pgjonker.co.za

Deel 2 – Kazungula na Livingstone

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=185]

BOTSWANA & ZAMBIË TOER 2008

Deel 2

(deur PG Jonker)

Dag 6 – Kazungula ferry

Die konvooi vertrek vroegerig om so na as moontlik aan die voorkant van die ry voertuie te kom wat met die ferry wil oorgaan.  Ons kan kies om Zimbabwe toe te gaan, en dan weer van Zimbabwe af in Zambië in.  My reisgenote wat al voorheen hier was vertel my egter Kazungula ferry is ‘n moet vir ‘n ware Afrika ondervinding.  Ware manne doen ferries, verstaan. 

Ons weet reeds daar gaan ‘n tou van omtrent 2 km lank se trokke staan.  Maar gelukkig hoef ons nie agter in te val nie.  Gewone voertuie maak hul eie aparte tou.  Ek het oorweeg om voor in die tou te gaan indruk, oor daar mos nou klaar iemand agter in die tou staan.  Maar besluit toe maar daarteen.

Ons verlaat Botswana vandag.  Van die 300 Pulas wat ek geleen het is daar nog sowaar ‘n paar Pulas oor.  Gelukkig het al die diensverskaffers in Botswana my kredietkaart aanvaarbaar gevind!   Maar nou lê Zambië voor.  Ek het geen Kwachas nie, maar darem ‘n paar US$. Maar ek weet nie of die Zambië Revenue Services so opgewonde daaroor gaan wees as ek in $ probeer betaal nie.

The Botswana side

Die formaliteite aan die Botswana kant geskied sonder voorval.  Vandaar ry jy aan na die Chobe rivier toe om op die pont te kom.  Die GPS laat dit baie eenvoudig klink.  Daai girl sê “Drive 600 metres and board the ferry”.  Sommer net so.  Sy was duidelik nog nie by hiérdie ferry gewees nie.  Dalk werk dit so in Europese ferries.

Vir ‘n begin heers daar chaos.  Daar is twee ferries.  Waarvan die een pas gebreek het toe ons daar aankom.  Nou is daar een string lorries en twee stringe voertuie wat verdeel na die 2 ferries toe.  Maar nou wil die string wat na die stukkende ferry toe mik weer terugkom in die ander string wat na die heel ferry op pad is.  En nie almal in die ander tou is opgewonde oor die gedagte dat ‘n ander ou sy kar se neus in daardie ry gaan indruk nie.

Die eerste ding wat jy aantref wanneer jy daar stilhou is ‘n swerm agente wie hul dienste aanbied.  Jacob vertel vir my hy sal my begelei deur die hele proses, en daarvoor moet ek hom ‘n skamele R20 betaal.  Dit klink te goed om waar te wees, en ek klem my beursie al stywer vas.  Mens weet nooit.  Maar Henk stel my gerus, ek kan maar van die manne se dienste gebruik maak – hy doen ook.  So ten minste weet ek dat as daar ? fout kom, dan word ek en Henk ingeloop, en nie net ek alleen nie.

Jacob & Associate

Jacob en sy tjom, wie se naam ek nou vergeet het, gee deurentyd raad.  Ek het ‘n foto van hulle geneem net vir die wis en die onwis – hulle dink dis oor ek so baie van hulle hou dat ek hulle afneem, maar ek het maar net gedog, mens weet nooit wanneer jy dalk nodig het om die manne uit te ken nie.

 Ieder geval, Jacob beduie by geleentheid vir my ek moet my bakkie se neus hier voor in ‘n tou indruk.  Ek maak presies soos Jacob sê en ignoreer almal die ander ouens wat my met hout-oë aankyk.  Jacob lyk vir my altevol soos ‘n man met gesag, so ek maak net wat hy sê. 

On the ferry

‘n Toeroperateur met wie ek daar gesels verduidelike vir my ek moenie van die agente gebruik maak nie.  Maar olliewhile betaal hy self ‘n stewige fooi direk aan ‘n ou op die ferry om hom vroeg op die ferry te kry.  Ek beland in elk geval saam met hom op dieselfde ferry, so ek reken ek het waarde vir my geld gekry.

