pgjonker.co.za

Category “Afrikaans – Twakpraatjies”

Concerto in D

Tuesday, 15 October, 2013

Konsert in Durbanville.

Hierdie week is weer Durbanville Voorbereidingskool se jaarlikse konsert.  Een van die hoogtepunte op hul en ons sosiale kalender.  En watter hoogtepunt is dit nie!

Little Mermaid is die storie wat hierdie jaar opgevoer word.  Ek moet nou bieg, hierdie is een van die Walt Disneys wat ongesiens by my verbygeglip.  Ek het dus nie die voordeel van vooraf kennis van die storie gehad nie.    Plaas ek IMDB vooraf geraadpleeg het.

Ons kry ons sit redelik naby aan voor.  Die décor wat buite die gordyn waarneembaar is, is klaar indrukwekkend.

“Jy’s onder die water,” lig my vrou my in terwyl sy na die décor wys.

“Ek kan voel ja – duidelik die Middeterreense see, eerder as die Atlantiese oseaan,” reken ek, gegewe die temperatuur.  Dis nogals half snoesig so met die stoele redelik naby aan mekaar gepak.   Teen die tyd wat die gordyne oopgaan het ‘n mamma in die ry voor ons al ‘n geveg gestop tussen haar twee vierjariges en tussen hulle plaasgeneem net om ‘n herhaling daarvan te voorkom.

Dan roffel die tromme, die ligte word gedemp, en die konsert begin met ‘n ontploffing op jou sintuie!  Die klank en die massa deelnemers met hul fluerescent kostuums op die verhoog wat die onderwater toneel uitbeeld is fassinerend.

Alles verloop natuurlik nie altyd volgens plan met so ‘n konsert nie.  Sommer met die openingstoneel sien ek hier gaan ‘n fout kom.   Die mannetjie wat Grimsby speel voel ooglopend nie lekker nie.  Klou sy maag vas.  Gelukkig is daar mos ‘n elektroniese klankbaan, so die karakters hoef net saam te mimiek.  Wat natuurlik maak dat Grimsby darem kan funksioneer.  Dan oorweldig Grimsby se naarheid hom en hy storm sommer daar na die verhoog se voorkant toe.  Met die elektroniese byklanke besef ek gelukkig betyds dis eintlik deel van die play.  Grimsby is veronderstél om seesiek te wees.

Ooglopend word niemand in die skool oorgesien vir ‘n rol nie.  ‘n Hele span nonne storm op die verhoog op.

“Dis seevoëls, nie pikkewyne nie,” fluister my vrou in my oor.  Ek het dit geweet, natuurlik.

Later is daar groot vrolikheid in koning Triton se onderwater koninkryk.  Ek is nie mooi seker wat almal is nie, maar ‘n crowd met sulke bossiekoppe maak hulle verskyning.  My vrou reken hulle is eals.  Seeslange?  Ek twyfel.  Maar hierdie was die onbedoelde hoogtepunt van die aand vir my:

In die tweede ry van voor af is daar twee mannetjies met sulke stoutgatgesiggies.  Hulle kan ‘n tweeling wees.  Ek weet nie of hulle by die script gehou het nie.  My raai is dat hulle met hulle eie konsert besig was.  Hulle dans, trek vir mekaar gesigte, wys zap signs (darem nou nie van daai soort wat jy suksesvol met een vinger kan doen nie) en geniet hulle absoluut gate uit.  Báie snaaks.

Ek bly verstom dat kinders van hierdie ouderdom só kan toneelspeel.  Scuttle, die hoof seemeeu, Sebastian, die rooi kreef wat later moet double up as Mermaid se lyfwag, wie se lyftaal dikwels meer moet sê as wat van die ander akteurs met hul woorde uitdruk.  Wel, ok, nie heeltemal hulle eie woorde nie, maar close.

Flounder, die klein tropiese vissie, doen by uitstek haar rol gestand deur oortuigende gesigsuitdrukkings.  Veral wanneer Ariel verlief raak, en Sebastian die krap erg kratervol is vir dié verwikkeling.  [Ek sien daar heers ‘n debat op Google oor watse tipe vissie Flounder is.  Ek was nie naastenby die eerste een wie dit ge-Google het nie.]

Die tegnologie wat gebruik word is fenomenaal.  Dis lasers en ligte en musiek, blitse, ‘n storm op see, die werke.  Tussen scenes glip twee onderwysers gou in die agtergrond op die verhoog en maak die geverfde agtergrond soos groot blaaiborde oop om ‘n nuwe toneelagtergrond te skep.

