pgjonker.co.za

Die ‘Hall’

Weskusstorie

Deur Johnie Jonker 

Jare gelede het daar op St Helenabaai ‘n man gewoon met die van Jonker, maar mens sou verskoon kon word as jy gedink het sy van was Meneerjonker, want dis hoe die meeste mense hom aangespreek het.

Meneerjonker was die bestuurder van een van die visfabrieke, Suid-Oranje Visserye Bpk, geleë te Sandy Punt.  As jy van Vredenburg af gekom het, het jy eers by West Point, Brandhuis, Steenberg’s Cove (met die hotel, polisiestasie, slaghuis, winkel en poskantoor) verbygery. Dan om die draai by die Pienaars se plaas op linkerkant, en net daarna SOV aan die regterkant. Hierdie fabriek was die breinkind van wyle AP du Preez, en die ontstaan daarvan is genoodsaak deur vooruitgang, en wel van die volgende aard.

AP du Preez se eerste fabriek, Midwest Canning Co, was langs die Pedro’s se Padkafee (deesdae ‘n backpacker’s lodge) binne die rifbeskutte Vioolbaai geleë.  Eendag met spring gety kom een van die bote terug van die see af kaai toe via die gaping in die rif met ‘n buitengewone swaar vrag vis (jy kon dit nog nie ‘n vistreiler noem nie, want dit was te klein, maar dit sou in die plaaslike spreektaal onder die kategorie van “skeide” val).

Toe steek die boot se kiel vas op die sandbodem, en moes wag vir hoogwater om te kon afdryf. Intussen blokkeer dit die ingang deur die rif, en die ander vol skeide kan ook nie vis aflaai nie.

Geen problem:  die opening in die rif word dieper geskiet, en vir ‘n ruk lank is die ou sakie opgelos, maar AP du Preez weet dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat nuwe bote heelwat groter as die huidiges gaan wees, en dan glad nie deur die passasie kan vaar nie. Toe bou hy solank ‘n nuwe fabriek, SOV.

Nadat die nuwe fabriek ingebruik geneem is, is daar nog vir ‘n ruk lank kreef verpak by Midwest, want dit is gevang deur skeide (40 voet Tjak-Tjakkies) wat wel deur die rif kon kom, maar dis ook later gestaak. Toe ontstaan die vraag:  Wat nou gemaak met die ou fabriek, want dit staan nou leeg en loop gevolglik sleg deur onder vandalisme.

[Dit was great fun om die klein venstertjies van die gebou met klippe uit te gooi – so is my vertel – PGJ]

Waar die nuwe fabriek wel tekort geskiet het, was in stoorspasie om die sakke vismeel te stoor, 20 op ‘n pallet, 4 pallette hoog. Want as al die fabrieke volstoom gewerk het, kon SAS & H nie voorbly met die wegry daarvan met hulle RIO trokke na Vredenburg se stasie nie (die bestaan ook nie meer nie, verstaan ek), vanwaar dit verder versprei is.

 Daar word toe besluit om Midwest vir ‘n transito stoor te gebruik, en oom Gert Smit (sien http://pgjonker.co.za/?p=551) ry heeldag, week na week vismeel aan met die MAN trok na die ou fabriek, wat net so 2 km weg was, tot die Spoorweë die agterstand ingehaal het.

November breek aan, met jaar-eind-funksies wat deur elke gemeenskap gehou word en wat gewoonlik uit ‘n dans met ‘n plaaslike orkes bestaan. Die probleem is net, daar is nie ‘n danssaal op St Helenabaai nie.

Omdat die visseisoen destyds geloop vanaf 1 Januarie tot 31 Augustus, was al die vismeel teen Oktober egter reeds weggery “dorp” (Vredenburg) toe, en die organiseerders kom toe op die idee om te hoor of hulle nie een van Midwest se leë vismeelstore kon gebruik vir hulle funksie nie.

Daar was voordele in vir beide partye: Die dans-organiseerders kry die saal verniet, en die fabriek kry ‘n baie mooi skoongemaakte stoorplek terug vir die nuwe seisoen.  Dus ‘n simbiotiese verhouding. Die een of twee aande in die jaar wat Meneerjonker en sy gesin tot die vroeë oggend-ure moes wakker lê en die musiek verduur (dit was nie sy soort nie) wat van die see af die bult opgerol het huis toe, was darem nie te duur ‘n prys om te betaal nie.

Hierdie huur van die stoor het toe ‘n jaarlikse instelling geword.  In die tyd was daar toe ook ‘n stadium wat die plaaslike gemeenskap deur ‘n fase gegaan het waar dit meer fatsoenlik was om Engels te praat. Die venue het sodoende mettertyd bekend gestaan as “Mister Jonker’s Hall”.

Maar net soos die Engelspraat nuk opgevlam het, het dit weer bedaar, en die mense het weer Kaaps gepraat.

Daarmee saam het die venue toe weer bekend geword as “Menee Djonke se Hôl”.

JJJ

About

2 Responses to “Die ‘Hall’”

  • Het is heel jammer,maar ik moet toch wel stoppen bij mijnheer Jonker, want ik heb problemen het te vertalen. Ik begrijp wel, dat het een vis fabriek is, maar dat is alles, nu aan de volgende gedeelte .Juffrouw Sorina Jonker. Ha Ha Ha.!

  • Ik zal u de samevatting in een aparte mail stuur. Je moet ook het Afrikaans idioom begrijpen om het verhaal te volgen.