pgjonker.co.za

Category “Afrikaans – Twakpraatjies”

Hoe bedoel oom Koos dan nou?

Saturday, 21 August, 2010

Deur Johnie Jonker

Oom Koos Spamer op St. Helenabaai was baie goed ingerig om sy voertuie self te versien. As jy reguit by sy garage uitgery het, was jy bo-oor ‘n diensput en kon jy lekker regop als bykom wat nodig was vir enige versiening.

Van ons kon onthou het hy ‘n grys/blou Opel Rekord Mark 2 Car-a-Van gehad. Soos die een regs, onder, maar die stasiewa.

Alhoewel die motor lank (vir altyd?) in sy besit was, het dit nie eintlik ver gery nie, en was hoofsaaklik dorp toe (Vredenburg) en terug.  Na die waarborg verval het, het hy aanvanklik seker self die instandhouding gedoen, maar teen die tyd dat ons begin belangstel het in hierdie tipe aktiwiteit, was dit sy seuns Willie en Kobie se werk om van tyd tot tyd op ‘n Saterdag versiening te doen onder die wakende ogie van oom Koos.

Net langs die diensput was daar ‘n werksbank onder ‘n gerieflike Port Jackson koelteboom. My broer Gideon en ek was dikwels Saterdae soontoe, en “help” maar hier en daar – dis mos darem altyd lekkerder om by iemand anders te werk as jou eie huis. Op so ‘n Saterdag is dit toe juis weer tyd vir motor versiening.

Oom Koos sit daar op sy kampstoel en gesels met ons en beduie wat gedoen moet word. Willie het ‘n onderdeel uit die kar en op die werksbank, besig om dit uitmekaar te maak. Maar duidelik was die onderdeel lanklaas in komponent formaat – dalk destyds voor montering in Port Elizabeth – en daar’s ‘n bout wat nie wil los kom nie. Hierdie is immers die Weskus, en goed roes nou maar.

Ongeag die delikaatheid daarvan, is elke stuk gereedskap ten minste een keer in sy leeftyd ‘n hamer. Dit het natuurlik die nadeel dat as jou gereedskap altyd ‘n “hamer” is, jou probleme later almal na spykers begin lyk. Maar ek dwaal af.

Oom Koos raak nou ongemaklik oor, eerstens die misbruik van sy gereedskap, maar ook oor die lewensverwagting van die onderdeel wat nou al so ‘n paar stewige houe weg het in ‘n poging om die bout los te kry. Die doel is wel om die item in stukke te kry, maar dis nie heeltemal dieselfde as stukkend nie.

Nou wil hy sy “tegnikus” vermaan om darem meer omsigtig te werk te gaan. Maar behalwe dat hy nie iemand was wat lelik praat nie, het hy boonop nou ook gaste – my broer en ek – en alhoewel hy sekerlik ‘n baie wye woordeskat gehad het, dink hy dit toe goed om sy vermaning so te rig: ”Met GEWELD, kan jy ….umm, … ’n viool teen ‘n BOOM stukkend slaan”.

JJJ…

Ons hond Zoë

Saturday, 21 August, 2010

Deur PG Jonker 

Zoë is ons tweedehandse bulhond.  Ons het haar gekry toe sy amper 6 jaar oud was al.  Saam met ‘n kombersie waarop gestaan het “British Airways, do not remove”.  Zoë is ‘n Engelse bulhond, sien.

Zoë doen nogals snaakse goed.  Ek het bietjie gaan oplees oor bulhonde om haar gedrag beter te verstaan.  Die ou wat egter die skryfwerk oor bulhonde gedoen het op die website waar ek gaan oplees het moes ‘n politikus geword het.  Of miskien eerder ‘n diplomaat.  Hy beskryf verskeie tipiese kenmerke van bulhonde sonder om ooit die woord “dom” te gebruik, of sonder om dit selfs te suggereer. 

Pig headed.  Will of its own.  Persistent. Will consider your command and decide whether it is an obeyable command.

Nee, nee, nee.  Daai ding van wonder en wik en weeg of hulle jou bevel wil nakom reken ek is eerder ‘n geval van:  “hoe bedoel die meneer dan nou?”  My vrou sê ek sal die hond se gevoelens seermaak as ek sê sy is dom.  Ons hond is dus nie dom nie.