Die kindertjies wat in die stuk speel is natuurlik nog grootliks hulle eerlike self.  Sommiges se ogies blink van genot.  Sommige lyk oorweldig.  Ander is …

Die ‘Hall’

Tuesday, 12 October, 2010

Weskusstorie

Deur Johnie Jonker 

Jare gelede het daar op St Helenabaai ‘n man gewoon met die van Jonker, maar mens sou verskoon kon word as jy gedink het sy van was Meneerjonker, want dis hoe die meeste mense hom aangespreek het.

Meneerjonker was die bestuurder van een van die visfabrieke, Suid-Oranje Visserye Bpk, geleë te Sandy Punt.  As jy van Vredenburg af gekom het, het jy eers by West Point, Brandhuis, Steenberg’s Cove (met die hotel, polisiestasie, slaghuis, winkel en poskantoor) verbygery. Dan om die draai by die Pienaars se plaas op linkerkant, en net daarna SOV aan die regterkant. Hierdie fabriek was die breinkind van wyle AP du Preez, en die ontstaan daarvan is genoodsaak deur vooruitgang, en wel van die volgende aard.

AP du Preez se eerste fabriek, Midwest Canning Co, was langs die Pedro’s se Padkafee (deesdae ‘n backpacker’s lodge) binne die rifbeskutte Vioolbaai geleë.  Eendag met spring gety kom een van die bote terug van die see af kaai toe via die gaping in die rif met ‘n buitengewone swaar vrag vis (jy kon dit nog nie ‘n vistreiler noem nie, want dit was te klein, maar dit sou in die plaaslike spreektaal onder die kategorie van “skeide” val).

Toe steek die boot se kiel vas op die sandbodem, en moes wag vir hoogwater om te kon afdryf. Intussen blokkeer dit die ingang deur die rif, en die ander vol skeide kan ook nie vis aflaai nie.

Geen problem:  die opening in die rif word dieper geskiet, en vir ‘n ruk lank is die ou sakie opgelos, maar AP du Preez weet dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat nuwe bote heelwat groter as die huidiges gaan wees, en dan glad nie deur die passasie kan vaar nie. Toe bou hy solank ‘n nuwe fabriek, SOV.

Nadat die nuwe fabriek ingebruik geneem is, is daar nog vir ‘n ruk lank kreef verpak by Midwest, want dit is gevang deur skeide (40 voet Tjak-Tjakkies) wat wel deur die rif kon kom, maar dis ook later gestaak. Toe ontstaan die vraag:  Wat nou gemaak met die ou fabriek, want dit staan nou leeg en loop gevolglik sleg deur onder vandalisme.

[Dit was great fun om die klein venstertjies van die gebou met klippe uit te gooi – so is my vertel – PGJ]

Waar die nuwe fabriek wel tekort geskiet het, was in stoorspasie om die sakke vismeel te stoor, 20 op ‘n pallet, 4 pallette hoog. Want as al die fabrieke volstoom gewerk het, kon SAS & H nie voorbly met die wegry daarvan met hulle RIO trokke na Vredenburg se stasie nie (die bestaan ook nie meer nie, verstaan ek), vanwaar dit verder versprei is.

 Daar word toe besluit om Midwest vir ‘n transito stoor te gebruik, en oom Gert Smit (sien http://pgjonker.co.za/?p=551) ry heeldag, week na week vismeel aan met die MAN trok na die ou fabriek, wat net so 2 km weg was, tot die Spoorweë die agterstand ingehaal het.

November breek aan, met jaar-eind-funksies wat deur elke gemeenskap gehou word en wat gewoonlik uit ‘n dans met ‘n plaaslike orkes bestaan. Die probleem is net, daar is nie ‘n danssaal op St Helenabaai nie.

Omdat die visseisoen destyds geloop vanaf 1 Januarie tot 31 Augustus, was al die vismeel teen Oktober egter reeds weggery “dorp” (Vredenburg) toe, en die organiseerders kom toe op die idee om te hoor of hulle nie een van Midwest se leë vismeelstore kon gebruik vir hulle funksie nie.

Daar was voordele in vir beide partye: Die dans-organiseerders kry die saal verniet, en die fabriek kry ‘n baie mooi skoongemaakte stoorplek terug vir die nuwe seisoen.  Dus ‘n simbiotiese verhouding. Die een of twee aande in die jaar wat Meneerjonker en sy gesin tot die vroeë oggend-ure moes wakker lê en die musiek verduur (dit was nie sy soort nie) wat van die see af …

Van kinders en al daai

Monday, 4 October, 2010

Van kinders en al daai

Deur PG Jonker

Hierdie ding van kinders groot maak, Eisj!

My oudste is nou 18 jaar oud.  Die law  sê hy is nou ‘n grootmens,  maar ek het gedink hy moet maar nog ‘n bietjie groei.  Noudat hy ‘n bestuurderslisensie en toegang tot wiele het, het daar ‘n nuwe wêreld oopgegaan.

