pgjonker.co.za

Deel 1 – Kaap na Kasane

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=192]

BOTSWANA & ZAMBIË TOER 2008

Deel 1

(deur PG Jonker)

Vooraf

Ek en Marga droom al jare lank van ‘n toer Botswana en Victoria Valle toe.  Toe die geleentheid hom dus voordoen met vriende en familie wat so ‘n toer gaan doen het ons besluit dis nou tyd om by daardie konvooi in te val.

Vertrek

Dag 1 – Op pad

Ons vertrektyd word ‘n bietjie gefnuik met dié dat twee van die skoliere op die toer nog op die oggend van die vertrek moet eksamen skryf.  So teen  11h00 die oggend kom ons dus by die huis weg.  Van die sewe voertuie in die konvooi is daar net twee wat saam-saam sou ry die hele pad.  Verder ry elkeen maar vir eers op sy eie.

Laataand kom ons in Kimberley aan.  Ons was onsuksesvol om enige van die ander voertuie in te haal.  Teen half-tien die aand is daar geen oop wegneemete-plekke meer in Kimberley nie.  Ons moet maar tevrede wees met die laaste paar dag-oud toebroodjies vir aandete.  Die akkommodasie by die Kalahari Lodge was baie lekker gerieflik, kompleet met ‘n man wie ons R50 betaal om ons bakkie met al ons goed in op te pas.

Dag 2 – Nog steeds op pad

Vroegoggend eet ons ‘n goeie ontbyt by ‘n vulstasie.  Ons moet darem inhaal op gisteraand se karige aandete.  Ons hoop om deur die loop van die dag die res van die geselskap in te haal. 

Ons roete neem ons deur Schweizer-Reneke, Coligny, Ventersdorp, Rustenburg, Thabazimbi, Ellisras (nou Lephalale).  Sommige dorpe waar ons deur ry het nou belastingbetalersboikotte.  Mens kan nogal sien hoekom.  Dis nou nie asof ek enigsins die Wes-Transvaal wil afkraak nie, maar ek het nou maar gereken, in die winter lyk die Boland so bietjie mooier.  Maar dis dalk nou maar net vir my. 

Waarom daar verkeersreëls in Rustenburg is weet nugter.  Ek is die enigste bestuurder wat die padreëls en die spoedbeperking nakom.  Op die mees verspotte plekke is daar 80km/h beperkings.  Maar ek besef later dis om my te beskerm teen die plaaslike bestuurders.  Byvoorbeeld, as jy hou by die absurde spoedbeperking van 80km/h op ‘n oop stuk pad, dan is dit baie makliker om ‘n kop-aan-kop botsing met ‘n taxi te vermy wat teen ‘n blinde hoogte ‘n ander taxi verbysteek en rustig in jou baan aangery kom.  Dit gebeur meer as een keer.  Nie die taxi-bestuurders of hulle passasiers lyk enigsins gepla nie. 

Ons bereik teen laatmiddag Lephalale.  Met selfoonoproepe kan ons agterkom dat die grootste gedeelte van die konvooi (nou al 5 motors in totaal) almal in Lephalale is.  Die laaste twee voertuie sal later aansluit.  Ten spyte van die feit dat die dorp nie onnodig groot is nie, kry ons mekaar net nie opgespoor nie, gaan wag ons maar later buite die dorp vir die konvooi.  Ons val agter in.

Die leiervoertuig ry voet in die hoek.  Dis later donker.  ‘n Paar afdraaie verder is ons nie meer seker of ons nog die regte string voertuie volg nie.  Verby Swartwater kom ons donkeraand by Mareba Lodge aan waar ons die twee nagte sal oorbly voor ons Suid-Afrika verlaat. 

Dag 4 – Botswana

Na twee ontspanne nagte by Mareba Lodge vertrek ons vir Botswana.  Ons kruis die grens by die Zanzibar grenspos.  En nee, ons is nie naby Zanzibar nie, maar dis wel die grenspos se naam. 

Dit vat ‘n tydjie om die papierwerk van die sewe voertuie te doen.  Dan is ons deur die laagwaterbrug oor die Limpopo rivier.  Daar loop water, maar gelukkig nie veel nie. 

Limpopo

Aan die Botswana kant besef Henk sy houer met al sy paspoorte en motor-registrasie-papiere is weg.  Dan onthou hy die laaste plek waar hy dit hanteer het was agter by sy bakkie.  En sowaar, daar sit die sak nog rustig op die agterste buffer.  Mens kan dalk hierdie plekkie vir jou skoonma oorweeg. 

Bestuursgewoontes maak dat daar ‘n natuurlike seleksie plaasvind, en die konvooi verdeel in drie groepe.  Ons vorm die agterhoede saam met twee ander voertuie.  Die agterosse. 

Dit was onmoontlik om Pulas in die hande te kry voor ons vertrek uit Suid-Afrika uit.  Ek het ‘n paar Amerikaanse dollars, maar verder is my hoop op my kredietkaart.  Dit is dus met ‘n redelike mate van huiwering wat ek by Francistown se petrolstasie intrek.  Ek wys die joggie al die kaarte wat ek het.  Hy kies sy voorkeur, en gaan voort om petrol in te tap.  Ek hou maar redelik my asem op vir hierdie eerste transaksie, maar daar is geen probleem met die kredietkaart nie.  ‘n Eerste van verskeie gelukkige transaksies in Botswana en Zambië.

