Slaat hom, pappa, slaat hom!
[Deur PG Jonker]
Dit was een van daai rowwe dae tuis gewees. Dus stuur Marga vir my, Anita (9 jaar oud) en Chris-Jan (2 jaar oud) af na die biblioteek toe. Sy’t gemeen dis beter vir haar geestestoestand dat ons liewer die biblioteek moet gaan ontwrig. Die biblioteek is reeds toe. Miskien maar goed so, nou word ons darem nog toegelaat daar – dinge mag anders verloop het as die bib nog oop was daardie dag.
Op die grasperk voor Durbanville se biblioteek is ‘n lekker speelparkie. Dis laterig die middag, so daar is niemand anders nie. Ons het die speelparkie vir onsself. Anita spring dadelik op een van daai naarmaak-wiele wat jy aan vasklou en dan in die rondte laat draai. Dis ‘n groot wiel met ‘n dubbele rand om lekker aan vas te hou. Anita sit bo-op die wiel. Ek word getaak om die wiel se energiebron te wees. Chris-Jan kyk toe. “Willie opklimmie”, sê hy.
Hoe lekkerder die wiel draai hoe nader staan Chris-Jan. Hy begin ‘n ernstig belangstelling ontwikkel tsv sy aanvanklike “willie opklimmie”. Dit word toe later “wil opklim”. Ek stop die wiel en sit hom op die wiel. Ek monteer hom nou mooi wydsbeen oor die dubbele rand en sit sy hande mooi op die pype om aan vas te hou. Die wiel is so ‘n meter bo die grond, so ek gaan maar stadig dat hy nie afval nie.
Soos Chris-Jan nou die ding agterkom geniet hy dit al meer. Hy leun in die draai in kompleet soos mens op ‘n motorfiets sou maak. Hoe vinniger dit gaan hoe meer geniet hy dit. So nou gaan ons so ‘n klein bietjie vinnigder. Ek hou hom mooi dop dat dinge darem nie te rof raak nie. Tot dit nou eintlik heel lekker vinnig gaan.
Nou ja, dit moes seker een of ander tyd gebeur. Middelpuntvlietende krag bereik toe mettertyd die deurbreekpunt waar ‘n twee-jaaroud se handjies nie meer daarteen kan stry nie, en woeps! dop Chris-Jan af van die wiel af. Hy tref die grond dat hy hik.
Die feit dat hy nie baie seer gekry het nie doen geen afbreuk aan sy entoesiasme om te skree daaroor nie. Dit vat ‘n tydjie om die ergste sand weer uit al die holtes uit te kry so tussen die spoeg en snikke deur. Mettertyd raak die snikke bietjie stiller. Dit beteken egter nie dat sy vlak van ontevredenheid enigsins verander het nie.
Nadat hy mooi tot verhaal kom toe draai hy om na die wiel toe, wys dit aan my uit en sê: “Slaat hom, pappa, slaat hom!”
Toe slaat ek hom maar. Ek meen nou die wiel, nie vir Chris-Jan nie.
PGJ
dis goed om te sien dat die maas-humorsin kan aangewend word for the good of humankind ok