Toe hy jonger was het ons vreeslik mooi gekyk na wat hy op die TV kyk.  Hom probeer beskerm teen al die goed wat vir ons vertel is sleg is vir jong bloedjies in hul vormingsjare.  Na baie jare se indril van hierdie beginsels het ons ‘n mate van sukses bereik en het hy die beginsels mooi verstaan.  Tot ek op ‘n dag toe ek by die TV-kamer instap en hy vir my sê ek moenie nou kyk nie, ek gaan nie daarvan hou nie.  Intussen kyk hy rustig voort.

Ek dink dis min of meer toe wat ek begin opgee het op hierdie kinders grootmaak ding.    Miskien raak mens ook maar mak oor tyd.  Ek meen, as een van my kinders nou ‘n muntstuk sou insluk trek ek dit bloot net van sy sakgeld af ipv om hospitaal toe te jaag om sy maag te laat leegpomp.

 ‘n Groot mylpaal was natuurlik net om 18 jaar oud te raak.  Die oomblik toe dit gebeur toe was die cool ding om na ‘n pub toe te kan gaan, gevra te word vir jou ID, en dan soos mr Cool jou ID te kan uithaal wat inderdaad bevestig dat jy 18 jaar oud is.  Die feit dat jy moontlik  binne vra vir Rooibos tee is ontersaaklik.  Die magic is om toegelaat te word tot die pub.

Die nexte ding was om ‘n bestuurderslisensie te kry.  Dit was bietjie lastig gewees.  Die Verkeersdepartement en hy het bietjie van ‘n meningsverskil gehad oor sy bestuursvaardighede.  Ons trek toe later by die vierde probeerslag.  My senuwees was heeltemal op.  ‘n Uur-en-‘n-half later het ek nog niks van hom gehoor nie, en moes ek toe aanvaar dit was weer so.  Uiteindelik bel hy my met ‘n swaar stem en se:  “Ek het nie ….. gedop nie.” 

Met wiele en ‘n lisensie kom natuurlik mobiliteit.  Nou een aand sê hy my hy gaan gou na ‘n pel toe. 

“Dis kwart-oor-tien,” protesteer ek. 

“Ja, pa-hulle moet seker al gaan slaap,” reken hy.

Volgende jaar moet hy gaan swot.  Een moontlikheid was varsity & koshuisverblyf.  My vrou was baie opgewonde oor die vooruitsig dat hy ‘n slaggie uit die huis uit kan kom.  Net om ‘n maand later te wonder of ons nie maar Stellenbosch toe moet trek nie.  ??!  Intussen het my seun ons ingelig dat hy dit nie aan ons gaan doen nie.  Hy bly sommer in die huis en swot uit die huis uit.  Maar eers moet hy matriek deurkom EN toelating kry tot ‘n bekostigbare studie-plek.  Nou verstaan ek daar is ‘n kwota stelsel van toepassing op toelating.  Ons hoop maar vir die beste en hou die tantrums daaroor vir later – hopelik is dit nie nodig nie.

Intussen het ek nou op ‘n baie gesaghebbend bron afgekom oor tieners in die huis.  Die strokieskarakter ZITS in Die Burger is waarskynlik die getrouste uitbeelding van ‘n tiener in die huis wat ek nog gesien het.  Dankie tog vir goeie handleidings.

Maar daar is nog twee wat in sy voetspore moet volg.  Die jongste van die drie is 8 jaar oud.  Maar oor hy ‘n sussie van 15 jaar en ‘n boetjie van 18 jaar oud het dink hy al klaar hy is ‘n  tiener.  Ja, ja, ek weet, daar is nogals bietjie van ‘n groot gaping tussen my oudste en my jongste.  My vrou sê ons het dit so beplan….

PGJ…

SANDSTORIES

Monday, 4 October, 2010

Deur PG Jonker

[Ook op http://blogs.litnet.co.za/pgjonker/Hello-world]

My vrou lig my een Saterdagoggend in dis tyd om die speelskooltjie wat van die huis af bedryf word se sandput aan te vul.  Dis ‘n periodieke gebeurlikheid.  Ek wonder natuurlik altyd waarheen die ou sand is.  Ek meen, die kleingoed kan tog nie die sand opeet nie?  Of dan weer, dalk kan hulle.

Normaalweg kry ek sommer vir my ‘n paar los sakke sand.  Dan is dit heel eenvoudig.  Ek stoot die bakkie agteruit in my jaart in tot sover ek kan kom, tel die 10 vyftig-kilogram sakke op (een op ‘n slag, anders is die pret te gou oor) en gaan gooi dit in die sandput..