Ons vriende se hond, Bully, het weer die gewoonte om jou aan jou knieë te byt as hy aandag wil hê.  Dis hoe hoog hy kan bykom.  Dis eintlik seker maar ‘n bedekte seën dat die hond so laag is,  noudat ek dink daaraan…

In Zoë se eerste woning was sy bevoorreg om blykbaar op die kinders se beddens te slaap.  Ongelukkig in ons huis het dit anders gewerk, hoofsaaklik te danke aan Zoë se “interessante” kenmerke.  Soos byvoorbeeld, as dit koud is, dan is sy nie lus om haar ding buite te gaan doen nie.  Dan piepie sy in haar kooi, en maak haar dan tuis op die rusbank.  En as dit blyk dat ‘n verdere wieps medies aangedui is, dan doen sy dit ook daar op die rusbank en skuif daarna bloot aan na die volgende kussing toe.   Zoë het nou ‘n eie huisie BUITE ons huis waar sy snags slaap.

Soggens is sy eerste ding voor ons slaapkamer se buitedeur.  Dan kyk sy vir ons deur die glasdeur aan met daai ‘Puss in Boots’ gesigsuitdrukking uit Schrek uit.  Geen mens kan dit uithou nie.  Dan maak ons vir haar oop.  Sy sit in afwagting en wag totdat die deur oopgaan, dan vlieg sy om, hardloop deur die tuin en gee ‘n paar blaffe vir denkbeeldige rowers en skelms. 

Maar omdat ons in die nuwe Suid-Afrika woon waar mens nie deure onbewaak kan laat oopstaan nie, kan ek nie my deur ooplos totdat sy besluit het om in te kom nie.  Dus skuif ek weer die deur toe, net om sekondes later dieselfde gesig voor die deur te hê.  En as ek dan oopmaak, dan herhaal die hele proses homself.  Dit help nie eens om vir Zoë luidkeëls aan te spreek om in te kom nie.  Dan doen sy daai ding waar sy oorweeg of sy die voorstel wil nakom of nie. 

In haar guns moet ek darem sê dat niemand kan sê dat Zoë bang is vir donderweer nie.  Tot die teendeel.  Wanneer daai blitse slaan en die donderweer raas en ander honde kruip onder hul base se beddens weg, dan is Zoë absoluut in haar element.  As die weerlig slaan, dan storm sy daar uit – sy soek daai bliksem.   Sodanig dat niemand kan slaap nie, as gevolg van haar geraas, nie as gevolg van die swaar weer nie. 

So het ek al by geleentheid ‘n halfuur op ‘n donker nat donderweersnag in my tuin rondgehardloop agter Zoë aan om haar te vang en in die huis in te bring.  Zoë kon nie haar geluk glo nie.  Dis 03h00 die oggend, die blitse slaan heerlik om haar, en boonop het haar baas uitgekom om te kom speel. 

Zoë klink op haar skrikwekkendste as sy slaap.  Sy het ‘n ernstige sinusprobleem.

Zoë in 'n aggressiewe luim

‘n Hondelewe, watwou….…

Slaat hom, pappa, slaat hom!

Wednesday, 21 July, 2010

[Deur PG Jonker]

Dit was een van daai rowwe dae tuis gewees.  Dus stuur Marga vir my, Anita (9 jaar oud) en Chris-Jan (2 jaar oud) af na die biblioteek toe.  Sy’t gemeen dis beter vir haar geestestoestand dat ons liewer die biblioteek moet gaan ontwrig.  Die biblioteek is reeds toe. Miskien maar goed so, nou word ons darem nog toegelaat daar – dinge mag anders verloop het as die bib nog oop was daardie dag. 

Op die grasperk voor Durbanville se biblioteek is ‘n lekker speelparkie.  Dis laterig die middag, so daar is niemand anders nie. Ons het die speelparkie vir onsself.  Anita spring dadelik op een van daai naarmaak-wiele wat jy aan vasklou en dan in die rondte laat draai.  Dis ‘n groot wiel met ‘n dubbele rand om lekker aan vas te hou. Anita sit bo-op die wiel.  Ek word getaak om die wiel se energiebron te wees.  Chris-Jan kyk toe. “Willie opklimmie”, sê hy.