The Zambian side

Aan die Zambië-kant lyk dit nog erger.  Trokke druk voor mekaar in, almal is in almal se pad.  Kleurvolle taal is aan die orde, alhoewel ek nie daardie dialek verstaan nie.   Ek val in die tou in waar Jacob vir my beduie.  Nie dat ek weet wat ek doen nie.  Ek maak net soos hy sê.  Op ‘n stadium prop Jacob 200 000 Kwachas in my hande en beduie waar ek dit moet gaan inbetaal.  Maar die amptenaar agter die toonbank is verdiep in die koerant en ignoreer my.  Jacob vat my om die gebou na ‘n venstertjie aan die agterkant.  Daar sit ook ‘n amptenaar en koerant lees.  Die amptenaar help die man voor my.  Ek wag vir hom om “Next!”, of iets in dier voege te roep,  maar dit gebeur nie.  Nee, die man sit rustig agteroor en begin sy koerant lees met my wat voor sy venstertjie vir hom staan en wag.  Jacob kom weer tot my hulp en beduie hoe mens dit doen.  Jy druk jou kop deur die venster en plak die papier met die geld voor-op-die-wa voor die amptenaar se neus neer.  In reaksie waarop hy dan gesteurd opkyk van sy koerant af en verveeld jou kwitansie doen.

 Ek begin nou so half vir Jacob vertrou.  Uit die kwitansies wat hy my gee kan ek sien dat hy die US$20 vir die ferry namens my betaal het, plus 225 000 Kwachas se versekering.  Dis nou benewens die 200 000 Kwachas in kontant wat hy in my hande gestop het.  Nou verstaan ek hoekom Jacob so mooi na my kyk.  Hy het al ‘n koel R1200 in my geïnvesteer, en hy kyk bloot mooi na sy belegging.  Tot tyd en wyl ek hom terugbetaal het gaan hy my nie onder sy oë laat gaan of my versaak nie.  Wel, dit werk vir my!

Uiteindelik is al die papierwerk gedoen.  Ons ry deur die hek waar Jacob en sy pel vir ons staan en wag om te verreken.  Gelukkig het ek teen die muur gesien die wisselkoers is ZKW3400 vir ‘n US$.  En nou kom ek agter hoe Jacob eintlik sy geld maak.  Daardie R20 fooi van hom is net die decoy.  Jacob werk uit hoeveel Kwachas hy my voorgeskiet het, en deel deur 2600.  Ek reken nee, hy moet deur 3400 deel, dis wat op daai bordjie staan.  Jacob lig sy prys na ZKW3000 vir ‘n US$ en ek aanvaar.  Nie dat ek eintlik veel van ‘n bedingingsbevoegdheid het nie.  Ek sou sy aanvanklike fooi waarskynlik moes aanvaar het, alhoewel hy darem gesê het dat die geldwisselaars by die hek my ZKW3000 vir ? US$ sou gee.  Gegewe my latere ondervinding meen ek hulle sou my 3100 gegee het, maar dis darem seker na genoeg.  Die hele oefening kos my R1480.

Dirk Steyn negotiating the price

Met ‘n latere vergelyk van notas blyk dit dat een van ons ander reisgenote dubbeld betaal het, omdat sy agent vinnig agtergekom het hy het geen idee wat die wisselkoers is nie.  ‘n Ander lid van ons geselskap het per ongeluk ‘n US$100 noot oorhandig ipv ‘n 100 Pula-noot.  En US$100 is so effe meer mos as P100.  So ampertjies 10x meer.

Gelukkig is dit nou net omtrent 60km’s na Livingstone toe. 

Livingstone, Dag 6 en 7

Ons kampeer by die Livingstone Safari Lodge & Camp site.  Ek gaan maak praatjies met die eienaar, Tjisse Kamstra.  Hy kom van Friesland af, maar het voorheen in Johannesburg gewoon.  Hy is verskuil agter ‘n enorme snor.  Hy sê my hy praat meer Afrikaans in Livingstone as wat hy in Johannesburg Afrikaans gepraat het.  Baie plaaslike sakemanne, sê hy my, is Afrikaanssprekend.