Aangesien ek hierdie keer ‘n paar dae verlof tot my beskikking het besluit ek toe op ‘n bakkie-vrag sand ipv die sakke-sand ding.  Dis eintlik heel eenvoudig.  Ek trek daar by die bou-plek in met die bakkie, hulle gooi hom gelyk vol sand teen ‘n fraksie van die prys van 10 sakke sand, en daar gaan ek.      

By die huis dink die kinders natuurlik hierdie mobiele sandput is ‘n cool ding.  Hule is dadelik agter in die bakkie in en speel op die sand, terwyl ek nou maar so stuk stuk die sand onder hulle weg werk.

Sedert die vorige keer se sand-aanvul oefening het daar ‘n trekkerbuiteband bygekom as ‘n anneks tot die sandput. Dus moet die trekkerband eers vol sand gegooi word.  Maar ek sien darem nie kans om weer daai vragte met ‘n graaf uit die kruiwa te skep nie.  Dus besluit ek om ‘n ‘ramp’ te bou om tot bo-op die trekkerband te ry.

Weet jy hoe breed is so ‘n trekkerband? Vreeslik breed. Dus, indien die trekkerband op sy sy lê dan is breedte  natuurlik eweredig aan hoogte.  Welke hoogte baasgeraak moet word met die kruiwavrag. Eers het ek 2 planke met ‘n tou aan mekaar vasgemaak.  Maar dis so ‘n simpel nylon tou waarvan jy nie die knope styf genoeg getrek kan kry nie. So dis so goed soos daar is nie ‘n tou aan nie.

Nietemin, Supervan besluit om die ramp maar in elk geval so aan te durf.

Ek kry my eerste kruiwa-vrag vol sand en [hardloop] [draf] [stap] wankel na die buiteband toe. Mens moet natuurlik spoed hê om die ramp uit te hardloop met die kruiwa. Maar deesdae staan daai hele jaart vol klimrame en al daai. So jy kan nie spoed kry nie.  So eers navigeer ek tussen al die speelrame deur tot by die onderpunt van my ramp.  Maar nou is daar nie meer spasie oor om spoed te kry nie. Ek het in elk geval intussen my bedenkinge gekry oor die spoed-ding. Kan jy jou voorstel ek hardloop met ‘n spoed die ramp uit, die planke beweeg weg van mekaar af en ek en kruiwa val tussen die planke deur – jy kry die prentjie.

Nou ja toe, met brute krag beur ek toe maar die ramp uit.  Eintlik, al wat ek moet doen is om bo te kom. Die res is veronderstel om so half vanself te gebeur.  Jy druk mos maar die kruiwa se punt iewers vas, tip hom oor en swaartekrag doen die res. So daar gaan ons. Kom bo. Met momentum. Ek kan nie meer die formule van momentum onthou nie, maar massa was een van die veranderlikes. So hou nou in gedagte die 75kg sand plus die kruiwa se seker 20kg en my gewig agterna. Bo gekom is daar niks om die ding teen te stop om hom te tip nie. En ja, weliswaar gebeur die res so half vanself. Die kruiwa foeter bo van die planke af kop eerste binne-in die trekkerband in. Ek kry myself darem gestut teen die kruiwa se handvatsels voordat ek agterna kan val. Gelukkig is daar mos in elk geval nie eintlik plek vir my én die …

S%^&t-stories

Friday, 24 September, 2010

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=623]

Semper in excretum, sed alta variet

Deur PG Jonker

Frikkie huur ‘n huis op ‘n plaas.  Ons gaan kuier vir hulle.  Onder andere werk ons aan ‘n toer Richtersveld toe.  Ek het talle navrae gedoen, maar die advies is deurgaans dat mens ‘n viertrekvoertuig nodig het daarvoor.  Ná ons uitstappie Epupa valle toe met my Venture het ek gereken ek moet dalk maar vir my ‘n viertrek voertuig aanskaf as ek sulke tipe vakansies wil gaan hou.  Ek is te ‘n senuweeagtige reisiger om effens rowwe paaie te ry met ‘n gewone voertuig.  Die viertrek funksionaliteit moet opmaak vir my gebrek aan vernuf en selfvertroue.

Agter een van Frikkie se buite-geboue staan ‘n Mahindra stasiewa.  ‘n Oue.  Dit lyk meer soos iets wat in die Angola oorlog buitemaak is.  Dalk was dit, ek kan nie onthou nie.  Frikkie het aangebied dat ek met die Mahindra Richtersveld toe kan gaan.  Sy se voorstel dat hy my ‘n drie dae voorsprong sal gee laat my tog ‘n paar bedenkinge oor die voorstel hê.

