pgjonker.co.za

Moedswilligheid of Voorsienigheid?

[Deur PG Jonker]

Dis nou daai tyd van ons lewe.  Die tyd wat jy ‘n tiener deur matriek probeer kry, en hy probeer om sy bestuurderslisensie te kry.  Op hierdie stadium staan die Verkeersdepartement egter nog baie breed is sy pad.  Met die laaste poging het hy die motor in tru-rat gesit waar my bakkie se tru-rat is.  Ongelukkig was dit toe waar die Corsa se vierde rat sit.  Die gevolg is dat hy toe in vierde weggetrek, in plaas van in tru-rat.  Dit sou seker nog oraait gewees het, maar die feit dat hy toe vorentoe ipv agtertoe beweeg het die toetsbeampte sodanig ontstel dat hy sommer die toets net daar gestop het.   En hy was nog nie eens op die plek waar hy sy voor-inspeksie moes hou soos per die K-53 voorskrifte nie!  Groot ongelukkigheid natuurlik by almal tuis.

Nou worstel ek met hierdie vraag.  Is dit nou moedswilligheid aan die kant van die toetsbeampte, of moet ek dit eerder sien as ‘n mate van Voorsienigheid wat dit goed ag om hom liewer nog nie op sy eie op die pad los te laat nie.  Ek meen nou maar, selfs tieners wat goed kan bestuur is ‘n verhoogde risiko op die pad, bloot omdat hulle tieners is;  ‘n toestand wat normaalweg voortduur tot in hul twintigs.  Soms hou dit vir altyd aan.

As ‘n case in point herinner ek my aan ‘n rit 30 jaar gelede.  Ek het pas skool klaargemaak, 17 jaar oud en gewapen met ‘n leerlinglisensie.  Wel, dis eintlik ontersaaklik, want die storie gaan nie oor my bestuurdery nie. 

Na ‘n vakansie in die ou Transvaal is ek toe weer op pad terug Kaap toe met ‘n geleentheid.   Ek gaan vir ‘n maand by oom Enrico Smith op die vistreiler Hoëveld II werk voordat ek Stellenbosch Universiteit toe gaan.

Die bestuurder en sy meisie is op pad Kaap toe om ouers te vra.  Sy 17 jaar oud, hy 21 – die outydse mondig.  Buite Beaufort-Wes bestuur ek, en kry ek my eerste spoed-boete. Of was dit nou Laingsburg?  Daar naby Club Lipstick.   ‘n Allemintige R17 boete oor ek toe iets soos 75km/h in die 60 sone ry.  Dit het mooi verduidelik gekos, want toe het ek ook nie my bewys van leerlinglisensie by my nie. 

Ieder geval, die storie se inleiding raak nou bietjie lank.  Van Worcester af bestuur die 21-jarige eienaar van die voertuig weer self.  Die Hugenote tonnel het toe nog nie bestaan nie, en dit was ‘n nagmerrie om agter ‘n vragmotor op die bergpas te beland.  Dus jaag almal om by soveel as moontlik trokke verby te kom voordat hulle by die pas kom.   So ook die 21-jarige.

Hy misgis hom bietjie met die verbysteek van twee trokke.  Ons is suksesvol verby trok nommer een, en die 120Y Datsun stoei teen 130km/h voort om die tweede trok ook verby te gaan.  Wanneer ons langs die loskoplorrie is word dit ooglopend dat ‘n botsing met ‘n aankomende bakkie onvermydelik is.  Die bestuurder haal bloot sy voet van die petrol af en haal die motor uit rat uit – hy besef self die futiliteit van die situasie.  Ons staar versteen na die aankomende bakkie.  Sy meisie (dertig jaar later is sy darem steeds sy vrou) laat sak haar kop.  Niemand sê ‘n woord nie. 

Dan skielik dreun die exhaust brake van die trok, en die trok se neus sak soos wat die drywer op sy remme spring.  Terselfdertyd sak die aankomende bakkie se neus vir dieselfde rede.  En, ongelooflik, is daar skielik ‘n gaping om voor die aankomende bakkie voor die trok se neus in te glip. 

Ek kry nou weer hoendervleis as ek die prentjie onthou.   En ek wonder maar net:  miskien is dit maar goed dat my tiener nog onsuksesvol was met sy bestuurderslisensie …..

PGJ

About

2 Responses to “Moedswilligheid of Voorsienigheid?”

  • Phew! Dis nou wat mens genade noem!

  • hahaha – Hoekom klink die storie soos n Jonker storie?? 🙂 Klink so bekend, amper iets wat my pa sal aanvang!!