Ode aan Oom Enrico
Deur Johnie Jonker
Oom Enrico was ‘n “rapper”, of hoe?
Koerantberig
Op Vrydag, 5 September 2003 berig Die Burger as volg oor die dood van Enrico Smith:
“Mnr. Enrico Smith (64), skipper van die treiler Rietvlei, het ineengestort kort nadat hy toegekyk het hoe ses van sy medevissers sowat 14 km van Yzerfontein se hawe uit ‘n vlammehel gered is. Die Saldanha-hawe-owerheid het gister om 09:25 ‘n angstige oproep van dié boot gekry wat om hulp gevra het, het mnr. Ravi Naicker , hawemeester, gesê.”
[http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2003/09/05/DB/4LDNk/01.html]
Rietvlei is te hulp gesnel deur verskeie ander treilers. Nadat Enrico verneem het dat almal veilig van die brandende Rietvlei af ontruim is, het hy aan ‘n hartaanval beswyk.
Herinneringe
As jong student het my paaie met dié van oom Enrico Smith gekruis. Hy was destyds die skipper van Hoëveld ll, ‘n vistreiler wat aan Suid-Oranje Visserye (Suiderland Ontwikkelingskorporasie), in St. Helenabaai vis gelewer het. Later het hy die skipper op Rietvlei geword.
Saam met hom het ek ‘n groot avontuur beleef die jaar na ek skool klaargemaak het. Die destydse Departement Seevisserye het ‘n buite-seisoen ekspedisie aan die Suidkus van Suid-Afrika geloods. Die doel hiervan was om vas te stel of pelagiese vis – wat normaalweg aan die Weskus voorkom – dáár voorkom. Vir 3 weke het ek ’n kajuit met oom Enrico gedeel, soms buite radarbereik van die kus af, waar Mosselbaai en Port Elizabeth ons steunhawens was. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Selfs die aanvanklike 2 dae seesiek was nie genoeg om ‘n slegte smaak aan hierdie uitstappie te gee nie.
Die slegte nuus
Doodsberigte is natuurlik altyd ‘n hartseer storie. My verhouding met oom Enrico was sodanig dat ek vir jare nie by hom sou uitkom nie, maar wanneer dit wel gebeur het, kon ons gesels asof ons mekaar gister laas gesien het. Die voortsetting van ‘n gesprek, eerder as ‘n nuwe een. En hy het altyd bly gelyk om my te sien. Dit was voorwaar ontydige nuus.
Begin van die ‘rap’-kultuur?
Ek het ‘n herinnering aan oom Enrico wat my al laat wonder het: was hy nie dalk ‘n onontdekte “rapper” nie? Nie ‘n “closet” rapper nie, maar iemand wat heel onwetend dalk hierdie kultuur begin het. Net sy tyd ver vooruit.
Sien, die huidige rapper kultuur gaan, behalwe vir die rymelary, passies op die verhoog en spastiese armbewegings, hoofsaaklik oor die kleredrag. ‘n Baie los broek, heeltemal te wyd gesny, wat laag op die heupe sit en lyk of dit NOU gaan afval. OK, dit oorvleuel met die skateboard kultuur ook, noudat ek daaraan dink.
Ek roep ‘n prentjie op van oom Enrico waar hy so wegstap van die fabriek se stoor af op pad kaai toe. Broek laag op (nee, eerder onder) die heupe. Sonder ‘n lyfband. En ons praat hier van ‘n kortbroek – en daai tyd se kortbroeke was wel kort. Niks van ‘n kniebroek snit nie.
Uit ‘n ingenieurs-oogpunt vermoed ek hy het ‘n spesiale tegniek gehad om sy broek bo te hou. ‘n Bietjie wyer uitswaai van sy bene as normaal, sodat sy knieë met elke tree die broek weer kon terugdruk. Maar partykeer moes hy maar noodgedwonge hand bysit om kuisheid te verseker.
Metafoor
So het elkeen sy eie oom Enrico, of dalk soos my vrou ‘n oom Japie – wat met sy kruisbande aan tennis gespeel het. Effe eksentriek in sekere opsigte maar deur-en-deur mens. Metafories weerspieël hierdie voorbeelde ook vir my die twee kern persoonlikhede van alle mense. Die met ‘n hoër risiko profiel (te groot broek, sonder lyfband) en dan die versigtige, konserwatiewe tipe, wat tennis speel met ‘n sportbroek en kruisbande – die letterlike versinnebeelding van die “belts and braces”-spreekwoord.
So waar pas ons in? In my eie geval het ek aanvanklik gevrees dat die oom Enrico persoonlikheid dalk te hoë risiko is. Ek meen, wat gebeur as die broek daardie kritiese punt bereik en jy het iets in jou hand? Maar dan weer, gelukkig het ek mos twee hande.
Nou ja, beskou hierdie as ‘n (baie laat) eulogie aan iemand wat vir ‘n kort rukkie tydelik my pa was, dus: ipv R.I.P. wil ek eerder sê: R.A.P. aan, my oom! [Met groot respek].
JJJ
Hello Johnie.
Ek het per ongeluk afgekom op hierdie artikel op die internet toe ek die die foto van die ou Suid-Oranje bote sien. Is dit dalk moontlik om vir my dit dit e-mail asook ‘n foto van oom Enrico. oom Enrico was een van die heel beste skippers aan ons kus en ek graag sy foto plaas hier in die S.A. Visserye Museum tussen die ander groot skippers. Indien jy nog ander fotos het van vistreilers sal ek dit waardeer.
Groete
Jaco Louw
S.A. Visserye Museum
Laaiplek