Hoe lekkerder die wiel draai hoe nader staan Chris-Jan. Hy begin ‘n ernstig belangstelling ontwikkel tsv sy aanvanklike “willie opklimmie”.  Dit word toe later “wil opklim”.  Ek stop die wiel en sit hom op die wiel. Ek monteer hom nou mooi wydsbeen oor die dubbele rand en sit sy hande mooi op die pype om aan vas te hou. Die wiel is so ‘n meter bo die grond, so ek gaan maar stadig dat hy nie afval nie.

Soos Chris-Jan nou die ding agterkom geniet hy dit al meer. Hy leun in die draai in kompleet soos mens op ‘n motorfiets sou maak.  Hoe vinniger dit gaan hoe meer geniet hy dit. So nou gaan ons so ‘n klein bietjie vinnigder. Ek hou hom mooi dop dat dinge darem nie te rof raak nie. Tot dit nou eintlik heel lekker vinnig gaan.

Nou ja, dit moes seker een of ander tyd gebeur.  Middelpuntvlietende krag bereik toe mettertyd die deurbreekpunt waar ‘n twee-jaaroud se handjies nie meer daarteen kan stry nie, en woeps! dop Chris-Jan af van die wiel af.  Hy tref die grond dat hy hik.

Die feit dat hy nie baie seer gekry het nie doen geen afbreuk aan sy entoesiasme om te skree daaroor nie.  Dit vat ‘n tydjie om die ergste sand weer uit al die holtes uit te kry so tussen die spoeg en snikke deur.  Mettertyd raak die snikke bietjie stiller.  Dit beteken egter nie dat sy vlak van ontevredenheid enigsins verander het nie.

Nadat hy mooi tot verhaal kom toe draai hy om na die wiel toe, wys dit aan my uit en sê:  “Slaat hom, pappa, slaat hom!”

Toe slaat ek hom maar.  Ek meen nou die wiel, nie vir Chris-Jan nie.

PGJ…

Let op jou K’s en L’s

Monday, 19 July, 2010

(soos in:  “Mind your P’s and Q’s”)

[Deur Johnie Jonker]

Ek was op skool al baie geinteresseerd  in elektronika en het allerhande stroombaantjies  gebou.  By geleentheid het ek tant Johanna Spamer se stoof ook reggemaak.  Ek dink dit is met dié dat oom Koos Spamer my toe genoeg vertrou om my te vra om die ligte skakelaars in sy vleiswerk kamer te herbedraad. Daar was net een skakelaar wat 4 plekke se ligte tegelykertyd aanskakel, en dis mos nou darem ‘n vermorsing as jy net wil sien wat in die garage aangaan en die hoeder- en varkhokke se ligte kom ook aan.

Amper iets soos die prentjie hier onder.

”]”]

Ek is natuurlik heel geneë om die takie aan te pak, siende dat my sakgeld ook sodoende aangevul kon word.  Met behulp van my pa kry ons een van  die ou tipe gietyster stroombreker kaste met die porseleinsekerings in die hande, en oom Koos koop die 4 skakelaars wat benodig word. Die ligskakelaars is van die swart ronde bakeliet tipe wat jy op die oppervlak  vasskroef.  Die stroombreker  is egter nogal iets spesiaal.  Deesdae sien jy dit net in museums of in toekoms-flieks wat in verlate kragstasies geskiet word en waar die held dan die krag aanskakel met so ‘n oordrewe KLANGGG! eggo as hy die hefboom opdruk;  ‘n aksie  wat dan sommer ook die kas sluit. Nifty ontwerp vir daardie tyd.

Elke middag na skool is ek daar.  Ek  boor gate en skroef goed vas en bedraad na hartelus.  Ná so twee weke is die projek voltooi, maar natuurlik is die werk nooit klaar voordat die papierwerk nie voltooi is nie.  Vir die wat nie weet nie, of al vergeet het,  voor jy Brother etiket-drukkers gekry, het  jy mos die  DYMO gekry wat fisies die letters van agter af deur ‘n dikkerige plastiekfilm met ‘n gom onderkant gedruk het.  Sodoende “rek” die materiaal dan, wat die plastiek wit verkleur. Dus kon jy enige kleur agtergrond kry, maar die letters was altyd wit.  Dan plak jy nou jou etiket vas waar jy hom wil hê.  Die toestel het soos ‘n Scalectrix handgreep gelyk, met ‘n skyf wat jy roteer tot die regte letter in ‘n venstertjie verskyn.  Dan druk jy die sneller, en daar sit die letter in die plastiek gevorm.

