pgjonker.co.za

Karavaan vakansie – die eerste keer

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=230]

[Gouritsmond, Desember 2002]

[Gepubliseer: Leisure Wheels, Augustus 2010] 

Vooraf

Nadat vriende ons oortuig het om ‘n slag by Gouritsmond Karavaanpark te gaan kamp was ons so beïndruk met die plek dat dit nou ons gereelde Desember bestemming geword het.  Toe ‘n kollega dus sonder ‘n huis sit omdat hy sy huis vir ‘n Desember vakansie verhuur kon ons ‘n goeie reëling aangaan:  hy kom woon in my huis vir die vakansie, en ek gaan kamp in sy karavaan by Gourits.  So gebeur ons eerste karavaan vakansie dus met ‘n 1979 (of daar rond) Sprite Sport karavaan. 

Vertrek

Leon het die karavaan by my huis kom aflewer.  Gevolglik is die oggend van ons vertrek die eerste geleentheid wat ek die karavaan hak.  Hier gaat ons Gourits toe, vir my ‘n eerste karavaan sleep ondervinding.  Dit lei natuurlik tot ‘n ietwat senuweeagtige vertrek een donker Desember oggend. 

Die karavaan staan in die spasie tussen die huis en die heining, met baie min spasie beskikbaar weerskante.  Maar nou ja, hoe moeilik kan dit tog nou wees.  Ek stoot die bakke se agterkant daar in, hak die karavaan, en daar gaan ons.

Toe nie.  Vanweë die hoek waarteen die karavaan geparkeer staan veroorsaak feitlik enige laterale beweging aan sy sleephaak dat sy agterkant teen die muur vasdruk.  Nadat ek in alle rigtings probeer het sien ons dit gaan nie werk nie. 

Terug na die begin.  Ons hak nou weer die karavaan af en parkeer die bakkie voor in die straat.  Maar nou staan die karavaan teen ‘n afdraande, en met swaartekrag wat sy ding doen verg dit ‘n vinnige reddingspoging om te keer dat die karavaan nie sonder ons vertrek nie.  Voor die huis is daar heelwat spasie en kan ons die karavaan hak.

Uiteindelik, ietwat natgesweet en met ‘n asem wat jaag, glip ek agter die bakkie se stuurwiel in, maar nie enigsins ontspanne nie.  Daar lê nog 360km se sleep voor.

[Foto:  ‘n latere geleentheid met ‘n Gypsey]

In die begin gaan die maar voel-voel.  Ek sit net so halflyf op die sitplek om die gewig bietjie af te hou, jy verstaan.  Gelukkig is die N1 doodstil toe ons by Brackenfell op die pad kom.  Dit gee my kans om darem die gevoel van die karavaan te kry sonder om nog vreeslik oor ander verkeer besorgd te wees nie.  Maar dis ook omtrent net toe wat iemand van die agtersitplek af verneem hoe ver dit nog is.  Ek lig die persoon hoflik in dat die opmerking nie waardeer word nie, en beter nie herhaal moet word binne die volgende 3 ure nie.  Ons ry in ‘n ysige stilte verder.  Teen die tyd wat ons by die Hugenote tonnel kom is ek al heelwat meer ontspanne, en die stemming in die voertuig is ook dienooreenkomstig warmer.  Dinge loop eintlik heel lekkers, soveel so dat ek soms vergeet dat ek ‘n karavaan agter my het.  

Dis natuurlik heel eenvoudig as jy reguit ry.  Dinge gebeur dan min of meer vanself.  Dit raak lastig as jy in beperkte ruimte probeer ry.  By Riversdal gooi ek petrol in.  Nadat ek volgemaak het besef ek dat ek nie nou kan vorentoe nie, tensy ek voornemens is om die petrolpomp saam met die karavaan weg te sleep.  Ek aanvaar die eienaar gaan nie dink dis ‘n gawe plan nie, dus moet ek maar agteruit ry.  Wel, probeer agteruit ry. 