‘n Probleem van ‘n heel ander aard verg egter hierdie naweek aandag.  Die sanitasie op ‘n plaas werk natuurlik anders as dié in die dorp met dié dat daar nie ‘n aansluiting met die plaaslike munisipaliteit se dreineringswerke is nie.  Dus moet jy jou eie put hê.  Ek meen nou nie soos in ‘n longdrop nie.  Daar is properse spoeltoilette, dis net, dit loop in ‘n mensgeboude put in en so aan. 

Ieder geval, Saterdagmiddag kom ons agter die drein is verstop.  Frikkie is ‘n handige ou met baie planne in sy mou.  Hy het ‘n klompie van hierdie planne geprobeer, maar ten spyte daarvan het die porseleintoestel verstop gebly. 

Frikkie reken toe al genade nou is om te gaan loer wat in daardie put aangaan.  Hy gaan loer toe daar.  En kom rapporteer dat hy nou weet hoe om die probleem op te los.  Dis baie eenvoudig.  Ons moet net die put leegmaak.  Dit klink vir my na ‘n heel logiese plan.  So hoe gaan jy dit doen, wonder ek toe.  Met ‘n kruiwa en ‘n graaf, is die antwoord. 

Eisj!  Of eintlik, Seisj!

Frikkie trek sy waterstewels aan en klim in die put.  Kniediep in die poef.  Letterlik.  Ek beman die kruiwa.  Frikkie skep.  Dit raak later uitputtend om my lippe so vreeslik styf toegepers te hou, so ek staan maar later ‘n entjie weg.  Wanneer die kruiwa vol is dan ry ek hom weg na die verste hoek van die erf toe waar ek die inhoud leegmaak en die kruiwa terugbring.  So op die manier het ons toe heeltemal ‘n prettige namiddag.  Voor sononder toe werk al die sanitêre toestelle op die werf weer soos dit moet. 

Ja-nee, jy kan maar sê en en Frikkie is al saam deur diep dinge.  My eetlus was net so bietjie gedemp van hierdie oefening.

PGJ…

Oom Gert

Friday, 10 September, 2010

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=554]

Deur PG Jonker

Oom Gert Smit het altyd die lorrie gery by Suid-Oranje Vissery op St. Helenabaai.  Mooi stadig, geduldig, met ‘n lankmoedigheid wat hom hom uitgeknip gelaat het vir die werk.

In 1970 rond skaf die fabriek ‘n MAN loskop lorrie aan.   Hierdie lorrie het Oom Gert se baba geword.  Hy alleen het die lorrie gery.  Vir dekades.  Die lorrie is soos ‘n baba opgepas, het nooit vinnger as 80km/h gery nie, en was te alle tye in tip-top kondisie.  Oom Gert het mooi na sy goed gekyk.

Op ‘n dag is Oom Gert op ‘n trip Luderitz toe.  Maar dis ‘n lang pad, so hy moet ‘n hulpdrywer saamneem.  Oom Gert is nie lus vir ‘n hulpdrywer nie, hy kan self ry.  Maar hy neem nou maar sy hulpdrywer saam, want hy moet.  Dié is ewe bly om ‘n slaggie weg te kom van die fabriek af om iets anders te doen.  En om ‘n slag ‘n kans te kry om die MAN lorrie te bestuur.

Vroeg oggend vertrek hulle op St. Helenabaai.  Oom Gert bestuur.  Tagtig km per uur, soos altyd.  Teen 80km/h vat dit nogals ‘n tydjie om op enige plek uit te kom, maar dit vat in besonder lank om by Luderitz uit te kom.   Maar Oom Gert is nie haastig nie.   Oom Gert stop ook nie eintlik nie.  Die trok het groot dieseltenks, en dit is hoogstens blaaskapasiteit en miskien honger wat Oom Gert noop om te stop.  Oom Gert raak ook nie moeg nie.  Dus, teen die tyd wat hulle in Luderitz kom is Oom Gert se hulpdrywer al moeg gewag, maat hy het nog niks beurt gekry om te bestuur nie.

Maar nou ja, ten minste bied Luderitz ‘n mooi uitsig, en die vooruitsig om lekker in ‘n gastehuis te oornag, reken die hulpdrywer.

Die lorrie word afgelaai in Luderitz.   ‘n Uur later reken Oom Gert:   “Ek is haastig, kom ons ry.”

“Hoe bedoel oom dan nou?”

“Ons ry terug huis toe.”

En daar is die trok weer op pad terug op die langpad,  St Helenabaai toe, steeds met Oom Gert (heelpad) agter die wiel, 80km/h, tot op St Helenabaai.

Oom Gert het later afgetree.  Die tannie is later oorlede, en Oom Gert het alleen in hulle huisie aangebly.  Tot hier in Augustus 2010 toe inbrekers een nag gekom het.  Oom Gert het nie die aanval oorleef nie.  Hy was 88 jaar oud. 