‘n Plaaslike sakeman kom meld homself daar by ons aan in die kampterrein.  Hy wil graag sy besigheidskaartjie uitdeel en besigheid gesels.  Hy verkoop edelgesteentes, sê hy.  Oeps! Nie een van ons het die gedagte om tyd in ‘n Zambiese tronk deur te bring vir onwettige handel in edelgesteentes aanloklik gevind nie.  Dus vat ons liewer geen kanse nie.  Nie dat dit ons besoeker afsit nie.  Hy kuier rustig, en vertel ons later die rede waarom alles so sleg gaan in Zimbabwe.  Dis duidelik dat hy uit dieselfde denkskool as mnr Malema kom.  Ons beskou dit as die wyse ding om liewer nie in ? debat met hom te tree nie.  Mens weet nooit wat kan gebeur as jy hier in die vreemde die verkeerde ouens antagoniseer nie. 

Die oggendstond het ys in die mond.  Ek kry opdrag om vandag komberse te gaan koop.  Eintlik is ek bietjie in die moeilikheid.  Voor ons vertrek het Marga gereken ons moet ons slaapsakke opgradeer.  Ek oortuig haar toe ons gaan in warm amper-midde Afrika wees, dit sal nie koud raak nie.  Ek was toe verkeerd.

Die  volgende dag word ek gestuur om komberse te gaan koop.  Maar eers wil ek probeer geld trek.  Ek ry gou downtown Livingstone toe om geld by ‘n bank te probeer trek.  Ek is te bang om ‘n kaart by die OTM te probeer.  As daai outjie my kaart insluk is ek in die moeilikheid, want tot op hede is dit al hoe ek enige iets betaal kry!

Voor die Barclays bank soek ek nog parkering toe hamer ‘n ou aan die venster en vertel my hy kan my teen ‘n goeie koers geld ruil.  Hoe goed, wil ek weet.  Hy reken ZKW3300 vir ‘n US$.  Dit is uitstekend.  So uitstekend dat dit my so effe pla.  Ek sal nie weet of die man vals note aan my verkoop nie, en mens weet ook nie of daar dalk ‘n korrupte poliesman staan en loer om my te arresteer as deel van ‘n scam nie.  Gelukkig het die bank reeds 14h30 toegemaak en kan ek nie kontant kry nie.  Dus hoef ek nie te wonder of dit ‘n goeie of ‘n slegte plan is om met die man besigheid te doen nie.

Nou mik ek maar vir die Pep Stores met my kredietkaart en my US$’s.  En vir die eerste keer is nie US$’s of kredietkaart aanvaarbaar nie, net Kwachas.  Die dame agter die toonbank van ? baie besige winkel los egter alles net so, en vergesel my na die omruilburo.  Daar is 2 van hulle 50 tree van mekaar af.  Nou nie heeltemal Thomas Cook of Rennies styl nie.  Meer soos jou tipiese mobile shop wat vis-tackle verkoop.  Die eerste een het nie genoeg Kwachas te ruil vir US$60 nie.  Die tweede het darem, en ons kan ons transaksie doen.

Almal is baie opgewonde oor hulle Zambië Pepstores komberse.  Hulle behoort te wees, vir die moeite wat ek gehad het om dit te koop. 

Die ding met die Kwachas is, dis so baie geld in papier, dat jy sukkel om te weet wat die waarde daarvan is.  By een geleentheid wil een van ons reisgenote ‘n fooitjie betaal aan die kelner.  Die syfers in Kwachas is egter so enorm, mens weet nie hoe groot ‘n fooitjie moet wees om nie ‘n belediging vir die kelner te wees nie.  Uit radeloosheid oorhandig hy maar al sy Kwachas vir die kelner, en vra of dit genoeg is.  “Money is never enough”, reken sy in goeie humor.  Well said, reken ek by myself.

 Vervolg in Deel 3

About

Your email is never shared.
Required fields are marked *