pgjonker.co.za

Veldherstelwerk

[Also in English @ http://pgjonker.co.za/?p=118]

Waarnemings deur ‘n nie-meganies onderlegde reisiger

[Gepubliseer as ‘n brief in LW, April 2010]

Johnie Jonker skryf in sy artikel Softroading the Dunes (Leisure Wheels, Maart 2010) die volgende:  “Predicting what other spares could be required would at best be a hit and miss affair, so forget about them and rather think on your feet when faced with a problem.”

Nou net mooi dáár lê die knoop vir ouens soos ek.  I het moeite om my bakkie se wiele om te ruil, nevvermind om op my voete te dink as ‘n probleem opduik.  Dus, vir my, is die eerste ding op my beplanningslys om daai meganies-geöriënteerde ou saam te vat wat die op sy voete-dink ding kan doen, ingeval iets verkeerd gaan. 

‘n Paar jaar gelede was ons deel van ‘n groep van drie gesinne wat op ‘n toertjie Richtersveld toe is.  Dit was my eerste 4×4 toer.  Ek het selfs ‘n swaardiens grootte hoogligdomkrag wat iemand op ‘n dag daar by my gelos het.  Teen die tyd was alles egter ingepak is en ons moet besluit wie van ons gaan die domkrag saamneem, het ons besluit dat (a) nie een van ons het meer plek vir die domkrag nie, en (b) ons gaan liewer uit die moeilikheid uit probeer bly.  Dus bly die swaardiens hoogligdomkrag tuis.  Miskien gee dit nou ook ‘n aanduiding hoe ernstig ons van plan was om rof te viertrek.  Dit was gebiedend dat my vriend Frikkie op hierdie toer moes saamgaan.  Die ou wat die op jou voete-dink ding moes doen. 

Kort voor ons vertrek het my splinternuwe tweedehandse bakkie ‘n klep gebrand wat ek laat regmaak het.  Op presies 1000km’s, is ek gesê, moet die enjin ge-retorque word.  En teen die tyd wat ek die 1000km merk sou bereik sou ek net mooi by Port Nolloth wees, en ver van die werktuigkundige af wie die werk gedoen het.  Maar Frikkie is daai ous.  Ons huur dus ‘n huis met ‘n motorhuis by McDougal’s baai buite Port Nolloth sodat Frikkie die nodige kan doen die oggend voor ons vertrek vir Richtersveld. 

Ek kyk die oggend in verwondering hoe Frikkie dit doen.  Dis amper soos daai storie van “In die woud is daar ‘n huisie, in die huisie is ‘n kamer, in die kamer is ‘n kas….” en so aan, totdat jy uiteindelik by die deel van die enjin kom waar die werk gedoen moet word.  Nou en dan gee ek vir Frikkie ‘n moersleutel of iets aan wat ek darem met die derde probeerslag (dalk) korrek identifiseer.  Nadat ons tuis gekom het, het ek besef dat die die syfers in voet-ponde vir Frikkie gegee het, in plaas van in Newton meter, met die gevolg dat die re-torque teen die verkeerde spanning geskied het (te lae wringkrag) en moes die werk oorgedoen word by die werktuigkundige wie aan die enjin gewerk het.

Later op die toer, iewers in die middel van die Richtersveld Nasionale Park, hou my bakkie se afstandbeheer op met werk.  Pieter het gelukkig ‘n vergete spaar stelletjie batterye wat amper pas, maar goed genoeg is om weer die bakkie aan die gang te kry. 

Terwyl ek staan en sweet, egter, het Frikkie klaar uitgewerk waar hy ‘n kortsluting met ‘n skroewedraaier gaan maak om die immobiliseerder te systap.  Plaas hy my sê hy het ‘n alternatiewe oplossing!

[Op foto:  Frikkie, Pieter, PG] 

Na ‘n baie lekker kuier in die Richtersveld verlaat ons ‘n paar dae later die Park deur die Helskloof hek.  By die hek kom Frikkie agter dat daar remolie uitlek by sy regteragterwiel.  Frikkie is nie te bekommerd nie.  Min dinge van ‘n meganiese aard maak hom bekommerd. 

Ons doen aan by Khubus.  Die dorp laat my baie aan Paternoster dink, dis net heelwat verder weg van die see af.  Voor Lekkersing draai ons af na Eksteensfontein. 

Ons doen aan by Eksteensfontein se sakekern.  Die dorpie is bietjie groter as Khubus.  Die kerk staan prominent netjies wit uit.  Daar is selfs ‘n video-winkel.  Geen brandstof nie. Hier kom Frikkie agter sy lekkende remolie is eintlik ewenaar-olie.  Nou vra ek jou, hoe het hy dit geweet?  Die kultivar getoets of iets?  Maar Frikkie is nie te bekommerd nie.

