Hy kry gestop voordat die wiel heeltemal uitval, maar redelik net-net, aangesien daar al ‘n voet of meer an die as uitsteek. Ek weet nou nie of Frikkie eintlik bekommerd is nie, maar ek dink hy behoort nou al te wees.
Ons hergroepeer en besluit dat Pieter met die res van die toergroep sal gaan kamp maak by Peace of Paradise en dan sal terugkeer om te kom help met die wiel. Ek bly by Frikkie en sy vrou. Dit is so 5-uur se kant.
Die bakkie word opgedomkrag en die wiel afgehaal. Dit blyk dat die circlip afwesig is. Die hele half-as (of is dit sommer net die halwe as?) het dwarsdeur die wiel-laer en nog ‘n verdere ring wat hom moet binne hou geforseer. Die half-as se splines lyk of dit gesmelt het plek-plek. Die gleuwe word bietjie beter gedokter met ‘n skroewedraaier, ‘n veiltjie en ‘n ystersaaglem.
Frikkie haal solank die agterste dryfas af. Met behulp van Pieter (wie intussen na so 2 ure teruggekom het) se vuurstok wat van die gasbottel af werk word die wiel-laer eers warm gemaak en ingeslaan. (Dit klink nou eenvoudig, maar toe het …
[Story also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=84]
Dit was een helder mooi oggend by Brittanniabaai. Die water was besonders laag gewees. Ons sit lui-lekker in die son en geniet die water. Meer die sien van die water as die voel daarvan. Hierdie Weskus water is nie onnodig snoesig nie, nie eens in die somer nie.
‘n Paar jong manne daag op met ‘n waterponie op ‘n sleepwa. Dié is gehak agter ‘n Mazda bakkie. Hulle stoot die waterponie agteruit in die water in om dit af te kry van die sleepwa af. Vanweë die besonderse lae water moet hulle redelik ver ingaan om darem by die water uit te kom.
Die waterponie kom af en word gou vinnig vir ‘n toetsrit geneem om seker te maak alles werk. Alles werk mooi.
Intussen blyk dit dat die water net mooi sy laagste punt bereik het, en nou begin opstoot. Die manne besluit later miskien moet hulle die bakkie en die sleepwa ook maar versit na droër grond toe. Probleempie. Die bakkie skop vas in die sand. Die sleepwa wat steeds aangehak is maak dit ook nie veel makliker nie.
Ek draf na my bakkie toe om dit nader te stoot dat ek kan help sleep. Voordat ek daar kan kom spring ‘n man met ‘n Landrover Defender my voor. Ek kan darem my tou bydra tot die geleentheid. Dis ‘n fris tou, nog nooit gebruik nie, met ‘n 3 ton breek-krag. Ons hak dit aan die Landrover en die Mazda bakkie vas.
Die man van die Landrover sê my dis ‘n kinetiese tou. Ek sê hom nee, dis ‘n vaste tou. Nee, verseker hy my, dis ‘n kinetiese tou. Ek weet ek is reg, maar wil nie stry met hom nie. Ieder geval, die man benader die herwinning ook asof dit ‘n kinetiese tou is. Ek hou maar duim vas dat die tou nie breek nie.
Ek weet nie veel van herwinning af nie, maar ek het in Andrew St Pierre White se boek gelees dis ‘n gawe gedagte om die voertuig wat gesleep word se enjinkap oop te maak vir ingeval die sleephak van die sleepvoertuig dalk loskom. Aangesien die tou inderdaad aan die sleephak vasgemaak is (nie my idee nie) draf ek af na die Mazda toe om die enjinkap oop te maak.
Verskeie pogings later sit die Mazda nog net op dieselfde plek. Die manne hak later die waterponie se sleepwa af. Die Landrover probeer weer. Die Landrover begin vasskop in die sand, maar die Mazda beweeg nie.
Dan, met ‘n gelukkige toeval, trek die Landrover weer net mooi op die moment wat ‘n fris brander van agter af die Mazda laat dryf en sodoende sy agterwiele uit die sand uit lig, en daar gaan die Mazda.
Dis natuurlik hoekom dit ‘n Drifter genoem word, het ek nou maar gedink.…