pgjonker.co.za

Deel 4 – Die Lang pad huis toe

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=181]

BOTSWANA & ZAMBIË TOER 2008

Deel 4

 (PG Jonker)

The road back home

Dag 8 – Katima Mulilo en Caprivi

Vandag reis ons aan die Zambië kant tot by die grensoorgang by Katima Mulilo.  Die dorp aan die Zambië-kant is Sesheke.  Met die oppak kom ek agter my geleende Minus 40 het ophou werk.  Nou het ek ‘n reuse groot ornamentele koelboks wat die plek vol staan agter in my bakkie. 

Voor ons ry wil ons darem nader gaan loer na die Zimbabwe-kant toe.   By die grens kry ons ‘n gratis pas om op die brug op te stap.  Dis ‘n klein papiertjie waarop ‘n getal “5” op staan om te wys jy is ‘n groep van vyf. 

The bridge between Zam and Zim

Daar is ‘n lewendige handel van goedere oor die brug.  Op laerskool het die juffrou eendag gevra wat beteken ‘lewende hawe’.  Toe het ek verduidelik ‘Kaapstad is ‘n lewende hawe’.  Dit was toe die verkeerde antwoord.  Maar op hierdie trant sou mens kon sê dat hierdie brug ‘n lewende hawe was, as dit nou ‘n hawe was in plaas van ‘n brug.  Dit is duidelik dat daar wel entrepreneurs is wat munt kan slaan uit enige situasie, in hierdie geval, die inploffing van Zimbabwe.  Waarmee hulle betaal weet ek nie, want iemand soek Zim dollars nie. 

Cars, trains & pedestrians use the bridge

Lede van ons toergeselskap is oor Zimbabwe toe om vir hulle elkeen ? Z$50 000 000 000 [vyftig-duisend miljoen] noot gaan koop.  Die nulle laat jou oë bietjie oor mekaar kyk.  Net duidelikheidshalwe:  dit is vyftigduisend-miljoen Zim dollars. Of dan vyftig biljoen Zim dollars, maar dis heelwat minder werd as, sê nou maar, Amerikaanse dollars.  Menere van Coller en Jordaan is derhalwe nou multi-biljoenêrs.  Stil, broers, daar gaan die manne nou verby.

Ons vertrek Weswaarts en mik vir Sesheke.  Maar eers moet ons ‘n ‘exit fee’ betaal van R30, nogals in Rande gekwoteer.   Sesheke is ? mistroostige dorp, oorkant die rivier van Katimo Mulilo.  Eers nadat jy oor die brug is, kry jy die grensbeheerpos.  Dié is besonders swak gemerk.  Vrywilligers wat langs die pad sit, minding their own business beduie maar ongevraag vir jou waarheen jy moet ry wanneer hulle sien jy mik vir die Namibië grenspos voordat jy aangemeld het aan die Zambië-kant se geboutjie.  Dit kos ons ‘n slag omdraai om by die regte gebou aan te meld.

Die beamptes is vriendelik aan beide kante. Veral die ou wat al ons melk – boks melk nogal – gekonfiskeer het.  Hy het darem gesê die kinders kan dit drink, maar ek kan dit nie verder saamry nie.  

Nadat jy klaar is aan die Namibië kant moet jy weer by ? verdere (ongemerkte) geboutjie aandoen om jou padbelasting te betaal.  Dit sou maklik wees om dit heeltemal mis te ry as jy nie lekker kan hoor soos ekke nie.  Gelukkig hoor die res van die mense in ons outfit darem oraait en beduie hulle my ek moet nog gaan betaal.

Ek laai die familie by ‘n winkelsentrum af, terwyl ek petrol gaan intap.  En skielik voel die Kaap weer Hollands.  Die winkel lyk nes ons s’n.  Die mense praat Afrikaans, my debietkaart werk weer sonder dat ek eers nodig het om navraag te doen.  Selfs ons Rande werk hier.  Dit voel maar soos by die huis.