Ek was nogal trots op my bedrewenheid en spoed met die DYMO.  So maak ek die etikette om elke lig se funksie aan te dui.  Soos in:   “Agterplaas”, “Garage”, “Rookkamer” en “Hoenderhok”.

Nadat my pa, wat ‘n elektriese ingenieur is, die installasie kom inspekteer en veilig verklaar het,  roep ek vir oom Koos om te kom kyk hoe als werk.  

Oom Koos doen nou eers navraag oor die koste.    Nou ja, ek sukkel vandag nog steeds om ‘n prys te maak vir mense wat ek ken, maar ek maak my prys op R2.  Dit het eintlik heel skaflik vergelyk met my 50c/per maand sakgeld van destyds – onthou nou, hierdie was laaaank terug gewees.   Nee, reken oom Koos,  dis darem te min, en gee my R5.  Ek voel natuurlik so in my skik soos een wat die boerpot gewen het.

Nou inspekteer en toets oom Koos die installasie.  Hy stuur sy seuns Kobie en Willie uit om te rapporteer of die regte skakelaar wel die regte lig aanskakel.  Alles werk 100%.  Die hoenderhok se skakelaar is laaste aan die beurt.  Hier aarsel oom Koos.  Hy druk met sy vinger op die etiket.  Nee, hier is nie so ‘n plek op sy werf nie, reken hy met ‘n ondeunde glimlag.

“Hoe bedoel oom dan nou?”  Ek is vinnig daar om te sien wat die fout is.  Ek sien wat die fout is.  Dis nogals bietjie van ‘n verleentheid – veral in die lig gesien van die feit dat my pa se bynaam boonop “Priester” was.  Ek bied aan om gou die foutjie reg te maak, maar Oom Koos reken hy …

Ode aan Oom Enrico

Saturday, 17 July, 2010

Deur Johnie Jonker

Oom Enrico was ‘n “rapper”, of hoe?

Koerantberig

Op Vrydag, 5 September 2003 berig Die Burger as volg oor die dood van Enrico Smith:

“Mnr. Enrico Smith (64), skipper van die treiler Rietvlei, het ineengestort kort nadat hy toegekyk het hoe ses van sy medevissers sowat 14 km van Yzerfontein se hawe uit ‘n vlammehel gered is.  Die Saldanha-hawe-owerheid het gister om 09:25 ‘n angstige oproep van dié boot gekry wat om hulp gevra het, het mnr. Ravi Naicker , hawemeester, gesê.” 

[http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2003/09/05/DB/4LDNk/01.html]

Rietvlei is te hulp gesnel deur verskeie ander treilers.  Nadat Enrico verneem het dat almal veilig van die brandende Rietvlei af ontruim is, het hy aan ‘n hartaanval beswyk.

Herinneringe

As jong student het my paaie met dié van oom Enrico Smith gekruis. Hy was destyds die skipper van Hoëveld ll, ‘n vistreiler wat aan Suid-Oranje Visserye (Suiderland Ontwikkelingskorporasie), in St. Helenabaai vis gelewer het.  Later het hy die skipper op Rietvlei geword.

Op voorgrond: Bella de Luna, Hoëveld II, Loeriesfontein

Saam met hom het ek ‘n groot avontuur beleef die jaar na ek skool klaargemaak het.  Die destydse Departement Seevisserye het ‘n buite-seisoen ekspedisie aan die Suidkus van Suid-Afrika geloods. Die doel hiervan was om vas te stel of pelagiese vis – wat normaalweg aan die Weskus voorkom  – dáár voorkom. Vir 3 weke het ek ’n kajuit met oom Enrico gedeel, soms buite radarbereik van die kus af, waar Mosselbaai en Port Elizabeth ons steunhawens was. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.  Selfs die aanvanklike 2 dae seesiek was nie genoeg om ‘n slegte smaak aan hierdie uitstappie te gee nie.

Stormsee Suid-Wes van Mosselbaai

Die slegte nuus

Doodsberigte is natuurlik altyd ‘n hartseer storie.  My verhouding met oom Enrico was sodanig dat ek vir jare nie by hom sou uitkom nie, maar wanneer dit wel gebeur het, kon ons gesels asof  ons mekaar gister laas gesien het. Die voortsetting van ‘n gesprek, eerder as ‘n nuwe een.  En  hy het altyd bly gelyk om my te sien.  Dit was voorwaar ontydige nuus.