Ons tap weer petrol op Nata voordat ons die laaste 300km Kasane toe aanpak.  Dis ‘n lekker breë teerpad.  Aanvanklik.  Later word dit smaller, maar steeds gangbaar.  Later waarsku ‘n bordjie dat daar slaggate voor is.  Maar dis OK, ek ry mos darem ‘n bakkie.  ‘n Kort entjie later waarsku die bordjie ons teen “Severe Potholes”.   Maar dis oraait, my bakkie is mos darem 4×4 reken ek.  Maar die waarskuwing was bietjie misleidend.  Dis meer soos om ‘n klomp potholes te hê met hier en daar ‘n hompie teer rondom.  Dit lyk of al die trokke wat nie meer deur Zimbabwe deur ry nie nou hierdie pad kom stukkend trap.  Vordering is stadig. 

My Marga sit op die agtersitplek vanwaar sy alles behalwe die motor bestuur.  Sy is speelskooltannie, verpleegster, sieketroosters, sjef, tydverdrywer, en ook hulp-bestuurder wanneer nodig.  Al wat ek hoef te doen is om die kar in die pad te hou. 

Teen sononder ry ons verby reusagtige sonneblom landerye met die son wat groot, rond en rooi agter die geel koppe van die sonneblomme sak. Tyd en afstand maak dat ons nie wil stilhou nie. Ons sal hierdie kleurprentjie beslis in ons geheue bewaar.  Asemrowend!

By tye kan mens ‘n goeie spoed handhaaf, maar die pad dra swaar aan vragmotor verkeer.  Heel gereeld kom ‘n groot trok van voor af  in jou baan aangery, want dis ‘n beter baan as syne. Jy hoop maar telkens dat die man betyds terugswaai na sy eie kant toe.

Later vang die donker ons.  Baie gereeld lê daar remmerke in die pad soos iemand vir (vermoedelik) Koedoes uitgeswaai het.  Gereeld sien ons die oë van Koedoes of rooibokke blink langs die pad.  Ons ry maar erg versigtig en algaande stadiger soos die sig swakker raak.  So 5 km van Kasane af voel dit of my oë met my begin parte speel van die tuur in die donker.  Op ‘n stadium gewaar ek iets wat soos ‘n groot olifant lyk, maar dis sommer reg teenaan die pad op regterkant.  Toe ek by die skaduwee verbyry besef ek maar dit is ‘n olifant.  Ek mis hom rakelings!

Chris-Jan wat ‘n oomblik ingesluimer het sien nie die olifant nie en is lekker feetjie dikmoer oor hy dié ou grote gemis het.

Ons bereik Kasane in die donkerte.  Marga roep hoopvol na haar suster oor die twee-rigting radio wat sy nog die oggend voor ons vertrek op die ingewing van die oomblik gaan koop het.  En wraggies, eerste roep antwoord haar suster.  Sy gee aanwysings.  Die GPS neem ons in die donker tot presies by ons bestemming by Toro Lodge.  Ek is heel beïndruk met hoe goed ons tegnologie ons op die toertjie ondersteun!

Toro Lodge se kampeerterrein in tjok-en-blok vol.  Ons wurm maar vir ons in daar en maak kamp vir die volgende 2 nagte.  Ons het selfs elektrisiteit.  Wel, miskien nie regtig nie.  ‘n Toeroperateur het ons later kom aanpraat oor ons sy groep se kragpunte en ablusie-blok gebruik.  Ons dog dit werk maar so.   Ek verstom my natuurlik altyd aan Marga se vermoë om in ‘n ommesientjie kos aanmekaar te slaan.  Pannekoek en maalvleis vir die vroegaand kinders-menu.

Dag 5 – Chobe

‘n Wildkyk uitstappie deur die Chobe reservaat is ‘n aangename verrassing.  Ons sien ‘n groot verskeidenheid van diere. 

‘n Land Cruiser-vrag vol toeriste, almal uitgedos in eenderse hoede en stofmaskers (van die soort wat jy teen voëlgriep sou dra) is net so vermaaklik om dop te hou as die diere.  Goed, goed, ek is net jaloers op daai ouens se lang lense.

‘n Leeu-wyfie kom tussen die bosse aangestap in ons rigting.  Voordat ek haar behoorlik onder skoot kan kry met my kamera verander sy van rigting en stap agter ons verby, reg voor Pieter-hulle verby wie saam met ons toer.  Op Pieter se video-greep van die okkasie hoor jy iemand op die tweerigting radio mompel “lucky bastards!”

”]

Die namiddag onderneem ons ‘n bootrit vanaf die Chobe Safari Lodge.  Wow!  Dis nou as good as it gets. 

Fish Eagle II

 Ons spandeer heelwat ure op die boot, op en af op die rivier.  Daar is ‘n magdom wild om te sien.  Die jonger klomp maak hulle tuis op die dak van die boot, met die ouer toppies wat verkies om onderdak te bly.

‘n Groot klomp seekoeie lê eenkant, met ‘n enkele ou wat eenkant wei.  Ten minste lyk hy lewendig. Ons skipper, Moses, hou op ‘n veilige afstand.  Hy wys my ‘n gebuigde metaalstrook aan die buitekant van die boot waar so ‘n seekoei kans gesien het om die boot aan te val. 

Moses and the guide

Die hoogtepunt is twee olifante wat reg teen die ondergaande son baklei.  ‘n Klomp van die bote konvergeer daar om dit te bekyk.  Die groter olifant slaag daarin om die kleiner een bloot van sy eiland af te stoot, die water in.  Darem nie bloed nie.

Die aand moet ek petrol gaan tap, maar die hele Kasane en omstreke is by die petrolpomp.  En niks gebeur nie.  Ek vrees dat die pompe dalk leeggeloop het.  Maar dit lyk of die probleem is dat daar net 1 joggie aan diens is. Deel van die probleem is dat elke ou daar net 5 Pulas se petrol ingooi. 

Vervolg in Deel 2

About

Your email is never shared.
Required fields are marked *