LUGHAWE STORIE
[Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=107]
[Gepubliseer as ‘n brief in By 15/3/2008]
Op ’n goeie Saterdag agtermiddag bevind ek my op die lughawe in Kaapstad. Vir die tweede keer die dag. My swaer vlieg Dublin toe waar hy die laaste vyf jaar werk.
Die oggend reeds het ons lughawe toe gery om hom in te boek sodat hy ’n sitplek kan kry wat sy lang bene kan akkommodeer, maar toe was die toonbank nog nie oop vir besprekings nie. Nou is ons weer hier.
Daar is geen sitplekke beskikbaar in ekonomie-klas met baie beenspasie nie. Swaarde verduidelik mooi vir die beamptes van die moeite wat hy het met beide knieë wat gebreek is in ‘n onderonsie met drie Marsmannetjies uit die buitenste ruimtes. In ruil vir sy innoverende poging skuif hulle hom toe na ‘n sitplek by die nooduitgang waar hy sy bene lustig kan rondswaai.
Swaer gaan loop ’n draai. Ek kry my sit op sy bagasietrollie saam met sy oorblywende bagasie en wag vir hom. Dis warm en ek haal my bril af om sweet uit my oë te vee, kop onderstebo.
Ek kyk op en deur die waas van my sonder-bril-kyk sien ek ’n swart man doelgerig op my afstap. (Ja, in die Suid-Afrikaanse konteks maak dit saak wat sy etnisiteit is.) Ek sit my bril terug op my oë en let op dis een van die portiere. Daar is niemand anders naby my nie, dus is daar geen verwarring daaroor dat hy na my toe op pad is nie.
Ek dog oeps! dalk mag ek nie op die bagasietrollie sit nie. So ek staan maar van die trollie af op, maar dit sukkel, want ek het myself so half vasgesit tussen die stukkies bagasie, en boonop sit ’n mens mos maar laag op so ’n trollie. Soos ek myself uiteindelik regop getrek kry van die trollie af, is die portier net mooi by my.
Voor ek kan keer gryp die man my aan die skouer met sy linkerhand. Met sy volgende beweging gryp hy my met die ander arm ook vas. En hy sê vir my: “My friend, don’t cry, don’t cry, everything is going to be OK”. Hy gee my ’n beerdruk dat my asem weg is terwyl hy my bly bemoedig.
Hy los my later met die een arm, maar hou my in ’n stewige greep met sy ander arm.
Met dié kom swaer teruggestap. Ek beduie vir die portier nee, ek is eintlik oukei, dáár is die man wat weggaan, waarop hy ons al twee verder troos.
“Don’t you worry, it will be better soon, everything will be OK”.
En toe is hy vort om aan te gaan met sy werksaamhede.
PG JONKER