Kla jy of spog jy?
Deur Johnie Jonker
Solank niks skeefloop nie, word koshuis-ontgroening deesdae nie-amptelik met die spreekwoordelike “hout-oog” beskou. Die moeilikheid kom as die proses te ver gevoer word en iemand beseerd – of erger, gekrenk – daarvan afkom. Die nadraai hiervan is nie goed vir enige universiteit se beeld nie, vandaar die amptelike ontkenning dat daar enige ontgroening plaasvind op HIERDIE kampus. Slegs verwelkoming en oriëntering.
Dis moeilik om te sê wanneer hierdie aktiwiteit amptelik by universiteits-koshuise weggeval het, maar itv die 1976 Helshoogte eerstejaars was dit defnitief nog nie die geval nie.
Behalwe die algehele gebrek aan slaap, was die mees helder onthoubare geleentheid een aand 11-uur in ‘n “squad”, afmarsjerende na Coetzenburg se swembad. Die eerstejaars gaan nou swem – maar meneer, ek het nie ‘n baaibroek nie!
Aangesien die ligte om die swembad af was en niemand anders daar was nie – dit was in die week voordat die ander studente na die kampus teruggekeer het, en dalk was daar boonop nog nie ligte daardie tyd nie – was ‘n baaibroek toe nie ‘n nodige voorwaarde om te kon swem nie.
Ons trek ons klere uit en spring in – groot pret – totdat daar aangekondig word dat kampusbeheer op pad is. Nie dat enigeen daar toe al geweet het wie/wat kampusbeheer was nie, alhoewel ek glo iedereen wel oor die volgende paar jaar per geleentheid sou uitvind. Maar die aankondiging het ‘n dringendheid daaromtrent gehad wat jou laat dink het dat dit iets moes wees soos Antjie Somers, wat ek uit ‘n betroubare bron verneem het, toonnaels op haar toebroodjies eet.
Dus spartel almal kant toe, net om agter te kom dat die klere wat ons so neffens hier op die graswal neergesit het, nie meer daar is nie. Amper asof dit weggeraap is. Net ons skoene dui nog die plek aan.
Nou val ons in die pad – hierdie keer egter nie in ‘n ordelike peloton nie – met hoë entropie en spoed. Twee beproefde militêre tegnieke word hoofsaaklik toegepas: Rig-op-die-bondel, wat ‘n mate van afskerming bied solank jy in die middel bly, en heg-en-steg vir die meer onafhanklike lede wat die kortste pad met die meeste dekking terug koshuis toe gesoek het.
Ek het darem nie net my skoene aangehad nie – my horlosie het my een pols bedek. Nie dat dit tot enige voordeel was nie, want toe ons tussen Erika en Serruria deur hardloop, het almal in elk geval uitgevind PRESIES hoe laat dit was, toe daar vanuit die niet ‘n paar 2e-jaars karre verskyn met ligte op helder wat ons al toetende van agter af inspireer.
Wonderbaarlik, terug by die koshuis, het al ons klere in ‘n hoop voor die hyser gelê en almal was verlig en eintlik erg tevrede met hulleself dat hulle as groep die eskapade kon meemaak.
Daar was wel iemand wat redes aangevoer het hoekom hy darem ten minste met sy onderbroek aan wou terug hardloop. Dis nou nie dat hy sy beswaar aan die groot klok wou hang nie. Dit was eerder ‘n geval van die ongemaklikheid van die hang van die groot klok self.
Die meeste van ons het stilweg by ons selwers gewonder: “Kla jy, of spog jy, my ou”?
JJJ