Begin van die ‘rap’-kultuur?

Ek het ‘n herinnering aan oom Enrico wat my al laat wonder het:  was hy nie dalk ‘n onontdekte “rapper” nie? Nie ‘n “closet” rapper nie, maar iemand wat heel onwetend dalk hierdie kultuur begin het. Net sy tyd ver vooruit.

Sien, die huidige rapper kultuur gaan, behalwe vir die rymelary, passies op die verhoog en spastiese armbewegings, hoofsaaklik oor die kleredrag. ‘n Baie los broek, heeltemal te wyd gesny, wat laag op die heupe sit en lyk of dit NOU gaan afval.  OK, dit oorvleuel met die skateboard kultuur ook, noudat ek daaraan dink.

Ek roep ‘n prentjie op van oom Enrico waar hy so wegstap van die fabriek se stoor af op pad kaai toe.  Broek laag op (nee, eerder onder) die heupe. Sonder ‘n lyfband. En ons praat hier van ‘n kortbroek – en daai tyd se kortbroeke was wel kort. Niks van ‘n kniebroek snit nie.

Uit ‘n ingenieurs-oogpunt vermoed ek hy het ‘n spesiale tegniek gehad om sy broek bo te hou.  ‘n Bietjie wyer uitswaai van sy bene as normaal, sodat sy knieë met elke tree die broek weer kon terugdruk. Maar partykeer moes hy maar noodgedwonge  hand bysit om kuisheid te verseker.

Metafoor

So het elkeen sy eie oom Enrico, of dalk soos my vrou ‘n oom Japie – wat met sy kruisbande aan tennis gespeel het. Effe eksentriek in sekere opsigte maar deur-en-deur mens. Metafories weerspieël hierdie voorbeelde ook vir my die twee kern persoonlikhede van alle mense. Die met ‘n hoër risiko profiel (te groot broek, sonder lyfband) en dan die versigtige, konserwatiewe tipe,  wat tennis speel met ‘n sportbroek en kruisbande – die letterlike versinnebeelding van die “belts and braces”-spreekwoord.

So waar pas ons in? In my eie geval het ek aanvanklik gevrees dat die oom Enrico persoonlikheid dalk te hoë risiko is.  Ek meen, wat …

LUGHAWE STORIE

Friday, 25 June, 2010

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=107]

[Gepubliseer as ‘n brief  in By 15/3/2008]

Op ’n goeie Saterdag agtermiddag bevind ek my op die lughawe in Kaapstad. Vir die tweede keer die dag. My swaer vlieg Dublin toe waar hy die laaste vyf jaar werk.

Die oggend reeds het ons lughawe toe gery om hom in te boek sodat hy ’n sitplek kan kry wat sy lang bene kan akkommodeer, maar toe was die toonbank nog nie oop vir besprekings nie.  Nou is ons weer hier.

Daar is geen sitplekke beskikbaar in ekonomie-klas met baie beenspasie nie.  Swaarde verduidelik mooi vir die beamptes van die moeite wat hy het met beide knieë wat gebreek is in ‘n onderonsie met drie Marsmannetjies uit die buitenste ruimtes.  In ruil vir sy innoverende poging skuif hulle hom toe na ‘n sitplek by die nooduitgang waar hy sy bene lustig kan rondswaai.   

Swaer gaan loop ’n draai. Ek kry my sit op sy bagasietrollie saam met sy oorblywende bagasie en wag vir hom. Dis warm en ek haal my bril af om sweet uit my oë te vee, kop onderstebo.

Ek kyk op en deur die waas van my sonder-bril-kyk sien ek ’n swart man doelgerig op my afstap. (Ja, in die Suid-Afrikaanse konteks maak dit saak wat sy etnisiteit is.)  Ek sit my bril terug op my oë en let op dis een van die portiere.  Daar is niemand anders naby my nie, dus is daar geen verwarring daaroor dat hy na my toe op pad is nie.

Ek dog oeps! dalk mag ek nie op die bagasietrollie sit nie. So ek staan maar van die trollie af op, maar dit sukkel, want ek het myself so half vasgesit tussen die stukkies bagasie, en boonop sit ’n mens mos maar laag op so ’n trollie. Soos ek myself uiteindelik regop getrek kry van die trollie af, is die portier net mooi by my.