Rus sag, Oom Gert.  Ons harte is seer dat dit só gebeur het.

PGJ…

Kaptein

Friday, 10 September, 2010

Deur PG Jonker

Die een vreemdheid van die Weermag (diensplig) is dat gewone burgerlikes skielik in ‘n rangstruktuur moet inpas waar iemand wie dalk buite die Weermag laer as hy op die sosiale voedingsketting sou wees, nou bo hom in die bevelstruktuur staan.  Dit kan lei tot konflik.

Neem nou maar byvoorbeeld rugby.  Diskobolos, Kimberley, lank terug.  Een van die dienspligtiges is ‘n vermaarde rugbyspeler.  Hy weet wat hy doen, en hy kan dit goed doen.  Ook is hy gewoond dat, vanweë sy bewese vaardighede, hy normaalweg ook die aanvoerder is van enige span waarin hy speel.

Maar nou werk ding effens anders mos in die Weermag.  Die Kaptein (ek meen nou die ou met die drie sterre op elke skouer) is ook die kaptein van die rugbyspan.  Dit beteken nie dat hy noodwendig ook weet wat hy doen nie, maar hy is nogtans die ou met die hoogste rang in die span, en daarom is hy ook die aanvoerder van die span.

Tydens ‘n oefening begin die dienspligtige nou lekker in sy element kom.  Hy is in sy gemaksone.  Hy oefen sy hart uit.  Hy moedig sy spanmaats luidkeëls aan, gee raad waar nodig is, en komplimenteer waar komplimente aan die orde is.  Dis sy ding daai, hy is gewoond dit werk so.

Die Kaptein, aan die ander kant, is ewe gewoond dat laer range luister wanneer hy praat, nie terugpraat nie, en oor die algemeen slegs praat wanneer hulle opgeroep word om te praat.  Dit is nou in soverre dit sy staande mag lede betref van laer range.  Dienspligtiges, daarenteen, figureer nêrens op sy radar nie.  Hulle word nie eens mee gepraat anders as om hulle periodiek wit muur toe en terug, of brandkraan toe en terug te jaag nie. 

Kaptein begin dus nou redelik gefrustreerd raak met hierdie dienspligte wat nou so half lyk asof hy die span begin oorneem.

So stop Kaptein nou eers die oefening en roep die dienspligtige nader.  Dan dring hy by die dienpligtige aan om te weet wie die kaptein is.  Dis soos daardie retoriese vrae wat jou laerskool juffrou vir jou vra.  Jy weet wat die antwoord is, maar terselfdertyd moet jou gou vinnig probeer uitwerk wat die eintlik doel van die vraag is, juis omdat die antwoord voor-die-hand-liggend is.  In hierdie geval was daar natuurlik ook nie veel variasies op die tema nie, en was daar ook net een antwoord:

“Jammer, Kaptein, nee, Kaptein.  Kaptein is kaptein, Kaptein.”

PGJ…

Kla jy of spog jy?

Sunday, 29 August, 2010

Deur Johnie Jonker 

Solank niks skeefloop nie, word koshuis-ontgroening deesdae nie-amptelik met die spreekwoordelike “hout-oog” beskou.  Die moeilikheid kom as die proses te ver gevoer word en iemand beseerd – of erger, gekrenk – daarvan afkom. Die nadraai hiervan is nie goed vir enige universiteit se beeld nie, vandaar die amptelike ontkenning dat daar enige ontgroening plaasvind op HIERDIE kampus. Slegs verwelkoming en oriëntering.

Dis moeilik om te sê wanneer hierdie aktiwiteit amptelik by universiteits-koshuise weggeval het, maar itv die 1976 Helshoogte eerstejaars was dit defnitief nog nie die geval nie.

Behalwe die algehele gebrek aan slaap, was die mees helder onthoubare geleentheid een aand 11-uur in ‘n “squad”, afmarsjerende na Coetzenburg se swembad. Die eerstejaars gaan nou swem – maar meneer, ek het nie ‘n baaibroek nie!

Aangesien die ligte om die swembad af was en niemand anders daar was nie – dit was in die week voordat die ander studente na die kampus teruggekeer het, en dalk was daar boonop nog nie ligte daardie tyd nie – was ‘n baaibroek toe nie ‘n nodige voorwaarde om te kon swem nie.

Ons trek ons klere uit en spring in – groot pret – totdat daar aangekondig word dat kampusbeheer op pad is. Nie dat enigeen daar toe al geweet het wie/wat kampusbeheer was nie, alhoewel ek glo iedereen wel oor die volgende paar jaar per geleentheid sou uitvind. Maar die aankondiging het ‘n dringendheid daaromtrent gehad wat jou laat dink het dat dit iets moes wees soos Antjie Somers, wat ek uit ‘n betroubare bron verneem het, toonnaels op haar toebroodjies eet.

