pgjonker.co.za

Beginners 4×4 kursus

 [Also in English @ https://pgjonker.co.za/?p=134]

 

[Gepubliseer in Leisure Wheels, Julie 2010]

Twaalf 4×4 voertuie met wanna-bee 4×4 fundi’s vertrek vanaf Worcester, na die Tierkloof 4×4 roete. Daar gekom maak ons ons tuis onder ‘n lapa en luister na Phil, die instrukteur, wie die basiese beginsels van 4×4 verduidelik. Een van die (verskeie) aspekte van die uurlange praatjie wat rekordering waardig is, is die opmerking dat “daar is nie ‘n slegte 4×4 nie”. Elkeen het sy sterk en swak punte waarvoor jy as bestuurder aanpassings maak, ja, maar ‘n slegte 4×4 is daar nie. Gedog ek sit maar net hierdie gedeelte in ter wille van die meewarige bestuurders van ‘n seker fabrikaat wat beweer dat alles altyd reg loop met daardie fabrikaat. Buiten vir my Mazda is daar ‘n Colt – verder is alles Toyota dubbel- of enkelkajuite, Prado’s en Land Cruisers. O ja, en ‘n Condor.

Ná die praatjie word bande afgeblaas soos per die instrukteur se instruksie en vertrek die konvooi op die roete.  Ek en Frikkie dek die agterhoede.

Die roete is klipperig. Dis ‘n mooi omgewing met ‘n uitkyk oor die Brandvlei dam. My passasier, Christo, neem foto’s met my kamera aangesien ek nie daarby sal uitkom met die ryery nie.

Sommer vroeg op die roete kry ons ons eerste moeilike trajek wat behels om ‘n steilte met klipperige terrein en gate in ‘n “S” uit te ry. Stof, klippe, stukkies rubber spat maar. Eers met die derde probeerslag, en met die ewenaargrendel gekoppel, kom ek bo uit.

Brandvlei dam

Christo het intussen al ‘n paar wen-foto’s met my kamera geneem toe ek onthou dat die film nog in die kamera-sak is. Ek sit die film in. Die foto’s behoort nou beter te kom.   

So driekwart deur die roete kom ek by ‘n vurk in die pad wat sê regs vir “ervare bestuurders”. Ek wil links mik vir die sissie-roete, maar dis duidelik dat al die spore voor my regs gegaan het. Soos ‘n lam ter slagting is ek maar gedweë agterna op die roete vir “ervare bestuurders”. Dit bring ons by Diepkloof.

Dis ‘n rivierloop met steil walle. Van hierdie kant af ondertoe is dit sand, soos in ‘n harderige sandduin, maar met diep gate dat die voertuie soms op hul onderstelle daar afsleep.  Ek arriveer net toe dit die Condor voor my se beurt is. Die Condor vat sy lyn effens verkeerd. Sy linkervoorwiel gly in ‘n gat in wat sy maag laat skuur, en dan die regteragterwiel sowat ‘n meter in die lug laat.   Dit lyk indrukwekkend. Jy weet, amper soos ‘n Great Dane-reun-teen-die-boom tipe van houding.

Aan die anderkant van die rivierloop moet jy weer dieselfde tipe steilte bult-op ry. Die voertuie voor my is anderkant uit met tollende bande en rasende enjins. Die Condor se lyn is verkeerd. Met die uitgaanslag bo spring die regtervoorwiel in die lug op en die voertuig gly na links amper in ‘n boom vas. Die instrukteur pak ‘n klip as merker om die daaropvolgende voertuie op ‘n veiliger lyn te sit. Hou links van die klip.

Toe dit my beurt raak klim ek in die bakkie. Ek ref die enjin net dat die ouens kan hoor hier kom krag. Ek spoeg by die venster uit en druk my camel agter my oor in. Dan draai ek die ruit af en spoeg weer, die keer deur die oop venster. Ek haal die camel agter my oor uit en druk hom dood. Sit hom nou weer terug agter die ander oor waar dit nog nie gebrand het nie. Dan knyp ek die bakkie onder my regter-arm vas terwyl ek nonchalant met my linkerhand op die rathefboom sit. Ek stuur met my knieë. Bult af, bult op wat maak dit saak. Geen probleem nie, ek ry rustig die bult anderkant uit. Hou stil. Klim uit. Spoeg op die grond en steek weer my camel aan …..   Nee, sorrie, ek lieg vreeslik.  Dis eintlik nie hoe dit gebeur het nie.

Eintlik was dit meer, soortvan, nadat ek vir ‘n benoude piepie agter ‘n bos teruggekom het, toe is dit my beurt.  My mond is droog en my hande en my kuite bewe.  Tewens, ek besluit om my bewende kuite tot die beste aan te wend deur my regtervoet maar op die rem te hou. Die man het mos gesê ons moet die remme pomp. My bewende kuit werk net so goed soos ABS remme. Die regte lyn blyk die antwoord te wees. Gelukkig kon ek uit die manne voor my se foute leer, en beduie die instrukteur my presies op die regte lyn. Ek maak nes hy sê.  Die bakkie loop die bult aan die anderkant kaf sonder enige probleme.  Ek voel baie tevrede, maar ek moet bieg, die verligting is groot.  Ek bly klou maar aan my stuurwiel vas dat die ouens nie moet sien hoe my hande bewe nie.