Voor ek kan keer gryp die man my aan die skouer met sy linkerhand. Met sy volgende beweging gryp hy my met die ander arm ook vas. En hy sê vir my: “My friend, don’t cry, don’t cry, everything is going to be OK”. Hy gee my ’n beerdruk dat my asem weg is terwyl hy my bly bemoedig.

Hy los my later met die een arm, maar hou my in ’n stewige greep met sy ander arm.

Met dié kom swaer teruggestap. Ek beduie vir die portier nee, ek is eintlik oukei, dáár is die man wat weggaan, waarop hy ons al twee verder troos.

“Don’t you worry, it will be better soon, everything will be OK”.

En toe is hy vort om aan te gaan met sy werksaamhede.

PG JONKER…

HOFSTORIES

Saturday, 19 June, 2010

[Story also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=37]

Ek het onlangs nodig gehad om die hof te besoek.  Bellville se Landdroshof.  Nee, ek was nie in die moeilikheid nie.  My bywoning was heeltemal bona fide en in die eerbare deelname aan die regsproses.

Vroegoggend is daar lang toue buite die hek.  Almal moet eers deur ‘n skandeerder gaan.  Alle AK47’s en messe en al daai goed word gekonfiskeer.  Die tou staan ver op die sypaadjie uit.  Daar is baie mense.  Daar is ook baie voertuie.  Van die soort wat hulle op die TV op “Pimp my ride” gebruik.  Maar dis die “before”-weergawes wat hier rondry.  Ploiing karre met nuwe leersitplekke en mag wiele. Custom made chroom sierroosters.  Zooped up motors, gekreukeldes, motors met verlaagde suspensies en spoilers, fur op die dashbords.  Daar is ook voertuie wat ‘n kombinasie van sommige of feitlik al voorgaande kenmerke toon.

Oorkant die pad in die son staan 5 manne.  Groot Menere.   Aangetrek met baie netjiese denims, baadjies met gewilde handelsmerke op en pette.  Nie sommer sulke bofbalkeppe nie, nee, larnie hoede, ek sê.  Goue ringe, goue armbande, goue hangers om die nek en so.  Hulle besigtig die ry van daardie kant van die pad af, ietwat uitdagend.  Dis nie die tipe manne wat jy gaan afstaar nie.

‘n Harley-Davidson kom aangery.  Hy pute-pe-pute-pe-pute op die sypaadjie op en in die rigting van die Groot Menere af.  Die Groot Menere maak respekvol pad dat meneer Harley Davidson kan parkeer.  Hy klim af en besturdeer ook die ry.  Dan stap hy oor die pad om by die ry aan te sluit.  Hy loop soos ‘n cowboy  in ‘n Wild West  fliek sal maak. Hy haal nie sy valhelm af nie.  Die Groot Menere bewonder sy motorfiets.

Dan begin die Groot Menere een vir een by die ry inval.  Voor in.  Niemand protesteer nie.  Ek ook nie, want ek is mos nie haastig nie.  

Ek kry berig dat die aangeleentheid waarvoor ek daar moet wees eers ‘n uur later gaan begin.  Ek besluit om maar gou oor te stap na Binnelandse Sake om ‘n ID boek te gaan haal.  By Binnelandse Sake is ek heel voor in die tou.  Ek voel so half verleë.  Dis so al asof mens voel jy moet liewer ‘n tou gaan soek om agter in te staan. Dis net te goed om waar te wees.  Die man agter die toonbank tik op sy rekenaar.  Ek kry ‘n sms van Binnelandse Sake af wat sê dat my ID boek gereed is om af te haal. Die man gee my ID boek vir my.  Een-en-‘n-half minuut later stap ek uit by Binnelandse Sake.  

Nou gaan val ek maar weer agter in die ry in by die hof.  Mettertyd is ek darem binne-in die gebou.  Ek gaan loop ‘n draai.  Vonkiespat en Ugly Pops was al voorheen daar,  sien ek.  

Buite keer ‘n man my voor en vra of ek hom kan sê waar hy moet wees.  Hy wys my die dokument in sy hande.  Dis een wat die Balju by hom afgelewer het wat sê hy moet daar wees vir minagting van die hof.  Ek sê jou, daar is altyd iemand met wie dit slegter gaan as met jou.

PGJ…