Dus spartel almal kant toe, net om agter te kom dat die klere wat ons so neffens hier op die graswal neergesit het, nie meer daar is nie. Amper asof dit weggeraap is. Net ons skoene dui nog die plek aan.

Nou val ons in die pad – hierdie keer egter nie in ‘n ordelike peloton nie – met hoë entropie en spoed. Twee beproefde militêre tegnieke word hoofsaaklik toegepas: Rig-op-die-bondel, wat ‘n mate van afskerming bied solank jy in die middel bly, en heg-en-steg vir die meer onafhanklike lede wat die kortste pad met die meeste dekking terug koshuis toe gesoek het.

Ek het darem nie net my skoene aangehad nie – my horlosie het my een pols bedek. Nie dat dit tot enige voordeel was nie, want toe ons tussen Erika en Serruria deur hardloop, het almal in elk geval uitgevind PRESIES hoe laat dit was, toe daar vanuit die niet ‘n paar 2e-jaars karre verskyn met ligte op helder wat ons al toetende van agter af inspireer.

Wonderbaarlik, terug by die koshuis, het al ons klere in ‘n hoop voor die hyser gelê en almal was verlig en eintlik erg tevrede met hulleself dat hulle as groep die eskapade kon meemaak.

Daar was wel iemand wat redes aangevoer het hoekom hy darem ten minste met sy onderbroek aan wou terug hardloop. Dis nou nie dat hy sy beswaar aan die groot klok wou hang nie. Dit was eerder ‘n geval van die ongemaklikheid van die hang van die groot klok self.

Die meeste van ons het stilweg by ons selwers gewonder: “Kla jy, of spog jy, my ou”?

JJJ…

Rugby op Nuweland

Sunday, 29 August, 2010

[Gepubliseer in By, 3 Mei 2008]

Deur PG Jonker

SA v Australië, Drie-Nasies, Junie 2007

‘n Vriend bel my die Saterdag-middag omtrent ‘n halfuur voordat die toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Australië op Nuweland begin om te verneem of ek belangstel om te gaan kyk.  Ek moet net eers die kaartjie in Milnerton gaan optel, sê hy.

Ek spring in die motor en ry van Durbanville af, tel die kaartjie op in Milnerton, ry deur die (op daardie stadium) verlate strate deur Kaapstad en arriveer vyf minute nadat die wedstryd begin by Nuweland.  Ek het goeie hoop om darem nog die grootste deel van die wedstryd te sien.  Maar dis nogal ‘n storie om parkering te kry.  Op en af, heen en weer, ek is later heel verdwaal.  Ek kry uiteindelik parkering, maar seker 2 km weg van die stadion af.

Nou draf ek maar aan stadion toe.  Ek kom van die Suide-kant af, net om agter te kom ek moet by hek #24 wees, wat heel aan die Noordekant van die stadion is.  Toe ek dus uiteindelik natgesweet binne-in die stadion aankom toe sê die horlosie teen die Suid-pawiljoen daar is nog 14 minute oor van die eerste helfte.  Die Springbokke loop 10 – 3 voor.

Nou strompel ek na my sitplek toe. Op pad sountoe skrou ‘n ou hier van die kant af vir my ‘n hartlike verwelkoming.  Ek weet nie of hy van nature joviaal is nie.  Eintlik dink ek hy het my met iemand anders verwar.  Ek groet ewe hartlik terug.  Ek mik na my sitplek toe, maar daar sit reeds ‘n kêrel.  En hy konsentreer regtig hard op die spel.  Ek spring op en af, roep, swaai my kaartjie rond, maar daai man sien niks behalwe die rugby nie.  Ek sal tog meer moet begin eet dat ek bietjie kan lyf kry.  Gelukkig is die 2 sitplekke agter hom oop, en ek sit maar sommer daar. 

Die toeskouer regs voor my draai om en berispe my dat ek so laat is.  Ek vra om verskoning en verduidelik dat ek mos nou eers drie-uur my kaartjie in Milnerton moes kry en deur die stad moes ry en parkering moes soek en moes hardloop na die stadion toe en …..  Hy is baie bly ek is daar en skud blad met my.   “Ja”, kom dit van die sitplek agter my af, “waar was jy, ons wag al heelmiddag vir jou!”

Miskien is dit die ding van rugby kyk op Nuweland.  Almal is baie bly om jou te sien, al weet hulle nie wie jy is nie, en selfs sonder dat hulle gesuip is.  Jy moet darem net vir die regte span skree.