Hiervandaan is ons vort na die Kwando rivier.  Ons draai af by Kongola, Suidwaarts.  Ons slaap die aand by die Namashushu Lodge.  Dit is ons laaste aand wat die hele toergroep bymekaar is.  Môre verdeel die groep in 3.  Ter wille van ‘n vroeë begin slaap ons in die bungalows, eerder as om te kamp.  Ons wil môre vroeg aanstoot.  Die aand eet ons almal vir oulaas saam om die kampvuur.  By die ablusie-blok is ‘n bordjie wat waarsku teen nagtelike bewegings van olifante en seekoeie.

Met enkele toesprake en dankseggings groet ‘n “losse konfederasie van vriende” mekaar laataand.

Dag 9 – Kwando, Rundu, Grootfontein, Otavi

 Na ‘n vroeë ontbyt mik ons saam met twee ander voertuie Weswaarts.  Die GPS begelei ons na die petrolstasie in Divundu.  Die gebou is nog daar, maar niks pompe nie.  ‘n Klein entjie verder is daar wel petrolpompe.  Gelukkig.  My bakkie sou dit, selfs teen ‘n baie skaflike 7km/l, nie tot by Rundu gemaak het nie.  ‘n Paar ongeleerde plaaslike laaities hang daar rond en bedel geld en raak ongepoetshede kwyt.

Divudu 24h breadown

Tussen Divundu en Rundu begin die een Prado se lugversorger ophou werk, en die ander een se langafstand tenk lek sy 80 liter diesel uit.  Ons doen op Rundu aan vir herstelwerk.  

Pupkewitz Toyota, Rundu

Gelukkig breek my bakkie nie op veraf eksotiese plekke nie (nee, hy breek sommer naby my huis), en ons gesin ry vooruit om slaapplek te gaan verken. 

Dirk lending a hand

Toe ons by Grootfontein petrol intap sit die son nog hoog.  Ons hou deur en soek blyplek by Otavi.  Ons volg die GPS instruksies na die Khorab Lodge so 3km Suid van die dorp.  Dit is ‘n baie lekker plek waar ons almal slaapplek kry.  So ‘n driekwartier later sluit die twee Prados ook weer by ons aan.  Hiervandaan breek die drie voertuie ook op in twee rigtings.  Ons ry alleen huis toe. 

Dag 9 en 10 Otavi na Windhoek, dan huis toe

Ons ry deur Windhoek toe waar ons by familie oornag.  Ons woon selfs die laaste stuiptrekkings van die Biltongfees by.  Dis leker om die aand in ? huis te slaap. 

Die volgende dag vertrek ons eers na 09h00 uit Windhoek uit.  Ons wil nie te vroeg vertrek nie, want ons beoog om op Springbok te slaap.  Ons is egter nog nie by Mariental nie, toe het ons al besluit ons beddens roep ons.  Vanaand wil ons in ons eie huis slaap.  Van Mariental af moet ek saamleef met ‘n dreigende geluid in my koppelaar elke keer wat ek dit intrap.   Ons is nou op ons eie, en dit laat my met ‘n effe senuwee-agtigheid.  Gelukkig gebeur niks nie en kon ek later tuis die spigot bearing (wat dit ookal mag wees) laat vervang.

By Noordoewer tref ons vir die eerste keer op die toer iemand met ‘n houding aan.  Darem niks ernstigs nie, dalk het die man net ‘n slegte dag gehad. 

Nadat ons vir 11 dae nie ‘n wolkie gesien het nie, ry ons in stormreën en vloede in.  In die donker sien ons later ‘n waterwolk wat veroorsaak word deur die water wat teen tempo hewig by die Clanwilliam dam se sluise uitspuit. Kort daarna kom die verkeer tot stilstand by ‘n padversperring vanweë vloedskade.  Na 1476 km en 16 ure op die pad arriveer ons om 00h54 by die huis.  Om 01h15 slaap die hele huis.

Home, sweet home!

Afstand gereis:          5922km

Brandstof verbruik:    843liters

Verbruik:                    7km/l [14,3liter/100km]

                                    [Mazda Magnum 3.4 DK 4×4]

About

Your email is never shared.
Required fields are marked *