Hiervandaan ry Frikkie voor.  Die pad versleg algaande.  Dit is die tipe sinkplaat wat jy of glad nie moet ry nie, of 65km/h moet ry om ten minste net so elke 3de hobbel van die sinkplaat te vang, in plaas van elke sinkplaat.  Dit skuld verwoed.  Iets tok-e-tok erg onder Frikkie se bakkie.  Hy inspekteer en kom agter dit is sy uitlaatpyp wat losgekom het van die rubber wat dit vashou.  Hy sit dit terug.  Hy is nie te bekommerd nie.  Ons gaan deur die Helskloofpas.  Net voor ons die Helskloofpas verlaat hou Frikkie weer stil om te inspekteer, aangesien die tok-e-tok steeds daar is.  Hy wikkel bietjie aan sy wiele, maar niks is fout nie.  Hy is nie te bekommerd nie.

Ons is net deur die Helskloofpas, gelukkig op ‘n reguit en gelyk stuk pad, sien Frikkie in sy spieël sy regter agterwiel is besig om met die half-as en al uit te skuif.  Hy kry gestop voordat die wiel heeltemal uitval, maar redelik net-net, aangesien daar al ‘n voet of meer an die as uitsteek.  Ek weet nou nie of Frikkie eintlik bekommerd is nie, maar ek dink hy behoort nou al te wees.

 

Ons hergroepeer en besluit dat Pieter met die res van die toergroep sal gaan kamp maak by Peace of Paradise en dan sal terugkeer om te kom help met die wiel.  Ek bly by Frikkie en sy vrou.  Dit is so 5-uur se kant.  

Die bakkie word opgedomkrag en die wiel afgehaal.  Dit blyk dat die circlip afwesig is.  Die hele half-as (of is dit sommer net die halwe as?) het dwarsdeur die wiel-laer en nog ‘n verdere ring wat hom moet binne hou geforseer.  Die half-as se splines lyk of dit gesmelt het plek-plek.  Die gleuwe word bietjie beter gedokter met ‘n skroewedraaier, ‘n veiltjie en ‘n ystersaaglem.

Frikkie haal solank die agterste dryfas af.  Met behulp van Pieter (wie intussen na so 2 ure teruggekom het) se vuurstok wat van die gasbottel af werk word die wiel-laer eers warm gemaak en ingeslaan.  (Dit klink nou eenvoudig, maar toe het dit glad nie eenvoudig gelyk nie).  Daarna volg die verdere ring.  Nadat hy halfpad in is begin Frikkie sy bedenkinge kry of die ring ook daar moet ingeforseer word.  Na ‘n kort wik en weeg besluit hy dit moet daar in.  Maar nou is hierdie ring klaar op die as, en ‘n kort entjie weg van die laer, wat reeds in plek is.  Ons gooi remolie op die laer om die rubbergedeelte teen die vlam te beskerm, en maak die ring warm totdat Frikkie hom ingetimmer kry.

Nou ja, so gaan dit nou maar aan.  Later is ons daar waar die half-as weer teruggedruk moet word.  Die half-as word teruggedruk so ver hy wil gaan – wat nie baie ver is nie.   Dan maak ons beurte om dit met ‘n groot hamer te moe…ker tot hy amper in is.  Die laaste gedeelte word hy met die agterste boute vasgetrek totdat hy amper heeltemal in posisie is, maar nie heeltemal nie.  Die remme van hierdie wiel word onaktief gemaak en die wiel teruggesit.   Een wielbout het seergekry van die geslaan en kan nie ‘n moer vat nie.  Gelukkig is dit ‘n 6-bout wielvelling.

Maar nou is daar nie remme nie.  Die remvloeistof lek uit.  Die rempypie word verskeie male met ‘n hamer platgeslaan om te keer dat die remolie nie uitloop nie.  Uiteindelik, so teen half-nege donkeraand, is Frikkie se bakkie hinkepink op pad Peace of Paradise toe. 

My nood-driehoeke wat uitgesit is om die verkeer te waarsku het in amper 5 ure se tyd geen doel gedien nie.  Nie ‘n enkele voertuig is na enige kant toe op die pad verby nie.

Hierdie notas het ek agterna gemaak vir toekomstige verwysing, ingeval my wiel dalk eendag in die veld uitval.  Ek het egter intussen besluit dit gaan beter wees om maar liewer vir Frikkie in te sluit by enige toekomstige toere. 

Maar vir diegene van julle wat, soos Frikkie, sommer voor ontbyt ‘n motorenjin kan re-torque, hou bietjie in gedagte dat die nie-meganiese manne in die geselskap baie meer as julle stres oor hierdie tipe brekasies. 

Net om die toer af te rond, is Pieter op pad huis toe in die Piekenierskloofpas in ‘n kop-aan-kop botsing met ‘n voertuig wat meebring dat sy Hilux afgeskryf word, gelukkig sonder enige beserings.

 

PG Jonker

About

Your email is never shared.
Required fields are marked *