Hoe bedoel oom Koos dan nou?
Deur Johnie Jonker
Oom Koos Spamer op St. Helenabaai was baie goed ingerig om sy voertuie self te versien. As jy reguit by sy garage uitgery het, was jy bo-oor ‘n diensput en kon jy lekker regop als bykom wat nodig was vir enige versiening.
Van ons kon onthou het hy ‘n grys/blou Opel Rekord Mark 2 Car-a-Van gehad. Soos die een regs, onder, maar die stasiewa.
Alhoewel die motor lank (vir altyd?) in sy besit was, het dit nie eintlik ver gery nie, en was hoofsaaklik dorp toe (Vredenburg) en terug. Na die waarborg verval het, het hy aanvanklik seker self die instandhouding gedoen, maar teen die tyd dat ons begin belangstel het in hierdie tipe aktiwiteit, was dit sy seuns Willie en Kobie se werk om van tyd tot tyd op ‘n Saterdag versiening te doen onder die wakende ogie van oom Koos.
Net langs die diensput was daar ‘n werksbank onder ‘n gerieflike Port Jackson koelteboom. My broer Gideon en ek was dikwels Saterdae soontoe, en “help” maar hier en daar – dis mos darem altyd lekkerder om by iemand anders te werk as jou eie huis. Op so ‘n Saterdag is dit toe juis weer tyd vir motor versiening.
Oom Koos sit daar op sy kampstoel en gesels met ons en beduie wat gedoen moet word. Willie het ‘n onderdeel uit die kar en op die werksbank, besig om dit uitmekaar te maak. Maar duidelik was die onderdeel lanklaas in komponent formaat – dalk destyds voor montering in Port Elizabeth – en daar’s ‘n bout wat nie wil los kom nie. Hierdie is immers die Weskus, en goed roes nou maar.
Ongeag die delikaatheid daarvan, is elke stuk gereedskap ten minste een keer in sy leeftyd ‘n hamer. Dit het natuurlik die nadeel dat as jou gereedskap altyd ‘n “hamer” is, jou probleme later almal na spykers begin lyk. Maar ek dwaal af.
Oom Koos raak nou ongemaklik oor, eerstens die misbruik van sy gereedskap, maar ook oor die lewensverwagting van die onderdeel wat nou al so ‘n paar stewige houe weg het in ‘n poging om die bout los te kry. Die doel is wel om die item in stukke te kry, maar dis nie heeltemal dieselfde as stukkend nie.
Nou wil hy sy “tegnikus” vermaan om darem meer omsigtig te werk te gaan. Maar behalwe dat hy nie iemand was wat lelik praat nie, het hy boonop nou ook gaste – my broer en ek – en alhoewel hy sekerlik ‘n baie wye woordeskat gehad het, dink hy dit toe goed om sy vermaning so te rig: ”Met GEWELD, kan jy ….umm, … ’n viool teen ‘n BOOM stukkend slaan”.
JJJ