pgjonker.co.za

Drifter bakkie?

[Story also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=84]

Dit was een helder mooi oggend by Brittanniabaai.  Die water was besonders laag gewees.  Ons sit lui-lekker in die son en geniet die water.  Meer die sien van die water as die voel daarvan.  Hierdie Weskus water is nie onnodig snoesig nie, nie eens in die somer nie.

‘n Paar jong manne daag op met ‘n waterponie op ‘n sleepwa.  Dié is gehak agter ‘n Mazda bakkie.  Hulle stoot die waterponie agteruit in die water in om dit af te kry van die sleepwa af.  Vanweë die besonderse lae water moet hulle redelik ver ingaan om darem by die water uit te kom. 

Die waterponie kom af en word gou vinnig vir ‘n toetsrit geneem om seker te maak alles werk.  Alles werk mooi. 

Intussen blyk dit dat die water net mooi sy laagste punt bereik het, en nou begin opstoot.  Die manne besluit later miskien moet hulle die bakkie en die sleepwa ook maar versit na droër grond toe.  Probleempie.  Die bakkie skop vas in die sand.  Die sleepwa wat steeds aangehak is maak dit ook nie veel makliker nie.

Ek draf na my bakkie toe om dit nader te stoot dat ek kan help sleep. Voordat ek daar kan kom spring ‘n man met ‘n Landrover Defender my voor.  Ek kan darem my tou bydra tot die geleentheid.  Dis ‘n fris tou, nog nooit gebruik nie, met ‘n 3 ton breek-krag.  Ons hak dit aan die Landrover en die Mazda bakkie vas.

Die man van die Landrover sê my dis ‘n kinetiese tou.  Ek sê hom nee, dis ‘n vaste tou.  Nee, verseker hy my, dis ‘n kinetiese tou.  Ek weet ek is reg, maar wil nie stry met hom nie.  Ieder geval, die man benader die herwinning ook asof dit ‘n kinetiese tou is.  Ek hou maar duim vas dat die tou nie breek nie. 

Ek weet nie veel van herwinning af nie, maar ek het in Andrew St Pierre White se boek gelees dis ‘n gawe gedagte om die voertuig wat gesleep word se enjinkap oop te maak vir ingeval die sleephak van die sleepvoertuig dalk loskom.  Aangesien die tou inderdaad aan die sleephak vasgemaak is (nie my idee nie) draf ek af na die Mazda toe om die enjinkap oop te maak.

Verskeie pogings later sit die Mazda nog net op dieselfde plek.  Die manne hak later die waterponie se sleepwa af.  Die Landrover probeer weer.  Die Landrover begin vasskop in die sand, maar die Mazda beweeg nie.

Dan, met ‘n gelukkige toeval, trek die Landrover weer net mooi op die moment wat ‘n fris brander van agter af die Mazda laat dryf en sodoende sy agterwiele uit die sand uit lig, en daar gaan die Mazda. 

Dis natuurlik hoekom dit ‘n Drifter genoem word, het ek nou maar gedink.

About

One Response to “Drifter bakkie?”

  • Laat my dink aan die ou wat sy meisie probeer beindruk het deur by Whuppertal met ‘n gewone 2-wiel dryf enkel kajuit Colt bakkie deur die rivier te ry sonder om eers die pad te loop. Dit terwyl daar op daardie stadium ‘n Land-Rover groep besig is om stuk-stuk deur te gaan – almal in lae-strek, met die water wat oor die enjin kappe stoot.

    Nodeloos om te sê, die ou in die Colt het dit nie gemaak nie. Sy meisie was veral kwaad toe hulle so 30m in die rivier afgedryf het, en die water later by die vensters begin instroom.

    Gelukkig kon die Land-Rover groep hulle toe darem met ‘n groot gesukkel uitsleep.

    Die bakkie se enjin wou nie weer vat nie, maar poppie het daarvoor opgemaak deur goed stoom af te blaas…