 

Aan die einde kry ons elkeen ‘n sertifikaat.  Eintlik is ek nou nogal erg tevrede met myself.  Ek is nou die trotse eienaar van ‘n sertifikaat wat sê ek het al ‘n 4×4 bestuur.

 PG JONKER

“Raad vir jou eerste 4×4 kursus “

1.  Moenie stop en uitspring om jou nawe te sluit die oomblik as jy die teerpad verlaat nie.  Buiten dat dit voortydig is lyk jy bietjie soos ‘n pop om agter jou voorwiel te hurk met almal wat by jou verbyry en wonder wat jy doen.

2.  Moenie voor almal vir die instrukteur vra waarvoor daai kort kierie langs die rathefboom nou weer is nie.  Lê diskresie aan die dag.

3.  Draai jou vensters op voordat jy vinnig stop op ‘n sandpad.

4.  Oorweeg om nie vier kindertjies onder die ouderdom van 4 jaar oud saam te neem nie.  Dis vreeslik irriterend as jy eintlik nêrens heen op pad is nie, en iemand vra gedurig of ons al amper daar is.

5.  Oorweeg ook om tieners tuis te los.  Hulle het geen vrees dat jou goed skade kan kry nie.  Jy wil ook nie daardie tipe teleurstelling in hul oë sien as hul oukêrel dalk nie kans sien vir ‘n moeilike, dog opwindende, trajek nie.

6.  As die dame wat agter jou ry uitklim om vir jou te sê jy kan maar vinniger ry, moenie in woede reageer nie.  Aanvaar dat sy ‘n voertuig met ‘n vaste vooras het in plaas van onafhanklike vering soos jy. 

7.  As jy die instrukteur se opdrag gevolg het en jou bande afgeblaas het, onthou dat jy moontlik 20mm aan grondvryhoogte kan verloor in die proses.

8.  Die man wat op die grond staan en aan jou rigting beduie het ‘n beter uitsig as jy self.  Vertrou hom, dit kan skade aan jou voertuig voorkom.

9.  Probeer om nie die eerste een te wees om ‘n moeilike trajek aan te pak nie.  Leer liewers uit ander se foute.

10.  Lees die handleiding as jy ‘n hoë-tegnologie voertuig ry.  Sommige funksies moet per hand onaktief gemaak word, anders mag jy vind dat die voertuig aanhou loop ten spyte van jou pogings om dit tot stilstand te rem.  Jy mag eindig met jou voorkant onder die voertuig voor jou se spaarwiel.

11.  Moenie ‘n goeie bossie laat verbygaan waar privaatheid gewaarborg is nie.

 “Waardevolle lesse geleer”

1.  Gaan digitaal.  Alternatiewelik, sit ‘n film in die kamera voordat jy begin foto’s neem.

2.  Bly kalm.  Goed, probeer kalm bly.  Jy sal verstom staan vir jou voertuig se vermoëns.

3.  Daar is geen rede om haastig te raak op soliede oppervlakte nie.

4.  Blaas jou bande af in dik sand.  Ja, ek weet, almal weet dit, maar om dit eerstehands te ervaar bring die beginsel meer akuut tuis.

5.  Ongeag watter teorie jy ondersteun mbt banddruk oor rotsagtige terrein, hou in gedagte dat jy grondvryhoogte inboet deur jou bande af te blaas.

6.  Gebruik jou ewenaargrendel op los klipperige opdraandes om te keer dat die voertuig dood ruk vanweë wieltol.

7.  Dit is absoluut ongelooflik wat ‘n 4×4 kan doen as jy weet wat jy doen.  As jy nie weet wat jy doen nie, neem dit stappie vir stappie.

8.  Daar is “no range like low range” wanneer jy nodig het om dinge stadig te neem nie.

9.  Verwyder jou linkervoet heeltemal van die koppelaar af by steil op- en afdraandes.

10.  Jou  hardebaard veldryers is nie sulke aaklige mense soos wat sommige briefskrywers in koerante jou wil laat glo nie.

11.  ‘n “Drop plate” dien as ‘n perfekte anker in ruwe terrein.  Sy tydsberekening is net bietjie onvoorspelbaar en soms ietwat ongelukkig.

 

About

One Response to “Beginners 4×4 kursus”

  • PG,

    Dit was nou rerig lekker om die storie te lees, ou maat. Ek het veral gehou van die stuk waar jy die camel agter die oor indruk!
    En hier is goeie tips ook, net vir ingeval mens dit nodig kry. Lyk vir my volgens die fotos dat dit maar ‘n kwaai steil bult was was julle ge op en af het. Kan verstaan as ‘n mens so bietjie bewerig voel! Ek self het nou al hie by ons in die “Coastal Mountains” hier buite Vancouver gery en wiele afgeblaas, maar ek moet sê, ek het nie gedink daaraan dat mens natuurlik grondvry hoogte inboet nie. Maak natuurlik 100% sin.
    Mooi loop…of te wel ry.
    Jan