Die rugby kyk self is bietjie van ‘n teleurstelling.  Dis amper soos om sonder my bril TV te kyk.  Dour ver jaag 30 ouens ‘n rugbybal.  En van waar ek sit kan ons nie die groot skerm sien om die kyk-weer aksie te sien nie.  Maar die stemming is besonders.  Alhoewel dit nie te watwonders was op die stadium wat die Springbokke 19-10 agter was nie. 

Twee jong latte probeer die Mexikaanse golf aan die gang kry, maar dit hou net so 5 rye sitplekke ver.  Die man agter my verduidelik ‘n mens doen nie ‘n Mexican wave as jy verloor nie, net as jy wen – dis hoekom dit nie werk nie. Maak eintlik sin, meen ek.  So leer mens allerhande goed van rugby as jy op Nuweland is.

Seker die grootste momente van die deel van die wedstryd wat ek wel gesien het was die 2 skepskoppe deur Frans Steyn.  Toe hy die telling gelykop maak met die eerste een is dit omtrent soos ‘n donderbuis wat afgaan soos almal op die pawiljoen mal gaan.

Die man wat op my sitplek sit en sy pel twee sitplekke verder aan is Ozzie ondersteuners.  Tussen hulle sit hulle rasta-pel wie ‘n Springbok ondersteuner is.  Hy kry …

My Muisie se naam is Cha-Cha

Sunday, 29 August, 2010

Speelskooltanniedinge

Deur PG Jonker

By geleentheid is Chris-Jan se speelgroepie op ‘n uitstappie na ‘n plaas in Adderleystraat. Nee, nie die Adderleystraat in Kaapstad nie, die een aan die buitewyke van Durbanville. Ja, daar is wraggies so ‘n straat, maar daar staan nie ‘n standbeeld waar die duiwe op kan mis nie. Hulle moet hulle besigheid elders gaan doen. Die doel van die uitstappie was dat die kindertjies ‘n demonstrasie kry van hoe die boer nat koring droogmaak. Moet sê, dit was vir my ook nuus dat jy dit kan doen. Ek het geweet koring kan roes, maar ek het nie geweet jy kan dit droog kry nie. Ek wonder of dit dan die roes keer? In ieder geval, ná die boer se vertoning met die koringdroogmaakding toe is almal nou weer op pad terug huis toe. Maar nou is die spulletjie se fut al bietjie uit en hul lus vir stilsit min.

Marga is saam om te help toesig hou. Sy was self voorheen ‘n speelskooltannie gewees. So neem sy dit op haar om die spannetjie besig te hou sodat haar vriendin ongestoord die bussie kan bestuur. Elkeen kry ‘n muisie. ‘n Denkbeeldige muisie wat Marga onder haar trui uithaal, een vir een. Almal is vreeslik opgewonde oor hul muisies. Dis net een mannetjie (ek noem hom maar Jannie) wat bietjie ongeduldig is. Sien, soos die geluk dit wil hê sit Jannie en sy maatjie op die agterste sitplek. Dus kom hulle laaste aan die beurt om hul muise te kry. En net om seker te maak dat Marga nie dalk oorweeg om hom vir heel laaste te los nie, dring Jannie toe daarop aan om sy muis te kry voordat sy maatjie een kry. Ter wille van die vrede gee Marga in, en so kry Jannie sy maatjie se muisie. Maar Marga kon darem toe nie help om vir Jannie te verduidelik dat die laaste muis wat vir hom bedoel was eintlik ‘n baie spesiale muis was. Maar as hy dan nou so wil wees, dan het sy maatjie nou daardie spesiale muis gekry.

Maar Jannie laat hom nie vermaak van hierdie tipe sielkunde nie. Hy slaan sy maatjie totdat dié inskiklik is om muise te ruil. So, nou het Jannie in elk geval sy spesiale muis sonder dat hy hoef te gewag het tot heel laaste. En hy is baie tevrede met homself. Nou speel almal met hul muisies.

“My muisie is pienk, en sy naam is Cha-Cha”, sê die een dogtertjie. “My muis is groen”, sê die seuntjie langs haar. “My muis is ook groen, en sy naam is Groenie”. Verbeeldingryk, nogals, het ek nou maar gedink.

Maar nou vertel Marga my agterna dat sy, op pad plaas toe, ook die kindertjie besig gehou het. Tóé het sy vir elkeen ‘n skoenlapper onder haar trui uitgehaal. Alles het goed gegaan, totdat hulle by ‘n verkeerslig stilhou. Toe raak almal daai skoenlappers aan die vlieg. Dis toe groot pandemonium, amper moeilikheid met die verkeer, jy verstaan. Dis toe met dié dat sy besluit skoenlappers is dalk bietjies te gevaarlik vir kindertjies van hierdie ouderdom.

Dit is toe op dié manier dat Cha-Cha die pienk muis en haar maatjies in die prentjie kom.

PGJ…