Voor my vertrek het iemand vir my verduidelik dat die beste manier om met ‘n karavaan tru te stoot is om jou hande aan die onderkant van die stuurwiel te sit.  Dan draai jy jou hande in die rigting waarin jy wil hê die karavaan se stert moet gaan.  Die teorie is heel eenvoudig, maar soos dit maar gaan met meeste goed in die lewe is daar geen vervanger vir ondervinding nie.  Ek dink dis Gandhi wat gesê het dertig jaar se ondervinding kom na dertig jaar. 

In elk geval, om ‘n verleentheid kort te knip:  met die hulp van twee petroljoggies en ten aanskouing van verskeie toeskouers (my familie het op ‘n afstand gaan staan en maak of hulle my nie ken nie) het ek darem uiteindelik die hele trein daar uit en is ek weer op pad.  Ek en die eienaar van die garage, meen ek, was ewe verlig dat ek daar uit gekom het. 

Na verskeie ure met die karavaan agter my op die pad is Gouritsmond Karavaanpark ‘n welkome gesig.

Ek het egter nog een maneuver oor:  die karavaan moet in posisie gestoot word op my staanplek.  Gelukkig verlig vriendelike bure my van die taak.  Hulle haak sommer vinnig die karavaan af en stoot dit in posisie.  Hulle het natuurlik ‘n belang daarin dat ek nie my tru-stoot vaardigheid naby hulle karavane moet oefen nie.

Tent opslaan

Nadat die bure ons karavaan in posisie gestoot het sit hulle af see toe vir ‘n swempie.  Al wat ons nou moet doen is om die karavaan tent op te slaan. 

Sedert ons troue 14 jaar vantevore sit my vrou aan my dat ons kampeerders moet word.  Met sistematiese deursettingsvermoë het sy my weerstand oorkom, en teen die tyd wat ons met die karavaan hier opdaag is ons darem al redelike kampeerders.  My weerstand was gebaseer op hierdie visioen van myself wat by ‘n kampeerplek opdaag met my tent en geen idee het hoe om dit op te slaan nie.  Nou is ons al gesoute tent kampeerders.  Maar om ‘n karavaan tent op te slaan is bietjie van ‘n ander storie.  

Eerste dinge eerste:  kry die tent uit.  Dis heel eenvoudig.  Ons kry dit selfs reg om te identifiseer watter kant van die tent is die binnekant, en watter is die buitekant.  Ons voer die tent deur die gleufie waar dit moet deur gaan teen die kant van die karavaan.  Neem nou kennis, alle nuweling karavaners:  dis ‘n beter plan om eers al jou pale uit te sorteer voordat jy die seil begin inryg. 

Dis 30°C.  ‘n Lekker windjie waai wat jou heel goed kan afkoel, maar nie as jy onder die tent staan terwyl jy met jou een hand die tent probeer bo hou, en met die ander hand die pale probeer uitsorteer nie. 

Sommige pale is gemerk:  “links”, “regs”, en “middel.”  “Middel” is heel eenvoudig.  Maar die “regs” en “links” – is dit nou as jy met jou rug na die karavaan toe staan, of as jy na die karavaan toe kyk?  Mettertyd raak dit ook duidelik dat hier heeltemal te veel pale is.   

Teen die tyd wat die bure terugkom van die see af is ons steeds besig om die pale te probeer uitsorteer.  Die bure is ou kampeerders.  Binne minute is al die pale uitgesorteer en staan die tent.  Ek dink iemand het skelmpies weggeloop met daai ekstra pale, want daar is nou niks van hulle meer oor nie. 

Nou ja, daai visioen van my en die tent, blyk dit, was toe profeties gewees.  

Naskrif

Sedert hierdie ekskursie Gourits toe het ons weer een keer met tente daar gaan kamp.  Dit het nie gewerk nie.  Die dag toe ons oppak toe het ons so baie goed dat ons sommige daarvan op  Gourits moes agterlaat.  Na ‘n verdere toertjie met ‘n geleende 1974 Gypsey karavaan (foto hierbo) het ons toe uiteindelike die eienaars van ‘n splinternuwe tweedehandse herboude 1990 Gypsey Caravatte 6 geword.  Sedertdien is Gouritsmond ons Desember vakansieplek. 

 

Deesdae gaan dit eintlik heeltemal goed met die sleep en die opslaan van die tente, dankie.

PG JONKER

About

Your email is never shared.
Required fields are marked *